Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dominee gesoek: Superheld of brose verteenwoordiger van Christus?

Daar word dikwels tong-in-die-kies gepraat van gemeentes wie se vakatures só geskryf word dat ’n mens die indruk kry dat hulle min of meer Jesus self wil beroep. Marileen Steyn kyk hoe posomskrywings soos dié van NG Agter-Paarl ’n mens egter hoop kan gee dat daar anders oor die rol van die predikant gedink kan word.

Só lees die “gemiddelde” vakature (werk-advertensie) as ’n mens op Kerkbode se vakatures-afdeling kyk na die wyse waarop gemeentes nuwe poste adverteer: Hy of sy moet verkieslik goed (en natuurlik Skrifgetrou) kan preek; hulle moet goeie leierskaps- en bestuursvaardighede hê, toegelê in pastoraat wees, met beide jonk en oud kan werk, tegnologies vaardig wees en verkieslik ’n uitgaande en spontane persoonlikheid hê (lees: ’n ekstrovert).

Vakatures is Kerkbode se mees gelese afdeling. Hiér kry gemeentes die geleentheid om te sê wat hulle in ’n predikant soek. Die resultaat kan ook ontmoedigend wees … Kan een persoon werklik álles wees?

Lees ook: ‘Dominees werk mos net een dag per week!’

Die onderliggende kwessie ter sprake is ’n gemeente se beeld van die rol van ’n predikant. Is die predikant bestuurder én prediker, pastor én projekbestuurder, teoloog én maatskaplike werker?

In 2021 het kerklike navorsers aan ’n predikantepaneel gevra tot watter mate hulle met sekere rolle van die predikant identifiseer. Die meerderheid het aangedui dat hulle wel hulleself as verteenwoordigers van Christus in die liturgiese ruimte, as werknemers in diens van die gemeente en as teoloë wat die lidmate moet leer en vorm, sien.

’n Mens sou kon vra watter rolle van die predikant nie in die data teenwoordig is nie? Toe jong predikante in 2019 gevra is wat hulle in die bediening moet doen waarvoor hulle nie opgelei is nie, het die meerderheid oor leierskap en pastoraat gepraat. In hierdie data lê die leidraad dat predikante hulleself ook as leiers, bestuurders, pastors en traumaberaders sien.

Die rolle van ’n predikant is dus veelvuldig, uniek tot spesifieke kontekste.

Lees ook: Wie verdrink in al die golwe wat kerkstryd maak?

Die een rol van die predikant waarmee 100% van die predikante in 2021 tot ’n meerdere en mindere mate saamgestem het, was die predikant as verteenwoordiger van Christus in die wêreld.

Terwyl dit telkens lyk of gemeentes perfekte verteenwoordigers soek wat in elke faset van die bediening kan uitblink, is daar gemeentes wat anders begin dink. Gemeentes soos NG Agter-Paarl se onlangse vakature, as voorbeeld, spreek van ’n meer eenvoudige, dog genuanseerde beeld van die predikant wat fokus op die predikant as brose bedienaar en verteenwoordiger van Christus in die wêreld.

Hulle vakature lees onder andere as volg:

  • “Ons wil jou nie beperk tot Kerkorde Artikel 9 se pligstaat nie. Ons nooi jou om op jou unieke wyse ons verder te help om God se vreugde oor sy gemeente te vermeerder.”
  • “Ons is nie so geïnteresseerd in wat jy kan doen of ons laat doen nie. Ons is meer geïnteresseerd in wie jy is en hoe jy ons kan help om te wees.”
  • “Ons wil hê ons leraar moet van binne na buite leef. Ons soek geloofwaardigheid. Ons soek nie ’n volmaakte mens nie, maar ’n eerlike mens wat ook, soos ons, broos en weerloos kan wees.”

NG Agter-Paarl se benadering staan in kontras teenoor die standaard. Dit is dan geen wonder dat hierdie gemeente se vakature die oog gevang het nie. En dat dit – selfs in die konteks van die gewilde Vakatures-afdeling, van die mees gelese plasings was nie. Sedert die vakature in Junie 2022 gepubliseer is, is dit meer as 1 200 keer besigtig (Die aansoekdatum vir die pos is intussen verby).

“Ons het besluit om te kyk wat die Here vir ons gee en hoe die Here ons verras,” vertel Pieter-Hendrik Greyling, verteenwoordiger van die leierskap van NG Agter-Paarl. Daarom het die gemeente nie vooraf ’n profiel opgestel van wat die gemeente na soek nie, maar eerder ’n wye reeks persone in ag geneem. Vandaar werk die gemeente dan rondom die beroepene se sterk- en swakpunte.

Lees ook: Dana Snyman | Die blik wat ’n bakkie bied

In hulle identiteitsdokument wat op hulle webwerf (https://www.ngkagterpaarl.com/oor-ons) beskikbaar is, skryf hulle oor die predikant: “Die dominee bedien ons met ’n passievolle hart en daarna bedien hy/sy die wêreld namens ons.”

Ds Johannes Nortier, wat tot einde Augustus predikant by NG Agter-Paarl was, glo dat ’n dominee beroep word om te modelleer wat dit beteken om ’n Christen te wees. Dit beteken nie dat die gemeente nie ook geroep word om verteenwoordigers te wees nie, maar wel dat die dominee nie net die gemeente moet bedien nie. “Die predikant word geroep en dan weer in die wêreld ingestuur,” verduidelik hy.

Hierdie beeld van die rol van die predikant is vir Nortier deel van ’n missionale ingesteldheid wat die gestuurdheid van die kerk ernstig opneem. Dit gaan nie oor iemand wat alles kan doen nie, maar wat die hartklop van die gemeente deel. Greyling verduidelik dat dit die rede is waarom hulle gemeente eerder na karakter as vaardighede, na being eerder as doing gekyk het.

Die gemeente beroep tans ’n predikant. Hulle benadering sit egter ’n belangrike vraag op die tafel: Sal gemeentes meer baat by ’n predikant wat elke moontlike rol kan vervul of meer baat by ’n brose verteenwoordiger van Christus in die wêreld?


Prop Marileen Steyn is besig met doktorale studie in die Praktiese Teologie.

Steyn het hierdie storie geskryf tydens die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap) in samewerking met Kerkbode.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dominee gesoek: Superheld of brose verteenwoordiger van Christus?”

  1. Francois Deyzel

    Ek moet hier n paar vrae skryf oor wat by my opgekom het nadat ek hierdie brief gelees het.
    Is daar nie dalk by die meeste kerkrade n wanbegrip oor wie die leier/bestuurder van die gemeente moet wees nie? Funksioneer die NGK dan nie volgens die Presbiteriale stelsel waar die kerkraad self die bestuurder van die gemeente asook die opsigter en werkgewer van die predikant is nie? Is die meeste kerkrade dan só onkundig en voornemende predikante onder n wanindruk oor hulle rolle?

Comments are closed.

Scroll to Top