Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Daar is ook ’n groter prentjie agter hierdie skryf “bootcamp” as die blote skep van vars leesbare inhoud vir Kerkbode hoor deelnemers aan die Slypskool vir skrywers wat hierdie week vir die tweede keer gesamentlik deur die NG Kerk se Taakspan Navorsing en Kerkbode aangebied word. Hou Kerkbode se webblad dop vir meer. Foto: Le Roux Schoeman

#slypskool2022: ‘Help ons om mensestories van data te maak,’ hoor deelnemers

“Ons het regtig ’n groot behoefte om te kommunikeer … daar is ’n verskriklike klomp inligting beskikbaar, die uitdaging is om dit in die (kerklike) sisteem vertel te kry.” Só sê prof Kobus Schoeman, een van die viermanskap wat dien op die NG Kerk se Taakspan Navorsing.

Hy is saam met mede-spanlede, dr Cobus van Wyngaard, dr Pieter van der Walt en dr Lourens Bosman, aan die woord tydens die slypskool vir skrywers wat dié taakspan vanjaar vir die tweede keer gesamentlik met Kerkbode aanbied by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington.

Kerkbode weer het ’n lesersmark en soek stories. Dit is uit hierdie besef wat ons gesien het ons kan saamwerk,” verduidelik Kerkbode se redakteur, Le Roux Schoeman, die agtergrond tot hierdie inisiatief waarvoor  sowat 12 dominees vanaf 10 Augustus hulle kalenders vir drie dae skoongemaak het.

Die taakspan, wat bande het met drie universiteite, se taak behels die insamel van kwantitatiewe en kwalitatiewe data wat “in belang van die kerk en gemeentes” gebruik kan word, aldus Schoeman namens die Taakspan.

Dit is ’n seleksie van die jongste data-resultate vanuit verskeie onlangse kerklike opnames wat hierdie spanlede tydens die eerste dag van die slypskool voor hierdie groep ontluikende inhoudskeppers sit met die opdrag om iets raak te sien wat by hulle ‘click’. Dié punt van belangstelling moet hulle dan binne die volgende dag en ’n half kan omskep in ’n skryfstuk wat kan werk as ’n artikel vir Kerkbode of ’n navorsingsverslag wat in die “kerklike sisteem” gebruik kan word.

Die geldende riglyn is om skryfwerk te lewer wat vars, aktueel en toeganklik is, soos uitgestippel deur Schoeman. Dus stories waarop iemand aanlyn sal wil ‘klik’ om dit te lees.

Dit is ’n taak waaraan die deelnemers ywerig begin werk in die rustige atmosfeer van sagte Bolandse winterreën, kapeldienste en ’n aankondiging dat Eskom se Vlak 2-beurtkragskedule weer kan inskop.

Vanjaar is die meeste van die deelnemers jonger as 40 en Kapenaars, met ’n paar Vrystaters en ’n Namibiese dominee tussenin. Foto: Robert Cable
Dr Lourens Bosman (regs) gesels met dr Frederick Marais, voorsitter van die NG Kerk se Algemene Kuratorium wat ook die slypskool bygewoon het.

Soos verlede jaar, kom hulle van wyd oor die land. Vanjaar is die meeste van die deelnemers jonger as 40 en Kapenaars, met ’n paar Vrystaters en ’n Namibiese dominee tussenin. Tussen hulle lê gedeelde ervaring van gemeentelewe op klein én groter gemeentes, platteland én stad.

Die data-arsenaal waarin vir stories gedelf kan word kom uit onlangse navorsingsresultate wat opgelewer is deur die drie maniere wat die taakspan inspan om agter te kom wat in die kerklike omgewing van die NG Kerk aan die gebeur is:

· Kerkspieël – ’n Opname oor demografie en bedieningspatrone wat elke vier jaar by al die NG Kerk se gemeentes gedoen word.

· National Church Life Survey (NCLS) se erediensgangervraelys – ’n Opname van erediensgangers se belewenis van die gemeente waar hulle inskakel.

· Predikantepaneel – ’n Tweejaarlikse opname onder 20% (was eers 10%) van predikante in die NG Kerk oor hulle beleweniservaring van hulle gemeente en die NG Kerk in die breë.

’n Radikale skuif

Daar is ook ’n groter prentjie agter hierdie skryf “bootcamp” as die blote skep van vars leesbare inhoud vir Kerkbode, hoor deelnemers. “Ons het ’n dringende behoefte in die NG Kerk aan local knowledge … daarom het ons julle genooi om ons te help,” aldus Bosman, wat ook algemene bestuurder by die Algemene Sinode is.

Van Wyngaard het vooraf verduidelik dat die kerk in die verlede na die Noorde (Europa) en die Weste (Amerika) gekyk het vir leiding in kerklike sake. ’n Radikale skuif het sedertdien plaasgevind na ’n fokus wat eerder kyk na wat geleer kan word uit wat by plaaslike gemeentes gebeur en daaruit ’n navorsingsmodel te bou toepaslik vir kerkwees in Suider-Afrika.

“Dit bied ’n lekker manier om seker te maak dat navorsing nie net ’n boek word wat op die rak staan nie … maar deel word van ’n navorsingspiraal wat deur die kerk werk,” voeg Van der Walt by.

Dit is midde-in hierdie gesprek dat Bosman die hoop uitspreek dat “mensestories” uit die kerklike data na vore sal kom.

Lees ook: Die Amalia-geval en die lot van krimpende gemeentes in die NG Kerk

  • Hou Kerkbode dop vir skryfstukke deur deelnemers aan vanjaar se slypskool vir skrywers.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top