Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Leon M Foot van Welkom skryf: Ek is lid van die NG Sinode VS waar die afkorting VS staan vir Vrystaat, hierdie sentrale streek van uitgestrekte vlaktes en mynhope, van pragtige wolkformasies en sonsondergange. Dit lyk egter of sommige die VS sien as die afkorting vir “versus”, om teen iemand of iets te wees, soos in Cheetahs vs Stormers. Sommige wil blykbaar altyd teen iets wees – al is dit teen onsself.
Lees ook | Slikdamramp: Só kan jy help
Die VS Sinode ervaar druk van binne en buite om weg te breek van die Algemene Sinode, om ons bande met die res van die kerk te verbreek. In die middel van die vorige eeu is baie moeite gedoen om kerke van die vier destydse provinsies byeen te bring om uitdrukking te gee aan ons eenheid wat ons elke Sondag bely. So ernstig was ons voorouers hieroor dat hulle dit laat inskryf het dat uittrede uit die verband net kan geskied as “so ’n stap voor God in die lig van sy Woord” regverdig kan word.
Natuurlik het ons kerk haar eie uitdagings – ons is immers nog nie in die hemel nie! Van die begin af was dit so: Toe Paulus en Petrus verskil het, het hulle mekaar in Jerusalem ontmoet en uiteindelik vir mekaar ruimte gelaat. In Romeine word gesê dat ons mekaar moet aanvaar, selfs diegene wat net groente eet! Die sake waaroor gelowiges in die kerk verskil, is nie sake wat die hart van die evangelie aantas nie; die genadige verlossingdaad van Jesus was nooit in die gedrang nie. Ongelukkig word sommige besluite so verdraai aan die wêreld voorgehou asof die AS die spoor byster geraak het.
Lees ook | Dana Snyman: Hierdie kerk is vele kerke
Toe slawerny in 1833 deur Brittanje afgeskaf is, het ’n klomp van ons voorouers die pad gevat en weggetrek onder die mag van die Engelse uit, want, het hulle onder andere gesê, die Bybel keur slawerny goed. Vandag dink die kerk nie meer so nie. Ook oor ander sake het die kerk met tyd beter insig gekry. Ons vroue se hoofde is nie meer bedek met ’n hoed as hulle kerk toe gaan nie, en van hulle word selfs toegelaat om te preek.
Die kerk is weer by so ’n oomblik in die geskiedenis. Dit is tyd dat die VS hande vat en saam die uitdagende pad loop, eerder as om versus mekaar te staan en baklei.
