Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerkspieël: Neem deel en word gehoor

Elke vier jaar vul honderde gemeentes die Kerkspieël-opname in. Dit is nou weer sulke tyd. Kerkspieël is die grootste opname wat in die NG Kerk gedoen word en verskaf belangrike inligting oor hoe dit met die kerk gaan en hoe die bediening lyk.

Vanjaar se opname is besonder belangrik omdat dit ná die Covid-19-inperkings van 2020-22 plaasvind. ’n Vergelyking van vanjaar se syfers met dié van 2018 sal ’n prentjie gee van die impak van Covid-19 op die kerk.

LEES OOK: Deelname verryk data

Die grootste waarde van Kerkspieël lê egter in die prentjie wat oor jare ontvou. Omdat die opname al vir soveel jare gedoen word, gee dit ’n beeld van die groter tendense in die bedieningspatrone en getalle van die kerk. Uit hierdie tendense kan die kerk se leierskap beplanning doen sodat die NG Kerk volhoubaar kan voortbestaan en dien.

Kerkspieël is die eerste keer in 1981 as ’n kerksensus gedoen en vanjaar vind dit vir die 12de keer plaas. Dit is deel van ’n groter program van navorsing wat deur die Taakspan Navorsing onder leiding van proff Kobus Schoeman en Cobus van Wyngaard gedoen word. Kerkspieël is egter die enigste bron waar omvattende data oor die stand van die werkkragte, finansies, erediensbywoning, ouderdomsprofiel en bedieninge van gemeentes verkry kan word.

Dit is daarom uiters belangrik dat alle gemeentes die opname sal voltooi. ’n Gemeente mag dalk dink hulle inligting verdwyn in die groot poel data van meer as ’n duisend gemeentes. Onthou egter dat die streeksinodes ook hierdie inligting gebruik en vir hulle is elke gemeente se data belangrik.

Elke gemeente kry ’n unieke skakel na hulle eie aanlyn vorm. Die skakels word hierdie week uitgestuur. ’n PDF en/of Word-weergawe is op die webwerf (https://kerkspieel.co.za/) beskikbaar sodat gemeentes vooraf al die inligting kan versamel en waarná die aanlyn weergawe voltooi moet word. Dit beteken dat verskillende persone in die gemeente kan saamwerk om die toepaslike inligting vooraf te versamel.

Die vorm is só ontwerp dat dit aanlyn gedoen moet word. Kerkkantore wat nie oor internet beskik nie, moet asseblief ’n ander lidmaat (met internet) vra om die aanlyn vorm te voltooi aan die hand van die inligting wat die kerkkantoor vooraf ingesamel het.

  • Skakel Ester Steyn gerus vir enige ander navrae in verband met die invul van die vorm by kerkspieel@ngkerk.org.za of 082 325 4088.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top