Nuwe pelgrimservaring: Natuurskoon, stap en sobremesa

’n Netwerk dagstappe rondom Clarens, geselsies met ’n verskeidenheid plaaslike inwoners en sakelui asook – in pelgrimstradisie – die eet en uitspan na ’n lang dag … Heléne Meissenheimer berig oor ’n nuutjie in die Oos-Vrystaat.


Daar was byna 60 jaar in ouderdomsverskil tussen die oudste en die jongste in die mengelmoes-groepie van 13 pelgrims wat onder ’n oorhangrots ’n bietjie skuiling teen donderbuie gesoek het op die eerste stapdag van die proeflopie van 7-11 November vir dié idee.

Die Basoeto’s vertel ’n mooi legende oor hoe Clarens se inwoners weet dit gaan reën. Hulle kyk of Setlofe – hulle naam vir berg Horeb, die hoogste piek wat oor die dorp troon – haar wolkmantel om het. Maandag, die eerste stapdag, het sy al deur die nag haar mantel styf omgewoel en wyd gegooi.

Daarom was die groepie stappers nie op ’n hoë kontoerpad op die oorspronklike bergroete soos wat ds Jan Venter, leraar van Clarens-gemeente, en sy projekspan oorspronklik so noukeurig uitgemerk het vir die eerste dag van die Clarens Hermitage of Toevlug nie. Die moontlikheid van donderweer en weerlig het dít te riskant gemaak.

Die projekspan het daarom besluit ’n korter stap op een van die 10 of 11 staproetes om die dorp is ’n veiliger keuse en dié oorhangrots, waar die groepie dankbaar kon wegval aan die roosterkoeke in hulle snoeppakkies, het net betyds opgeduik.

3-Clarens-dag-1-1
Die stapgroep geniet die welkome beskutting wat ’n oorhangrots teen die reën bied op die eerste stapdag.
3
Ds Jan Venter (derde van regs) gesels met die stapgroep. Hy is een van die dryfvere agter die idee vir só ’n pelgrimservaring in Clarens.

As die woord “hermitage” effe vreemd op die oor val is dit omdat dit ’n ou Engelse woord is wat onder meer op ’n tyd van doelbewuste geestelike afsondering kan dui, aldus Venter. “Ons het op hierdie naam besluit omdat ons voel die term ‘retraite’ is al so holrug gery,” het hy die vorige aand met die groep se eerste bymekaarkom in die kerksaal van die NG gemeente gesê.

Venter het die idee agter die Vrystaters se eiesoortige pelgrimsbelewenis só aan Kerkbode verduidelik: “Die hermitage is ’n storie wat al baie lank in my lewe kom van reg van die begin af in my bediening. My passie is om mense se lewenspotensiaal in Christus te laat blom en ek het nog altyd die belewenis gehad dat ons soos weeskinders buitekant ’n restaurantvenster staan en met ons hande teen die glas en ons neus teen die venster inkyk na ’n lewe wat ons hoop ons kan hê … so die hele gedagte van twee of drie, vier dae weg wees in die berg, tyd spandeer in stilte waar God ons in die stilte kan ontmoet het oor jare ontwikkel tot wat ons besig is om hier in Clarens te doen.

Venter (55) het Desember laasjaar met ’n lank gekoesterde idee vir só ’n tipe retraite in sy hart hier aangekom met die plan om die vinnige pas en druk van ’n mega-stadsgemeente te verruil vir ’n nuwe seisoen teen ’n rustiger pas in die skilderagtig mooie Oos-Vrystaat.

Met ’n besliste ja vanaf die Vrystaatse kerkleierskap vir só ’n projek in die sak, het Venter en ’n projekspan bestaande uit Vrystaatse leraars, plaaslike sakelui, ’n paar toergidse en ’n afgetrede teoloog vroeg vanjaar aan die werk gespring om van die idee ’n werklikheid te maak. Dit het ingesluit maande van verhoudings bou met privaat-grondeienaars en roetes in die veld ‘boendoe bash’.

Daar is ook op Zoom gesels met die Stellenbosse teoloog dr Frederick Marais wat ’n leidende rol gespeel het met die uitlê van die gevestigde Pelgrimstog van Hoop wat deesdae vanaf óf Robertson óf Stellenbosch (binnekort ook van Wellington en Kaappunt) tot by Kaap Agulhas gestap kan word. Die joernalis en skrywer Erns Grundling het verlede jaar met ’n dokumentêre TV-reeks getiteld Elders: Pelgrimstog van Hoop vir kykNET dié staproete aan ’n breë Afrikaanse publiek bekendgestel wat steeds te sien is op Showmax.

