Ry van Citrusdal tot Riebeeckstad. En van Brixton tot Parowvallei-Oos – via Witrivier. Dit is nou as jy hoop soek vir die NG Kerk. Dáár is ’n soort “toekomsbeeld in die hede” te vinde vir die 371-jarige NG Kerk se oorblywende 1 062 gemeentes.
Dit is volgens ’n span navorsers wat al sedert 2019 probeer gestalte gee aan die vraag hoe die NG Kerk van die toekoms gaan lyk. Al vyf hierdie gemeentes het “groot kopskuiwe gemaak in hulle siening van lidmaattalle, finansies, fasiliteite, leierskap (en hiërargieë) en kerk-wees,” vertel dr Lourens Bosman onlangs by ’n voorlegging oor die NG Kerk se sogenaamde “Droomscenario 2030”. Hierdie navorsing is onder vyf gemeentes gedoen deur dr Mias van Jaarsveld vir die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode.

Dit voel dalk vir sommige na ’n “laat uur” vir die NG Kerk. Trouens, meer as een afgevaardigde het dit so uitgespel by die moderamenvergadering waar Bosman, van die Taakspan Navorsing asook algemene bestuurder by die kantoor van die Algemene Sinode van die NG Kerk, opgetree het.
Dit is enkele maande voor 180 kerkraadslede en 180 leraars van 15-20 Oktober in Johannesburg aanmeld vir die eerste sitting van die Algemene Sinode sedert 2019. En hoewel daardie agenda nog moet vorm aanneem, mag dit ietwat aandagafleibaar voorkom om breedvoerig te praat oor NG Gemeente Citrusdal se gemeenskapskombuis, of NG Gemeente Riebeeckstad se #Imagine Kidz-jeugweke of Rooi Posbus-gebedsprojek of Brixton Kerk wat geboue op AirBnB uitverhuur … Daar is immers die NG Kerk se welbekende en veel besproke Groot Uitdagings wat soos ’n stad op ’n berg pryk: Getalle wat duik, geld wat knor en die Ruim Huismoles.
En tog verteenwoordig dié vyf gemeente se stories hoopgewende verhale wat ook reeds elders in die NG Kerk teenwoordig is, glo Bosman en die vele in die kerk wat hierdie Droom Scenario-werk steun.

Getalle, geld, Ruim Huis-moles
Laat ’n mens die uitdagings nie verdoesel nie: Die totale aantal belydende lidmate oor die tien samestellende streeksinodes heen het gedaal van sowat 670 000 in 2020 tot sowat 580 000 in 2023, volgens data in die Jaarboek van die NG Kerk.
Die aantal predikantsposte het sedert 2015 van 1 304 tot sowat 820 in 2022 afgeneem en is tot so ’n mate rede vir kommer dat dit selfs ’n opwaartse aanpassing van die aftree-ouderdom ( tans vasgestel op 65) op die tafel mag plaas, word bespiegel.
Op geldfront is dit so dat, indien dit nie vir ’n miljardêr-sakeman en sokkerklubbaas van Ga-Rankuwa se filantropiese steun was nie, die Algemene Sinode se begroting in hierdie boekjaar sowat R900 000 armer en onder geldelike druk sou wees. Patrice Motsepe se Stigting het op vele maniere die NG Kerk se post-Covid-herstel gerugsteun, volgens die mees onlangse state.

En dan het die NG Kerk boonop te make met ten minste twee uiteenlopende Skrifvertolkings rondom selfdegeslagverhoudings (SGV) en die vraag hoe jy daarmee in een kerkverband saamleef indien dit nie deug om die NG Kerk eenvoudig ’n Ruim Huis te benoem en voort te beweeg nie.
Dit is vernaam die SGV-debat, volgens afgevaardigdes by die ASM-vergadering, wat meeding om aandag en energie in gemeentes. En dit blyk al duideliker dat daar geen kitsuitkoms sal wees nie.
LEES OOK: Die Koinonia-Sinode van die Kairosbeweging: Algemene Taakspan Regte adviseer
Die mees onlangse sprake van ’n “nuwe” sinode (naas die kerk se tien streekgebaseerde sinodes) wat as ’n soort geestelike tuiste sou kon dien vir Kairos Netwerk (KN)-gesindes, is ook nie ’n geval van knip die lint en stap in nie. “Dit is nie maar ’n Algemene Sinode wat geografiese grense moet bepaal nie,” het ds Jan Lubbe opgemerk tydens ’n ASM-bespreking van die Koinonia Sinode, ’n saamtrek deur KN byeengeroep (3-4 Mei). “Hier is ’n teologiese keuse wat gemaak moet word en daarvoor is daar nie ’n presedent in die geskiedenis van die NG Kerk nie,” aldus Lubbe.
Al hierdie sake kan nogal ’n Algemene Sinode se agenda rek.

