Die piramide-agtige stapel bo-op die bergrand vang die oog van die groep moeë en warm stappers kilometers voor hulle een-een of twee-twee indraai by Portugalsrivier, die plaas van Elias en Elsje Basson, sowat 35 km buite Sutherland in die Roggeveld.
Dit is die tweede stapdag vir die groep van 19 stappers op die eerste amptelike Stargazing Camino, ’n nuwe 108 km-staproete vanaf Sutherland in die Noord-Kaap op grondpaaie verby skaapplase en af met Rammelkoppas na die geelgrasvlaktes van die Koup, soos mense hierdie deel van die Karoo by Merweville in die Wes-Kaap noem.
Die vorige aand oor ’n bord gebraaide snoek en patats het Elsje vertel hoe sy elke keer as sy op die bergrand gaan bid, wat hulle gesin sommer Mammaberg noem, ’n klip saamvat en op die stapel neersit – daar is al 9 141 klippe in die piramide wat drie keer haar lengte is. Sy weet, want sy het rekord gehou.
Die klipstapelstorie is een van vele wat die groep hoor oor die groot rol wat geloof in hierdie twee mense se lewe speel. Soos ook die ‘ge-loof-like’, soos Elsje dit noem, uitkoms wat ’n boer in Caledon hulle gebied het toe daar regtig net niks op hulle plaas oor was om hulle vee mee te voer nie dat hulle skape op sy geoeste lusernlande kon kom wei. Die Bassons ag hulleself gelukkig om na die droogte nog helfte van hulle skaaptrop oor te hê. Daar is boere met wie dit veel slegter gaan – wat met skaars 50 skape weer van voor moet begin, maar al hulle spaargeld, polisse en reserwes is op.

Goeie reëns het sedert Oktober uitgesak oor hierdie gebied, wat in agt jaar soms so min as 67 mm reënval per jaar gehad het, so vir hierdie genadewater is almal hier innig dankbaar, verseker ds Herman Burger van die NG gemeente Merweville die groep Saterdagaand met hulle aankoms, maar voeg by dit gaan lank vat vir die landbougedrewe streek om ekonomies weer op sy voete te kom. Hy verduidelik: “Die ding wat baie mense nie verstaan nie, is as dit gereën het beteken dit nie die einde van die boer se probleme nie. Baie keer het hy dan erger probleme, want enigeen vir wie hy geld skuld reken dan moet hy begin betaal.”
Buiten die finansiële knou, moet vele boere en hul gesinne ook die emosionele trauma verwerk van hoor en sien hoe hul skaaptroppe blêr vir water en voer, maar hulle kon niks daaraan doen nie, hoor die groep later by van die plaaslike boere op wie se plase hul kampeer op die stap.
Die droogte het ook bygedra dat al meer inwoners wegtrek uit Karoodorpe soos Merweville se middedorp – die dorpie bekendgemaak deur die kykNET-reeks “Die Boekklub”. Heelwat van die mooi versorgde dorpshuise is deur stedelinge opgekoop as ’n wegbreekplekkie. So het die lidmaattal in die NG gemeente al minder geraak. Waar Burger met sy aankoms 12 jaar terug sowat 280 lidmate gehad het, is daar nou 110 oor. “Dis maar die ding hier, ons raak al minder en minder,” sê die 62-jarige leraar wat tans net 60% van sy salarispakket ontvang.
Sondae vul die 68 kinders van Laerskool Merweville se skoolkoshuis die voorste banke van die dolomietklip-kerkgebou van meer as ’n eeu oud met dalk tussen 20 en 40 lidmate by. Die kinders is vanaf die Kaap hier op skool geplaas om die laerskool se deure te help oophou. Op Sutherland hou die NG en AGS gemeentes gesamentlike dienste en selfs dan daag maar sowat 30 mense op, vertel die AGS-pastoor Darius van der Merwe, wat die groep Sondagmiddag op ’n toer vat van die dorp se storieryke 19e eeuse NG kerkgebou met sitplek vir oor ’n 1 000.


Waar Merweville en Sutherland se hoofstrate byna grafstil is, woel dit in die “Skemas” waar meer as 90% van die dorpe se inwoners bly. Kinders, honde en mense is oral op straat te sien met Kerkbode se besoek aan die VGK-kerk op Merwewille se geestelike versorger, ouderling Petrus Oliphant. Hulle gemeente kan al jare lank nie ’n eie leraar bekostig nie en hulle konsolent, die VGK-leraar op Beaufort-Wes, kom maar drie keer per jaar by hulle uit. Merweville se NG en VGK gemeente dra gesamentlik tot Oliphant se klein maandelikse vergoeding by.
Die landboubedryf is die grootste werkgewer in hierdie gebied. Oliphant vertel die droogte se impak in sy gemeenskap is gevoel met werk wat al skaarser op plase geraak het soos die droogte voortgesleep het. Na die reëns lyk dinge ’n bietjie beter. Nog ’n bekommernis is dat die twee dorpskole net tot graad 9 gaan en dit ouers duisende rande per jaar aan vervoer kos om hulle kinders op die twee naaste buurdorpe Beaufort-Wes of Prins Albert te laat verder leer. Van die kinders los skool en drentel dan op straat rond, want werksgeleenthede is skaars op die dorpie met net enkele gastehuise, een kafee, algemene handelaar en ’n vulstasie.
Burger is ook voorsitter van die Ring van Beaufort en het verlede jaar, kort voor dit begin reën het, om hulp aangeklop by ds Nioma Venter, predikant in sinodale diens (PSD) by Diaconia, die gesamentlike deernisbediening van die NG Kerk en VGK in die Wes-Kaap. Drie hulpaksies het gevolg: Die eerste was veevoerskenkings uit die Ring van Ceres en Swellendam na Merweville vanwaar dit versprei is; tweedens is ’n bestelling vir 1,2 ton koekies voor Desember gebak deur ’n groep vroue van Sutherland vir hulle Save-the-Sheep droogtehulpprojek en nou die ekumeniese Caminostap gereël deur Diaconia.
Vir Venter is dit belangrik “dat die kerk nie net met fisiese behoeftes help nie maar juis nou, in die herstel en opboufase, dat die kerk met volhardende uitreik en teenwoordigheid by mense moet uitkom en moeite gedoen word om mense se veerkragtigheid te versterk”.
Lees meer hieroor in: As die kerk nie pastoraal uitreik ná die droogte nie, wie sal?
Die Stargazing Camino-staptog* is die geesteskind van Kallie le Roux, ’n afgetrede NG dominee wat die gastehuis Springbok Lodge op sy grootworddorp, Merweville besit. Verlede Mei het hy en sy seun Marius gehoor Elsje is ’n ervare stapper wat al enduro-staptoere in die Moordenaarskaroo gelei het en haar gevoel gaan pols om by ’n Camino-staptog betrokke te raak. Sy het dadelik ingestem, nog rolspelers is betrek, ’n roete is uitgelê en getoets, en nou ry sy en Le Roux met bakkies die eerste amptelike stapgroep se tente en trommels aan.