In Junie vanjaar het Marais en Grundling saam met ’n groep stappers sowat 240 km oor 10 dae vanaf Uniondale tot Mosselbaai op die Kaapse Suidkus gestap om ’n voorstel vir ’n nuwe been tot die Pelgrimstog van Hoop te beproef.

“Hy (Marais) meen wêreldwyd is daar ’n behoefte vir mense om stadiger te leef. Meer volhoubaar te leef. Meer nadenkend te leef. Dit is al hierdie soort goed wat in ’n pelgrimstog ingesluit word … ons koppel dit beslis aan geestelike verdieping,” skryf Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman in “Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek” (Kerkbode, 7 Julie 2021).

LEER MEER: Nuwe pelgrimsroete: Geloof, hoop en roosterkoek

Dit is diepgaande gedagtes wat weerklank vind in die belofte van “’n vier dae ervaring van diep stilword voor die Here, pelgrimstaptogte in die omgewing en heerlike belewenisse van plaaslike gasvryheid, kultuur, kuns, lekker eet en kuier,” soos die e-pos-uitnodiging lui wat die effe nat groepie stappers onder die oorhangrots ’n maand of so tevore gekry het.

Hoe gaan dié kombinasie van ’n pelgrimstap met ’n retraite werk? Die sleutelwoord hier is ‘pelgrim-dagstappe’ in plaas van gaan op een lang staptog oor etlike dae van ’n punt A na ’n punt B. Soggens na ’n kort oordenking rondom ’n koffie en beskuit in die kerksaal vertrek die stappers, vergesel van ’n plaaslike gids, op korterige dagstappe van tussen 11 en 13 km in die omgewing om Clarens. Die stappe is beplan om grotendeels teerpaaie te vermy en loop soms met toestemming van plaaseienaars oor privaat grond soos op Dag 2 om na die grot op berg Ararat te mag stap (nee, nie die een waar Noag se ark opgeëindig het nie – die eerste Afrikaanse intrekkers het net graag Bybels-geïnspireerde plekname soos hierdie uitgedeel).

Clarens-Ararat
Sandsteen gebergtes soos berg Ararat is ’n kenmerkende deel van dié deel van die Oos-Vrystaat.
Horeb
Daar word gereeld gestop soos hier waar ds Jan Venter op die eerste stapdag berg Horeb aan die groep uitwys.

Daar is tye wat die groep in stilte stap, maar daar is ook ruim tyd vir gesels en mekaar se stories luister. Stories vorm ’n belangrike deel van hierdie belewenis. Buiten stories uit Venter en van die projekspan se eie lewe, stop ’n mens dikwels by uitsigte of historiese bakens sodat die gidse ’n staaltjie of stukkie inligting kan deel uit die omgewing se storieryke erfenis.

In hierdie vrugbare vallei sypel die stories letterlik uit die grond. Daar steek ’n storie agter die rooi, room en swart ertslae wat miljoene jare terug gevorm is en in sommige van die omliggende rotsformasies soos die indrukwekkende Titanic-rots duidelik sigbaar is. Die rotsformasie is só genoem omdat iemand gedink het dat dit verbasend baie lyk soos ’n massiewe skip se boeg wat oor die pad uit die dorp na Betlehem waak.

Daar is nog Khoisan-rotstekeninge in grotte op sommige plase te sien en koeëldoppies uit die Anglo-Boere-oorlog word nog soms in die veld opgetel. Die letsels van hierdie oorlog, fisies sowel as psigies, hoor ’n mens al stappende, is op vele maniere vandag nog sigbaar. Hetsy aan ’n paar swart geskroeide dakbalke in ’n gerestoureerde ou plaasskuur van meer as ’n eeu oud of in ’n voortslepende teësinnigheid met ’n paar Afrikaanse families teen wie dit steeds gehou word dat van hulle voorsate met die Britse magte sou saamgewerk het.

Ja, stories is daar baie in dié dorp vernoem na die Switserse dorp waar Paul Kruger as staatspresident van die Transvaalse Boererepubliek sy laaste dae geslyt het. ’n Kopknik vanaf die stadsvaders vir die rol wat Kruger (toe ’n kommandant) in 1866 gespeel het in die verdryf van die Basoeto’s na hulle vyf boere ‘burghers’ vroeër in ’n verrassingsaanval gedood het.