En dan is daar boonop korter wordende lonte. Vir Publieke Getuienis gee dr Dawie Botes van Welkom die kerk tans “2 uit 10”. Hy mis vir (aartsbiskop) Desmond Tutu en dink die NG Kerk is “te politiek korrek” in sy omgang met die ANC-regering en bodder te veel met jammer sê vir apartheid, het die leraar van Welkom van die vloer laat hoor by die ASM-saamtrek.
Ook die beginsel van “Nothing about us without us” bly tot sigbare irritasie van sommige dikwels in die slag weens die homogene leierskap van die NG Kerk. Dr Louis van der Riet stel dit so: “Ek sal dit oor en oor bly sê, daaroor skryf, en bly praktisieer – die ASM en Algemene Sinode se fokus is deurgaans in stryd met hulle eie waarneming “dat daar nie óór ander gepraat sal word nie, maar mét mekaar”. ’n Onlangse gesprek oor rassisme is deur 50 wit mense gevoer.
’n Kleiner kerk, verder van mag
Maar terug na Brixton, Citrusdal, Riebeeckstad, Parowvallei-Oos en Witrivier. Hierdie gemeentes in die Droomscenario-navorsing is “getuienisse van waartoe (lidmate) in staat is wanneer hulle nuut dink oor die kerk en die bediening” en “bevestig dat interkulturele bediening en multitalige eredienste moontlik is,” volgens die Scenario-navorsingsverslag.
Die vyf gemeentes se stories speel af terwyl die kerk, in die woorde van een van sy getroue biograwe, steeds verder wegbeweeg van politieke mag maar ook teologies gesonder word as gedurende apartheid. “Die NG Kerk was (en is steeds) ’n veelkantige organisme. Dit is ’n groot en komplekse organisasie met baie kante,” skryf Neels Jackson in Drie dekades van verandering – Die NG Kerk se pad na verruiming (Lux Verbi, 2021). “As ek nou terugkyk, dertig jaar later, lyk dit my dat ’n mens moet sê die NG Kerk was teen 1990 ’n groot en magtige kerk, in baie opsigte ’n hoogs suksesvolle kerk, maar op kernpunte ook ’n baie siek kerk,” skryf Jackson, wat Kerkbode se redakteur asook jarelange kerksakeverslaggewer vir Beeld was. “Dit was ’n kerk met ’n verskraalde evangelie. Toe die NG Sendingkerk in 1986 die Belydenis van Belhar aanvaar en daarmee versoening, eenheid en geregtigheid as drie kernpunte van die evangelie identifiseer, kon min mense in die NG Kerk dit as die evangelie herken,” verduidelik Jackson. “Dit het vir hulle na politiekery geklink. Die evangelie wat vir NG lidmate bekend was, was een van persoonlike verlossing en ’n eng persoonlike moraliteit. Dans en drink en dobbel is as sonde beskou, maar nie die miskenning van ander mense se menswaardigheid nie.”

