Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
’n Klompie jare gelede moes professor Maake Masango by Tukkies die bestuur oortuig dat die Teologie-gebou nie toeganklik is vir studente met gestremdhede nie. Om sy punt te maak, het hy een van die studente wat in ’n rolstoel was tot voor die trappe gestoot en die dekaan laat roep. Die dekaan moes hom toe help om die student eers by die stoeptrappe en daarna ook by die trappe in die gebou op te dra. Nodeloos om te sê dat die rolstoelvriendelike oprit en ander veranderinge aan die gebou spoedig gevolg het.
Onlangs was ek vir werk in Duitsland. En wat my oral opgeval het – op voetoorgange oor besige strate, in openbare vervoer, in eredienste – is dat mense met gestremdhede oral teenwoordig is. Hoekom? Want daar is moeite gedoen om dit vir hulle moontlik te maak om oral teenwoordig te wees. En hoekom het dit my opgeval? Ek dink dit is maar net omdat wat ek daar gesien het in kontras is met dit was ek in ons eie land beleef. Toegegee word daar reeds baie gedoen en is daar mense wat hulle daarop toespits om die situasie hier te verbeter. Tog wil dit voorkom asof dinge heelwat vinniger gebeur wanneer mense soos prof Maake moeite doen om koppe te skuif. En wie by uitstek koppe moet skuif, is kerke en hulle praktyke.
Lees ook: Maak só jou gemeente toeganklik vir gestremdes
Is ons lidmate met gestremdhede aanwesig in byvoorbeeld eredienste? “Ja”, in sommige gevalle, en “nee”, in ander gevalle. Beide die “ja” en die “nee”, vermoed ek, hang veral saam met dit wat ons antropologie kan noem. Met ander woorde, mense met gestremdhede is aan- of afwesig, onder andere, oor hoe ons oor mense dink. Hoe ek na mense kyk hang ten nouste saam met hoe ek dink God na mense kyk en hoe God dink oor wat nou presies ’n “mens” is?
Ek bly by die voorbeeld van mense met gestremdhede se aan- en afwesigheid in ons eredienste en moet daarom dadelik byvoeg dat ons kultus, ons eredienste, ingebed sit in ons kultuur. Daar is ’n mooi sinvolle spanning tussen kultus en kultuur – die twee werk voortdurend mekaar se sake (almost like love and marriage and a horse and carriage). Ons eredienste pas voortdurend (on)bewustelik aan by die veranderende kultuur en daarom lyk die gemiddelde NG erediens vandag nie soos dit vyftig jaar gelede gelyk het nie. Maar net hier is daar egter ook ruimte vir ontsporing.
Heelwat van wat ons kultuur vir ons bied, wil ons in ons eredienste omhels. Maar vir seker nie alles nie. En deel van dit wat ons nie volledig wil omhels nie, is ons laat-moderne verbruikerskultuur se ideale beeld van wat ’n mens is. Dink gerus aan die oorvloed beelde in die media waarin mense voorkom. Wie word by uitstek uitgebeeld as volwaardig mens? Of die ideale mens? Ja, ek sien hom en haar in my geestesoog: vanaf die Colgate-glimlag, deur die lenige lyf tot by die skerp intellek en natuurlik, met tien tone en tien vingers. Die ideaalbeeld word ook oorgedra na verhoudings en so word die ma-pa-sussie-boetie-gesin ook ’n ideaaltipe waarteen ander gemeet word. En uiteindelik syfer al hierdie “ideale” vanuit die kultuur tot binne-in ons eredienste en gemeentebediening.
Voordat meer opritte buite kerkgeboue en in liturgiese ruimtes gebou gaan word, brailleboeke gedruk, klankversterkers geïnstalleer, liturgieë vir mense met verstandelike gestremdhede ontwikkel en eredienste vir kinders met outisme bedink gaan word, moet die onderliggende mensbeeld waarmee daar in eredienste gewerk word, onder die loep geneem word.
Is iemand sonder bene in die oë van God ’n hele mens of nie? Ek moet myself afvra of ek dalk met een of ander perfekte beeld van wat ’n mens is werk? En voortvloeiend daaruit ook wie welkom is en vir wie ek dus by uitstek moeite gaan doen om ons ruimtes en dit wat daar gebeur toeganklik te maak? Daar is reeds ’n hele repertoire beste praktyke in ons gemeentes in hierdie verband. Maar ek het in Duitsland gesien ons het nogal heelwat ruimte vir verbetering. Miskien kan ons aanhou dink oor hoe God na mense kyk sodat ons eredienste en gemeentebediening ruimtes word wat weerspieël hoe God na mense kyk. So kan dit wat in ons praktyke gebeur die omringende kultuur ten goede beïnvloed. En algaande sal ons besef dat eredienste en gemeentes sonder mense met gestremdhede, vanuit God se beskouing van mense, gestremde eredienste en gemeentes is.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
