Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder

Geborg

Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Inklusiewe taalgebruik gaan oor veel meer as net die insluiting van jou geslag, verduidelik Juanita Greyvenstein.

Om oor taalgebruik te skryf, voel soos om die pretpolisie te wees. Hierdie is nie ’n rol wat ’n mens baie graag vir jouself toeëien nie, want die bekende woorde: “Hier gaan ons al weer!” weergalm waarskynlik reeds in jou kop. Wanneer dit egter kom by die mense wat jy toelaat om saam te praat, wat jy toelaat om vir jou te praat, en veral as jy die voorreg het om voor/vir ander te praat, mag ons nie die taak van dink oor die taal wat ons gebruik, versuim nie – en moet ons maar eerder twee maal dink.

Ons bly in ’n samelewing waar mense nie twee maal dink om jou aan te kla van naamskending of diskriminasie nie. Dit is daarom dat enigiets wat ons tot politieke korrektheid oproep, na ’n swarigheid laat voel. Ons taalgebruik is egter soveel meer as bloot ’n saak van politieke korrektheid. Taalwetenskaplikes en kognitiewe-gedragswetenskaplikes vertel ons hoe taal ons leefwêreld en sosiale verwagtings vorm, en ook hoe dit ons onbewuste vooroordele ontbloot / blootlê.

Broederkring en juffrou

By ’n onlangse samekoms van NG Kerk vroue in die bediening, was dit duidelik dat een van die netelige onregte wat deur die bank nog ervaar word, die gebruik van eksklusiewe taal in vergaderings, byeenkomste, en selfs by opleidingsgeleenthede is. Van die gebruik van slegs manlike voornaamwoorde, na die onsterflike “broederkring” of “fraternals”, tot die “juffrou” of “meisie”, as jy ongetroud is.

Wat hierdie taalgebruik ontbloot / blootlê, is nie net dat die bediening en die samelewing nou anders daaruit sien nie, maar ook die blywende impak van die diskoers dat vrouestemme en vrouelywe, eintlik nie in die publiek, ten minste op ’n gelyke vlak as manstemme, hoort nie.

Inklusiewe taalgebruik gaan oor veel meer as net die insluiting van jou geslag. Uiteindelik gaan dit oor die erkenning van alle stemme en die insluiting (inagneming) van hierdie stemme, ter wille van die meewerk aan ’n meer regverdige samelewing.

‘n Totale persoon

Mary Beard skryf oor die diepliggende idees wat sedert die Griekse en Romeinse samelewings steeds ’n noemenswaardige/merkwaardige impak het op hoe ons vroue se teenwoordigheid in die openbare ruimte beoordeel. In die Griekse samelewing was publieke toesprake juis een van die vaardighede wat manlikheid gedefinieer het. Vroue is nie net uitgesluit van hierdie ruimtes nie, maar gesien as inherent nie daartoe in staat om hierdie publieke take te verrig nie. Omdat mans beskou is as ’n totale persoon, in teenstelling met vroue as minder volledige modelle van mans – was dit ook nie moeilik vir latere samelewings om “man” en die manlike voornaamwoord, as ’n plaasvervanger vir “persoon” te gebruik nie (vgl byvoorbeeld die Engelse “mankind”).

Wanneer uitlatings gemaak word soos, “ouens sluit mos vroue in”, of “hy is maar net ’n plaasvervanger vir hy/sy/hulle”, dan is dit nie net ’n lui en slordige manier van omgaan met taal nie, maar versterk dit ook die onderliggende stereotipes. Selfs wanneer jy nie meer dink dat vroue in die kombuis hoort nie, het hierdie taal ’n negatiewe effek op ons samelewing.

Om inklusiewe taal te gebruik kan pynlik en moeilik wees, want dit gaan nie net oor linguistiese gewoontes nie, dit gaan oor die verandering van ons denke. Natuurlik is gender-inklusiewe taal net die bo-punt van die ysberg! Ons taal rondom ras, gestremdheid / bekwaamheid en seksualiteit noodsaak ook verdere noukeurige en versigtige ondersoek en aanpassings. Dit lê ons stereotipes ten opsigte van dit wat ‘anders’ as ons is bloot. Die goeie nuus is dat kognitiewe wetenskaplikes, soos Lera Boroditsky, dit al bewys het dat die gebruik van inklusiewe taal ’n merkbare effek op die gedrag en vooroordele van mense het. Inklusiewe taalgebruik is daarom ’n maklike, praktiese en doenbare manier vir ons om geregtigheid en gelykheid in ons samelewing te bevorder. Kom ons gryp dit aan!

  • Ds Juanita Greyvenstein is predikant in Maitland.

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top