’n Mens hoor ook dat Afrikaanse en Basoeto-nasate verskillend na dié geskiedenis kyk. Dit is deel van wat Clarens se hede meer kompleks maak. Hier bly by die 8 000 mense, die meerderheid van hulle in veel kleiner huisies as wat ’n mens kry in die sogenaamde ‘Bo-dorp’. Dog, as een van die plaaslike gidse Jabu Mokoena vertel hoe trots hy is op die veranderinge wat hy sien en beleef hier, dan flikker ’n sprankie hoop dat Mokoena se droom dat almal ongeag ras of status saam kan verenig dalk waar kan word.

5-Clarens-dag-2-1-Titanic
Die ikoniese Titanic-rots wat oor die pad uit Clarens na Betlehem troon is so genoem omdat iemand gedink het dit lyk soos die boeg van ’n groot skip.
6-Clarens-dag-2-2-2
Jabu Mokoena en Johannes du Plessis is twee plaaslike toergidse van Clarens wat by die Hermitage betrek is.

Die idee agter die deel van hierdie stories is dat ’n mens terwyl jy stap van jou eie ‘berge’ of probleme ’n bietjie vergeet, want dit kan gebeur dat jy deur na ander se stories te luister jy jou voete in jou eie storie vind, aldus Venter.

As die laaste stop op die stap ver van die dorp is, neem ’n plaaslike minibus met sitplek vir 14 die moeë siele terug na die kerksaal vir middagete. Hierna is ’n mens vry om die middag na eie behoefte in te klee met rus, joernaal hou of om die 25-plus restaurante, kunsgalerye en boetiek-brouerye om die dorpsplein te gaan verken. Die name van die genoemde vyf “burghers” staan op ’n wit gedenknaald in die middel van die plein.

Groot moeite is deur Venter en lede van sy projekspan gemaak om plaaslike inkoop by die projek van gastehuiseienaars, spyseniers en toergidse te kry. Karen van der Merwe, op die projekspan en plaaslike restauranteienaar, noem die pandemie het die toerismegedrewe ekonomie van die dorp verlede jaar ’n gevoelige slag toegedien. Hulle hoop is dat hierdie eiesoortige pelgrimservaring met sy Christelike inslag byval sal vind nie net by lewensmoeë geestelike leiers nie maar enigeen wat geestelik of psigies moeg en uitgebrand is, het Venter die eerste Sondagaand gesê. Soos met Pelgrimstog van Hoop beoog die Vrystaatse weergawe om vanaf volgende jaar ook rooi breërandhoede vir deelnemers uit te deel met moontlik ’n eiesoortige aanspeldknopie as memento.

7-Clarens-dag-2-8-3
Groot moeite is gedoen om plaaslike grondeienaars te betrek soos Danie Crowler van die plaas Node waarop berg Ararat geleë is. Hy vertel hier meer oor die kase wat hul op die plaas maak en verkoop uit ’n ou plaasskuur wat dateer uit die tyd van die Anglo-Boere-oorlog.
8-Clarens-dag-3-1
Karen van der Merwe gesels met Jaco Farrel, eienaar van die plaas Baris, in die pragtige eetbare tuin wat hy vir sy vrou Minda aangelê het. Dit bestaan uit 28 beddings wat in ’n perfekte driehoek uitgelê is.
12-Clarens-dag-3-8-2
Die groep kry ’n gul ontvangs by die Naudés van die historiese plaas Welgelegen.

Elke dag eindig weer in die kerksaal (wat oorspronklik die Paul Kruger-gedenksaal was … nog ’n storie) met ’n vroegaand sobremesa, die Spaanse tradisie vir rustig saamgesels na ’n lekker ete oor die belewenisse van die dag.

Ná die eerste Sondagaand se sobremesa, is die groep gevra om in stilte die enkele meters vanaf die kerksaal in die skemer tot by die 81-jarige sandsteen-kerkgebou te stap vir die bywoon van ’n gewyde stil diens. ’n Lid van die projekspan het voorgelees uit Dawid se Psalm 34 met as teks vers 8 (9): “Open your mouth and taste, open your eyes and see how good God is. Blessed are you who run to him” (MSG).

