Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wie verdrink in al die golwe wat kerkstryd maak?

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Estian Mentz van Britstown skryf: My kerk! My geliefde kerk! Waarmee is julle besig? Waarmee is ons besig? My hart breek elke keer as ek die naam “NGK” sien op een of ander Facebook-bladsy of koerantopskrif. My hart is stukkend oor my kerk, my geliefde kerk. Dit is vir my as predikant uiters ontstellend as ek moet sien dat daar deesdae van die NG Kerk en Kairos Netwerk as twee verskillende liggame gepraat word. Twee totale aparte liggame wat nou lynreg teenoor mekaar staan. Maar albei wil die kerk red, rig en lei. Die kommentare op Netwerk24 loop almal min of meer in een lyn: “Die NG Kerk is irrelevant.” Hiermee stem ek nie saam nie, maar gesprekke soos dié maak mense moeg, moeg vir gesukkel en dan gaan soek hulle vrede op plekke waar daar nie sulke gesprekke is nie. Die kerk is nie irrelevant nie, die kerk maak saak, die kerk is belangrik, maar tot ek twyfel al of ek die NGK-naam aan my gekoppel wil hê met tye. My kerk, my geliefde kerk.

Lees ook: Kerk se versoeningsboodskap in die gedrang?

Nou sit ek hier op Britstown, op die platteland met gewone mense, mense van die aarde, mense wat in God glo en God dien, mense wat naby aan die skepping leef en daagliks met die aarde werk. Ons verstaan nie. Die God van liefde is nie in ons kerk se oppergesag nie, sê van my lidmate.

Iemand vra my oor doleer. “Gaan ons ook doleer?” kom die vraag. “Nee,” sê ek. “Nee, ons gaan nie daai pad loop nie.” Die laaste paar jaar het geweldige skade aangerig in hierdie klein gemeenskap wat ook net net bly bestaan. Ontvolking van die platteland, ekonomiese krisis, droogte, sprinkane, stukkende paaie en stukkende mense jaag almal hier weg, en dan kom ons kerk ook en jaag nog so ’n paar mense weg. Die kerk wat die ruimte behoort te wees waar mense kan veilig voel, ongeag van hulle oortuigings, ongeag van hulle gevoel. Jesus het almal ingenooi, veilig laat voel, liefgehê. Dolering is na my mening lafhartig, ’n manier om weg te hardloop van die gesprek af. Maar net so aan die ander kant maak ons leiers nie reg nie. Ons aangestelde leiers tree op sonder mandaat, sê en doen goed wat nie bespreek is nie. So, toe my skoonma my vra wat dink ek daarvan, toe moes ek skielik eers die berig in die Rapport gaan lees om op te vang. Nie in my kerk se koerant nie, in Rapport. Dit is reg, ons moet jammer sê, ons moet regmaak wat die verlede ons gelaat het, maar ons moet vorentoe kyk. Net soos eerwaarde Abrahams gesê het tydens sy toespraak. Volledige vergifnis, toekomsgedrewe.

Lees ook: VGK en NGK ontmoet: ‘Ons is broers en susters in Christus’

My hart is stukkend vir my kerk. Dalk moet ons nou maar skeur en klaarkry sodat dié van ons wat nog die NG Kerk liefhet, die stukkies kan begin optel, en die mense weer begin heelmaak. Ons sal self eers seker moet heel word.

Ons stry oor formuliere, ons stry oor kerkverband, kerkgesag, Skrifgesag, allerhande dinge, en tussendeur versuip ons lidmate tussen al die golwe wat gemaak word.

Ek kan met baie saamleef, maar haat binne die kerk is sekerlik te ver gevat.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top