En nou, in 2023, fokus die NG Kerk in haar soeke na toekoms-beelde, haar aandag op “nodusse” waar navorsers gemeentes aantref wat glo dat vernuwing, verandering, en/of aanpassing nodig is, selfs onafwendbaar is en “belangrike (roepings)vrae gevra het soos: Hoe bedien ons sinvol? Wat gee vir ons bestaansreg? Wat is die grootste nood in die gemeenskap? Hoe kan ons ’n verskil maak? Wat moet verander in die gemeente?,” luidens Bosman se verslag. “Die gemeentes het ook almal besluit om vas te hou aan hulle gereformeerde identiteit, maar om dit op nuwe en innoverende maniere in te kleur en toe te pas in hulle konteks,” luidens die Droomscenario-verslag.
LEES OOK: Scenario-beplanning: Droom of nagmerrie?
Volgens die leraars het daar as gevolg van die groot skuiwe ook ’n verdieping in hulle teologie gekom, skryf Van Jaarsveld in sy berigte te velde wat die jongste fase van die Scenarioprojek onderlê. “’n Mens sal dit onder andere in die gemeente se taalgebruik hoor. Hulle praat byvoorbeeld nie van ‘multikultureel’ (mense van verskillende kulture wat saam woon) of ‘kruiskultureel’ (verskillende kulture wat met mekaar te doen kry) nie; hulle verkies ‘interkultureel’, want dit veronderstel doelbewuste pogings om oor grense heen verhoudings te bou,” skryf Van Jaarsveld aan die hand van sy besoek aan een gemeente. “Hulle het ook besluit om – na aanleiding van (die teoloog) Leonard Sweet se werk – weg te beweeg van ABC-georiënteerde kerkwees (Attendance, Building, Cash), na MRI-georiënteerde kerkwees (Missional, Relational, Incarnational).”
Indien gemeentes ’n florerende post-ABC-kerk (Attendance, Building, Cash) kan bou, is die vraag seker of die NG Kerk in geheel ’n florerende post-ABC-kerk wil en kan wees.

Warm stoel … steeds warm
Die druk is nie net op samestellers van die agenda vir die volgende Algemene Sinode nie … Die druk is vir sommige op die Algemene Sinode per se. Hierdie liggaam, wat in Oktober 1962, een-en-sestig jaar gelede, vir die eerste keer vergader het, het sy kritici. “As Afrikanernasionalisme die belangrike gom was wat die kerk in staat gestel het om ten spyte van groot diversiteit in die verskillende sinodes tog in een algemene sinode saam te kom, is dit nie vreemd dat die Algemene Sinode na 60 jaar onder beleg is nie,” skryf prof Johan van der Merwe, ’n dosent in Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria, verlede jaar in sy Kerkbode-rubriek. “Miskien het dit daarom tyd geword om te aanvaar dat die Algemene Sinode soos dit tans daar uitsien se rakleeftyd verby is en dat daar dringend na ’n nuwe vorm van eenheid gesoek moet word.”
Praat ’n mens met vorige voorsitters van hierdie vergadering hoor ’n mens dat die stoel nie warm geraak het onder die huidige voorsitter, ds Nelis Janse van Rensburg nie, maar dat hy min of meer permanent warm is. Prof Pieter Potgieter (voorsitter 1990-1994 en 1998-2002) meen 1990 tot 1994 was “van die moeilikste jare in die destydse samelewing. Baie lidmate het nog sterk gevoel dat afsonderlike ontwikkeling die beste oplossing vir ons samelewing was,” verduidelik hy in ’n terugblikstuk vir Kerkbode. “Die 1990 sinode het ook erken en bely dat apartheid nie op Bybelse gronde geregverdig kon word nie. Vir baie lidmate was dit ook nie aanvaarbaar dat die lidmaatskap van die NG Kerk nou oop was vir mense van ander bevolkingsgroepe nie. My voorstel wat by die 1986-sinode in die Kerk en samelewing-dokument aanvaar is, dat lidmaatskap van die NG Kerk oop is – nie net in beginsel nie, maar ook in praktyk, was waarskynlik die belangrikste rede vir die totstandkoming van die APK.”
LEES OOK: Nelis Janse van Rensburg | ‘Versoening is ’n beweging na God en na mekaar’
Prof Piet Strauss (voorsitter 2007-2011) meen die eenheid van die NG Kerk “lê nie in ’n saamstem oor alles nie, maar daarin dat die oorgrote meerderheid oor kernsake of belydeniskwessies dit eens is”. Nog ’n oud-voorsitter, dr Coenie Burger onthou ook moeilikheid. “In die kerk is eenheid belangriker as rustigheid en die afwesigheid van konflik, sê Burger (voorsitter 2002-2007). “Laat ons praat en redeneer en selfs doleer,” skryf hy in ’n oorsig vir Kerkbode oor sy termyn. “Maar laat ons dit doen in een kerk.”
