Water, ongebruikte klere en komberse, langlewe melk en nie-bederfbare kos. Al hierdie items kan by Torings van Hoop in Henrystraat 37 in Bloemfontein afgegee word om inwoners van van die Vrystaatse myndorpie Jagersfontein te help wat skade gely het na ’n slikdam vroeg Sondagoggend meegegee het en honderde huise weggespoel of beskadig is deur ’n toksiese modderstorting.

Geldelike donasies kan ook inbetaal word by die NG Kerk Vrystaat Hoopfonds. Dit is die naam van die streek se sinodale barmhartigheidsdiens en rampverligting val ook onder hierdie bediening, verduidelik ds Barnard Steyn, direkteur van die Vrystaatse Sinodale kantoor vir Bedieningsbegeleiding.
Aan die stuur van sake by die fonds is ds De la Harpe le Roux van Torings van Hoop, ’n hawelosebediening van die Tweetoringkerk. Hy vertel hulle werk saam met ds Cor Potgieter wat leraar is vir Fauresmith en Jagersfontein.
Die kerkgebou op Jagersfontein dien as die depot waar mense kospakkies, klere en komberse asook water kan kom haal.
“Die uitdaging is dat daar voor die ramp op Jagersfontein ’n klomp mense was wat swaarkry, so nou moet onderskei word om eerste die mense te help wat verliese met die ramp gely het, maar hierdie is ook ’n geleentheid om te wys die Here gee om,” sê Le Roux.
Skoon water is ook ’n krisis. Die modderstorting het erg skade aangerig aan die dorp se infrastruktuur vir water- en kragtoevoer. Le Roux noem dat ’n watertenk Dinsdag 7500 liter skoon water neem om die waternood te help verlig.
- Kontak Ds De La Harpe le Roux by 083 232 1051 of epos hom by dlh@towersofhope.org .
Geldelike donasies kan gemaak word aan:
NG Kerk Vrystaat Hoopfonds
Nedbank
Rekeningnommer: 1178-097-218
Takkode: 198-765
Verwysing: Hoopfonds
