Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Die lewe gebeur, en dit is dan julle waardes, nie daardie vyfjaarplan nie, wat gaan help met julle verhouding se ideale toekomsprentjie,’ hoor dr Doret Niemandt by dr Pieter Visser tydens hul gesprek oor waarom dit vir paartjies belangrik is om te gesels oor hulle toekoms. Foto: Rawpixel

Drie dinge wat jy moet weet voor jy trou (of herontdek na 30 jaar)

Verlief en verlore word die ja-woord gevra, die familie word gebel en vertel, jou Facebook word ge-update met ’n foto van die ring … en dan begin die groot beplanning vir daardie groot dag. Dit is vir my altyd interessant dat daar so baie tyd, energie en geld in hierdie enkele dag ingaan en soms so min gedink word aan al die dae daarna. Dr Pieter Visser skryf in sy tesis, “Work-family balance in narrative premarital counselling: A postfoundational practical theological approach”, oor hoe belangrik dit vir paartjies is om te gesels oor hulle toekoms.

Visser het ’n kreatiewe storiekaart ontwikkel wat paartjies help om waardes vir hulle verhouding te identifiseer – waardes om hulle toekoms saam te beplan. Dit gebeur so dikwels dat paartjies nie hierdie belangrike gesprekke voer voor die troudatum aanbreek nie, sê Visser. Dit is nou nie net die gesprekke oor wie aan watter kant van die bed gaan slaap nie, maar eerder oor watter waardes hulle gaan help om belangrike besluite te neem en die verhouding gaan vorentoe vat.

Dr Pieter Visser

Visser meen dat die gebruik van ’n metafoor (wat paartjies self vir hulle verhouding kies), kan help om saam te beplan aan hulle toekoms. Die taal wat ons gebruik en die stories wat ons oor onsself vertel, is belangrik. Dit skep ons werklikheid en dit gee ons verhouding ’n identiteit. ’n Sonneblom is een van die metafore wat Visser as ’n voorbeeld gebruik. Wanneer dit dan voel of die sonneblom se kop hang, wat kan gedoen word om die wolke voor die son weg te skuif sodat die sonneblom weer sy kop kan oplig? So ’n metafoor help dat die taal wat gebruik word nie blamerend is nie, die paartjie is aan dieselfde kant en werk saam aan oplossings. Paartjies kleur self die metafoor in om met hulle gesamentlike waardes te besluit wat belangrik is en nodig is sodat die verhouding nie net funksioneer nie, maar kan floreer.

Dit is juis so ’n metafoor wat vir Visser in sy eie huwelik gehelp het nog lank voor hy met sy PhD-navorsing begin het. Hy en Jeané is nou al 10 jaar getroud en dinge het vir hulle interessant geraak toe hulle eerste seuntjie, Dandré, gebore is. Die groot vraag was toe, hoe presies pas hierdie klein splinternuwe babatjie in hulle strandhuis(-metafoor) in? Hierdie metafoor was ’n manier om hulle verhouding te eksternaliseer en saam te werk aan hulle ideale toekomsprentjie. Visser en sy vrou verwag nou hulle tweede seuntjie, Markus, en hierdie ideale toekomsprentjie word nou weer bestudeer en bespreek.

Dit help nie om net doelwitte vir julle verhouding te probeer vasstel nie, sê Visser. Die lewe gebeur, en dit is dan julle waardes, nie daardie vyfjaarplan nie, wat gaan help met julle verhouding se ideale toekomsprentjie.

Hier is drie dinge wat jou kan help om oor julle verhoudingswaardes te dink, drie dinge wat jy moet weet voor jy trou:

  1. “Dis nie jy nie, dis ek” – Die stories wat jy oor jouself vertel, daardie stories uit jou kinderjare, het ’n groot invloed op hoe julle as ’n paartjie gaan funksioneer. Negentig persent van die konflik wat paartjies ervaar is as gevolg van die identiteit wat hulle gevorm het nog lank voor hulle mekaar ontmoet het. Die goeie nuus is: Jou storie kan hervertel word en jy kan ’n nuwe identiteit vorm. En dit is baie bevrydend!
  2. Gooi weg die telbord – Die ruimte wat daar tussen julle geskep word, is baie belangrik. Dit moet ’n ruimte wees vir kommunikasie, liefde en energie, nie vir onnodige clutter nie. Dit beteken dat daar nie tyd, plek of energie is om telling te hou van mekaar se foute, skottelgoedwasbeurte of wie weer vergeet het om melk te koop nie. Julle is in dieselfde span.
  3. Dit is ’n tandemfiets – en op hierdie fiets word daar beurte gemaak om voor te ry. Elkeen het unieke gawes en sterkpunte en wanneer dit tyd is om die begroting op te stel, dan laat jy die een wat rekeningkunde in matriek gehad het, voor ry. Daar gaan ook tye wees wanneer die een siek/moeg/oorwerk is en dan gaan die ander een dalk ’n bietjie langer moet voor ry. Dit is belangrik om gereeld te kommunikeer, vas te hou aan daardie verhoudingswaardes, en om uit te vind wat dit is wat julle weer energie gaan gee sodat hierdie fiets kan vorentoe gaan. Is dit om saam kos te maak, om die blok te gaan stap, of ’n aand weg van daardie selfoonskerm te wees?

So, jy is nou al 30 jaar getroud, is dit te laat om gesonde waardes vir jou huwelik te identifiseer? Glad nie, sê Visser, dit is juis belangrik om gereeld te ontdek watter waardes is ‘aangeskakel’ en watter nie. Veral nou dat jou kinders uit die huis is. Julle is steeds goeie maats vir mekaar, maar skielik voel julle soos vreemdelinge en moet mekaar van voor af leer ken. Dit is dan juis hierdie waardes (en ’n metafoor natuurlik) wat jou taal gee om te kommunikeer en mekaar weer te leer ken. Dalk is dit nou weer tyd vir ’n eerste date.

  • Dr Pieter Visser is leraar en pastorale fasiliteerder by NG Wierdapark in Centurion.
  • Dr Doret Niemandt is ’n leraar by Valleisig-gemeente in Pretoria.
  • Hierdie skrywe word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top