Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

En, kyk maar, as jy agter ’n bakkie vol mense ry, wie dit ookal is. Kyk maar, as jy liggies op jou toeter druk en vir hulle waai – of jy waai sommer net – sal party glimlag en vir jou terugwaai. Soms sal een iets vroliks in jou rigting skree, iets wat jy nie kan hoor nie, maar hulle sal lag, en jy sal glimlag. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman | Die blik wat ’n bakkie bied


Jy ry op die snelweg, en dan, opeens, is daar ’n bakkie voor jou, met twee of drie manne agterop. Oor een se kop is ’n Rasta-mus getrek. Die ander twee se blou oorpakke is vol verfspatsels. Dikwels is daar ’n leer of ’n kruiwa saam met hulle op die bak.

Dit lyk nie of hulle met mekaar gesels nie, veral as dit op ’n Maandagoggend is. Hulle sit met hulle rug teen die bakkie se kajuit en hulle kyk agtertoe. Hulle gaan by ’n huis of op ’n bouperseel werk, weet jy – heel dag lank gaan hulle verf of messel of kruiwa stoot, en vanmiddag gaan hulle weer in die teenoorgestelde rigting agterop hierdie selfde bakkie op hierdie selfde snelweg ry, terug township toe.

Lees ook | Dana Snyman: Hierdie kerk is vele kerke

Geborg

Byna daagliks sien jy mense agterop bakkies ry. Daar was al sprake dat dit onwettig verklaar gaan word om mense agterop ’n oop bakkie te vervoer. Sou dit gebeur, sal dit waarskynlik nóg ’n landswet wees wat baie oortree gaan word. In ’n arm land soos ons s’n is ’n bakkie, veral in die digbevolkte landelike gebiede, baie mense se enigste hoop om by ’n kliniek, ’n winkel of ’n plek uit te kom waar ’n kitsbank is.

Veral aan die begin van ’n maand sien jy sulke gedaan ou bakkies vol mense wat hulle staatspensioen wil gaan trek. Ooms met kieries en tantes met kopdoeke wat later in die dorp van die bak af gehelp moet word.

Lees ook | Cas Wepener: Gestremde gemeentes?

Die platteland is vol desperate mense agterop desperate bakkies. Die mans het dikwels nie oorpakke aan nie. Hulle hemp fladder soos verslete vlae aan hulle lyf in die wind.

Soms is daar maklik tien mense agterop ’n bakkie wat voor jou opdoem – meestal mans. Party moet staan of op die bak se rant sit, want ín die bak is nie genoeg plek vir almal om te sit nie. Hulle moet aan die bakkie vasklou en oppas dat hulle pet nie van hulle kop afwaai nie.

Partykeer sien jy ’n pet in die pad lê. Dit lê daar in die linkerbaan op die snelweg of op die teer iewers tussen twee dorpe, en die karre ry oor dit. Wanneer die wind waai, sal die pet ’n entjie die lug in fladder, voor ’n volgende kar kom wat dit weer plat trap.

Jy sal na daardie pet kyk en weet dit het van iemand wat agterop ’n bakkie was, se kop gewaai. Dalk was dit ’n jong man uit die Oos-Kaap wat in die Kaap werk kom soek het, se pet. Miskien was dit sy eerste dag agterop ’n bakkie saam met ander werkers, en toe hy weer sien, gryp die wind die pet van sy kop af. Nadat die wind sy pet afgewaai het, het hy dalk vergeefs vir die bestuurder geskreeu om stil te hou terwyl die ander werkers vir hom lag.

Geborg

Niemand hou graag stil vir ’n dêm werker agterop ’n bakkie wie se dêm pet afgewaai het nie.

Lees ook | Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder

Op die platteland sien jy ook soms net een kêrel agterop ’n bakkie, en voorin die bakkie is net die man agter die stuurwiel. Meestal is dit ’n werker – soms het hy ’n geruite baadjie met deurgeskifde moue aan – wat daar agterop sit. Hy ry saam met die boer dorp toe om die hekke op pad oop te maak. Die hele oggend sit hy in die heklose dorp agterop die bakkie terwyl die boer by die bank en die Spar en die koöperasie in gaan. Partykeer sal hy afklim, en dan sal daar ’n repie koerantpapier en die oranje van ’n pakkie BB-twak in sy hand wees.

Ander kere sal daar tussen die mense agterop ’n bakkie ’n vrou wees, met ’n doek om haar kakebeen gebind, op pad na ’n kliniek waar die seer tand getrek sal word. Of ’n ma wat ’n baba vashou. Die baba is toegedraai in ’n bont kombersie en as die kind knieserig raak, sal die ma haar bloes oopknoop en die baba nader aan haar bors bring.

Ander kere sien jy op ’n Sondag ’n klompie vroue in wit-en-blou ZCC-uniforms agterop ’n bakkie, ’n koor wat by ’n kerkbyeenkoms gaan sing. Op ’n Saterdagmiddag, weer, beland jy maklik agter ’n bakkie met elf of twaalf vrolike manne agterop, in sokkertruie, op pad na ’n wedstryd iewers op ’n stowwerige oopte met skewe netlose sokkerpale aan weerskante.

Beland jy op Vrydagmiddag agter ’n bakkie volgelaai met werkers, is die kans goed dat daar ’n bottel, toegedraai in ’n papiersak, tussen hulle sal wees. Hulle gee die bottel vir mekaar aan en een vir een vat hulle ’n sluk daaruit.

Lees ook: Laat ons mekaar aanvaar, nes in Romeine gesê word

Geborg

En, kyk maar, as jy agter ’n bakkie vol mense ry, wie dit ookal is. Kyk maar, as jy liggies op jou toeter druk en vir hulle waai – of jy waai sommer net – sal party glimlag en vir jou terugwaai. Soms sal een iets vroliks in jou rigting skree, iets wat jy nie kan hoor nie, maar hulle sal lag, en jy sal glimlag.

Mense agterop bakkies kyk omtrent altyd agtertoe. Hulle kyk byna nooit na waar hulle heen gaan nie. Hulle kyk na waar hulle vandaan kom.

Hulle kyk na jou.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

LUISTER - Kerkbode se weeklikse podsendings.