Le Roux vertel sy oogmerk met die Camino is om meer toeriste na die streek te bring en daardeur geleenthede vir werk en inkomste vir plaaslike inwoners te skep.
Met hierdie eerste amptelike Camino-stap was daar egter ook ’n meerledige doel. Venter verduidelik Diaconia se deelname daaraan gaan ten eerste oor bewusmaking, om die land te herinner aan die gemeenskappe in die Ring van Beaufort, ’n landboustreek “waar die knellende impak van die droogte ’n uitkringende effek op die omliggende gemeenskappe het”.
Tweedens gaan dit dan, soos genoem, om die mense van hierdie streek te laat ervaar die kerk se geloofsgemeenskap vat hulle aan die hand op die lang pad na heropbou en herstel – wat Venter ervaar het wel met hierdie stap begin gebeur het. “Ons is oortuig daarvan dat die week wat ons op die grondpad tussen Sutherland en Merweville spandeer het, alreeds ’n boodskap van meelewing in die Ring van Beaufort uitstuur. Ons het ervaar dat diegene met wie ons in aanraking was en wie se verhale ons na kon luister, nie net ons hart aangeraak het nie, maar dat hulle ook deur ons teenwoordigheid bemoedig is,” sê die oud-maatskaplike werker wat blase op die voete ten spyt ook die staptog voltooi het.
Sover is nog net R100 000 van die stapprojek se fondsinsamelingsdoelwit van R600 000 ingesamel – geld wat aan die sewe gemeenskappe in die Ring van Beaufort versprei sal word, naamlik Merweville, Beaufort-Wes, Prins Albert, Leeugamka, Victoria-Wes, Richmond en Fraserburg. Mense kan bydraes tot einde April aan die Droogtehulpfonds van Diaconia maak.
Dit was vir die groep van stappers, waarvan 17 vroue met meer as die helfte ouer as 50, asof die natuur saamgespeel het dat hulle eerstehands die brose oorlewingstryd, wat mense in hierdie harde omgewing het, kon ervaar. Die weer het geleidelik deur die week opgebou na ’n paar harde donderstorms wat met emmersvol reën teen Vrydagaand uitgesak het – na agt jaar van droogte steeds so ’n welkome gesig dat Herman se vrou Priscilla uithardloop om gesig opgehef met oop arms onder die druppels te staan.


Net om Saterdagoggend, op die laaste dag van die Camino, ’n massiewe sprinkaanswerm binne te stap van kilometers wyd – die ongelukkige opvolg op goeie reëns in hierdie geweste. Sedert Oktober se goeie reënval word die Noord-Kaap geplaag deur wat as die ergste sprinkaanplaag in dekades beskryf word. Al word plaagdoder gespuit, waai die wind van die swerms suid soos hierdie een wat vir meer as twee ure oor en deur Merweville getrek het. Waar die sprinkane gaan sit het, vreet hulle alles af.
Alles belewenisse wat diep in ’n mens se binneste gaan sit, soos ook die stilte en wye oop ruimtes, die verfrissing van ’n yskoue plaasdam en die gasvrye ontvangs met tuisgemaakte kookkos, konfyt en brood elke aand deur mense wat agt jaar se droogte deurleef het.
Op die laaste aand van die stap, lees van die stappers hulle eie psalms voor wat hulle geskryf het. Een skryf:
“Here, ek stap alleen en ek stap saam met U
Maak asseblief my kop skoon
En vul dit met u liefde en u gedagtes
Laat my onthou en laat my vergeet
Here, ek stap en worstel om vrede te vind
Ek stap hierdie pad om ruimte te hê
En om naby my God en medestappers te wees
Ek anker myself in u teenwoordigheid
Terwyl ek oor die toekoms droom
U son skyn op my gesig
En u reën val op my lyf
Ek loop in stilte
En ek sing ‘Halleluja, loof die Here!’
- Dit kos R5 900 om op die Stargazing Camino te gaan. Jy stap net met ‘n dagsak – jou tent, trommel en beddegoed word aangery. Gemiddelde afstand is sowat 17km per dag. Die volgende staptog is van 26 Maart tot 3 April. Bespreek by Kallie le Roux by 083 255 6931 of epos kallieleroux@yahoo.com.
- Hierdie berig is na publikasie aangepas. Red.