Daar is reeds ’n paar retraites op Clarens, daarom was dit vir hulle belangrik om die Clarens Hermitage as Christelik te onderskei met “Taste and See” ’n tipe slagspreuk vir “’n volle sintuiglike ervaring” wat dit bied, soos Venter dit later aan Kerkbode stel.

Elke dag se staproete is daarom uitgewerk om aan te sluit by een van drie simboliekryke Bybels-geïnspireerde temas: Berge, Toevlug en Water.

Die eerste tema is “Berg”, verwysend na om op ’n moeilike plek in jou lewe te wees.

Die tweede tema is “Toevlug”. In die kort oggendoordenking en gepaardgaande joernaalstuk word ’n mens bemoedig dat God nie afwesig is terwyl ’n mens op die bergervaring in jou lewe is nie. Hy is daar en nooi jou in om by Hom te skuil. Dalk ’n bietjie soos wat die stappers op die eerste dag onder die oorhangkrans skuiling gesoek het, is ’n gedagte wat by ’n mens opkom. Of soos die skuilplek wat die Khoisan, later die Basoeto en toe ook die boere-vroue, laasgenoemde teen die Britse soldate tydens die Boere-oorlog, gesoek het in die vele holkranse, soos dié sandsteenuithollings hier genoem word.

Met “Water” as derde tema, en dan water wat in berge ontspring, het die derde dag se stap ’n besoek aan ’n hidrokragstasie met die interessante naam “Stortemelk” in die nabygeleë Asrivier ingesluit. ’n Mooi oomblik was die ontmoeting langs die rivier met spanleier Jabulani Masombuka en lede van sy span. Hulle werk vir die Trans-Caledon Tunneling Authority wat verantwoordelik is vir die aanlê en instandhouding van die Lesotho Hooglandwaterprojek, waarby die Asrivier ingeskakel is. Tydens die bou van die skema is drie mense dood. Hulle name is verewig op ’n brons plaatjie wat te sien is aan die binnekant van ’n wit betonsirkel waar die loodsgroep ’n laaste groepfoto geneem het.

10-Clarens
’n Laaste groepfoto saam met die span van Jabulani Masombuka van die Trans-Caledon Tunneling Authority.
2-Clarens-Johannes
Die kerksaal waar elke dag begin en eindig - soggens met koffie en oordenking en saans met aandete en sobremesa. Foto: Johannes du Plessis

Só, werk die saamvoeg van só ’n mengelmoes van belewenisse om ’n stil en gewyde pelgrimservaring te bied? In die loodsgroep wás iemand wat gevoel het die eerste dag het te kort gegaan aan tye vir stil stap. Die volgende twee dae is meer sulke tye doelbewus ingewerk. Op ’n besoek aan een van die gebied se spogplase het die armoedige modderhuisies van vermoedelik die plaaswerkers weer vir ’n paar ander ietwat ontstem.

Maar, soos iemand oor die swarigheid meegebring deur die pandemie opgemerk het, die vreugdes oorskadu by verre die nie-vreugdes ook oor hierdie vier dae.

Soos een van die Vrystaatse leraars wat saam gestap het, gesê het vir hom was die beste deel die gevoel dat hy net kon wees en stap, ver stap sodat hy voel asof hy uit die stres van die laaste ruk in sy lewe uit stap.

Daar is uiteindelik ’n veelheid van ervarings wat ’n mens bybly na vier dae in ’n omgewing wat met goeie rede bekend staan as die “Juweel van die Vrystaat”. Dit sluit gewone mikro-interaksies in. Waar iemand ’n hand uitreik om ’n ander oor ’n gladde rots te help, ’n oor wat onbevange na jou storie luister, die grappies onder mekaar en met mekaar. Vir stadsjapies die belewenis van ’n rustige dorpslewe soos ’n mens raarliks vandag nog in ons wye droewe land vind. Die nagstilte wat net deur ’n Piet-my-vrou en ’n paar hoenderhane onderbreek word.

Op ’n manier het al drie tema’s al die eerste oggend daar onder die holkrans bymekaar gekom. Daar was tydelike skuiling onder die rots, maar toe die reën aanhou kon die groepie nie daar bly nie, maar moes, gepantser met wapperende poncho’s en reënbaadjies, die skuilte verlaat maar met die gerustellende wete dat iemand wel vir jou sal uitkyk en ’n helpende hand uitreik as jy nie meer weet hoe verder nie … net soos God dáár is.

Word 'n vriend van Kerkbode