Dr Leon Venter praat* oor leierskap in gemeentes en sy tesis getiteld “Leadership: a transformative dance”.
Hierdie frase word baie keer spottend rondgegooi, maar as jy vir die lidmate moes vra, waarmee presies hou jou dominee hom-/haarself besig die ander dae van die week, dan is daar net vae antwoorde oor huisbesoek, ’n begrafnis en Maandagaand se kerkraadsvergadering … o ja, en daardie skoolopening.
Dit beteken nie predikante doen niks nie. Glad nie! Die werk van ’n predikant is net baie meer kompleks en kan nie noodwendig in ’n netjiese pligtestaat vasgevang word nie. Dr Leon Venter skryf oor die rol van predikante in gemeentes in sy tesis met die titel: “Leadership: a transformative dance – Practice-oriented research to develop a framework of transformative leadership competencies for pastors in the Dutch Reformed Church in South Africa”. Doret Niemandt vind meer uit.

Venter se eie bediening (en studies) fokus op die ontwikkeling van predikante wat gemeentes kan lei. Hy vertel dat baie jong predikante in gemeentes juis ervaar dat hulle, na jarelange studies en opleiding, steeds nie toegerus is om leiers te wees nie. Venter beskryf die probleem as die verskil tussen ’n ‘map’ en die ‘territory’. Dit is een ding om die kaart in ’n veilige omgewing te bestudeer, maar dit is heeltemal anders om daar in die wildernis te wees en dan jou weg te moet vind. Daar is ’n wesenlike verskil tussen wat jy in daardie lesinglokaal leer en die werk wat jy dan in ’n gemeente moet gaan doen. Venter se bediening fokus op ’n moontlike raamwerk van vaardighede om leiers vir gemeentes te ontwikkel.
Lees ook: Drie dinge wat jy moet weet voor jy trou (of herontdek na 30 jaar)
Preek, Sondagskool, huisbesoek en pastoraat – dit is maar een deel van ’n predikant se werk. In die sekulêre wêreld waarin ons onsself bevind word geloof en godsdiens al hoe meer opsy geskuif en dit is in hierdie wêreld wat daar van predikante verwag word om hulle gemeentes in die toekoms in te skuif. Dit vra na leierskap.
Gemeentes moet kan groei en verander. En om ’n leier te wees van hierdie groei en verandering is nie maklik nie. Nie almal wil dit doen nie, sê Venter, nie almal wil leiers wees nie, want dit beteken dat jy jou nek moet uitsteek. Om so ’n leier te wees beteken om op ’n reis van eksplorasie te gaan … en om self te groei en te verander, jou hele lewe lank. Dit is nie net nuwe kennis, ’n ekstra kursus nie, jou menswees word uitgedaag. Jy kan nie eindig soos jy begin het nie, sê Venter.
Hoe lyk ’n predikant dan wat ’n gemeente in ’n proses van groei en verandering kan lei? Wel, Venter beskryf vyf belangrike vaardighede:
- Spiritualiteit – Dit gaan nie oor die sogenaamde geestelike deel van jou lewe nie, dit is ook nie ’n stel geloofswaardes nie, dit gaan eerder oor ’n bepaalde leefwyse. ’n Predikant moet ’n lewe van emosionele volwassenheid, wysheid en ’n koninkrykshouding modelleer.
2. ‘Sensemaking’ – Dit gaan daaroor om sin te maak uit die lewe. Predikante help om die konneksie te maak tussen dit wat in die Bybel op jou bedkassie staan en dit wat in jou lewe aangaan. Dit is om saam die kaart van die lewe te bestudeer en vas te stel waar ons nou is.
3. Verhoudinge – Dit gaan oor netwerke en samewerking. Predikante doen dit nie alleen nie, groei en verandering vind altyd saam met ander plaas wanneer daar na mekaar en na God geluister word.
4. Visie – Dit gaan daaroor om ’n prentjie vir die toekoms te sien en te skep. Dit is om saam die kaart van die toekoms op te trek, ’n prentjie van hoe dit kan wees. Om saam te onderskei waarnatoe God ons uitnooi.
5. Implementering – Dit gaan daaroor om nuwe maniere te vind om dinge te doen. Om met ’n gesonde leefstyl (spiritualiteit), ’n kaart van die hede (‘sensemaking’) en ’n kaart van die toekoms (visie) saam met ander (verhoudinge) te gebruik.
Venter beskryf hierdie leierskap in die titel van sy tesis as ’n transformerende dans. Dit is ’n dans saam met God, ’n dans saam met ander en ’n dans wat jou nie onveranderd gaan laat nie.
“Those who have led their organisations into new ways of organizing often say that the most important change was what occurred in themselves. Nothing would have changed in their organizations if they hadn’t changed” (Margaret Wheatley).
En jy word ook genooi om saam te dans – ongeag of jy die predikant of priester, koster of katkisant, orrelis of ouderling is.
- Dr Leon Venter is predikant by die NG Gemeente Graafwater en ’n voormalige uitvoerende hoof van Bybel-Media, Kerkbode se uitgewer.
- Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
- *Hierdie skrywe word aangebied as deel van die So What-reeks, in samewerking met en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
