Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die jongste navorsing oor armoede onder Afrikaners – en dit is mos die grootste gros van die NG Kerk se lidmate – dui aan dat ’n groter pandemie as Covid-19 die kerk gaan tref. Navorsing wat deur Solidariteit Helpende Hand aan die einde van 2021 gedoen is bevestig bogenoemde stelling.
In die navorsing waaraan 15 363 respondente landswyd deelgeneem het, is bevind dat 60% van respondente nie voldoende aftreevoorsiening het nie terwyl 22% geen aftreevoorsiening het nie.
Verder sorg 17% van die respondente reeds vir hulle ouers terwyl 11% omsien na ander volwassenes. Sowat 8% van die respondente moet omsien na hulle volwasse kinders wat nie werk het nie terwyl 23% van Afrikaners se gesamentlike huishoudelike inkomste nou minder as R14 000 per maand beloop.
Lees ook: Kerkbode se nuwe afdeling vir studente
Die prentjie wat deur die navorsing geskets word is nog donkerder as in ag geneem word dat 54% van die respondente die voorkoms van angs en 53% van depressie rapporteer. Die impak van hierdie syfers op gemeentes van die NG Kerk mag nie geïgnoreer word nie. Terwyl die nood groter gaan word, is finansiële bronne in die meeste gemeentes van die NG Kerk reeds onder druk. Die groot vraag is: Wat nou?
Miskien help die geskiedenis van die NG Kerk ons om ’n paar rigtingpylers te vind. Na die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902, die Rebellie van 1914, die Griep van 1918 en die droogte en depressie van 1933 was die kerk in ’n byna soortgelyke situasie. Lidmate was op hulle knieë nie om te bid nie, maar gebreek deur die ekonomiese omstandighede van die tyd.
Alhoewel die kerk reeds in 1892 sy besorgdheid uitgespreek het oor “de zinkende deel” van die Afrikaners. Dit is hierdie tyd waarin die kerk haar roeping soos volg beskryf het: “Die siel van die redding is die redding van die siel.” Vanaf 1934 het verskeie nasionale kerkkongresse plaasgevind waar verskillende aspekte van die armblankevraagstuk bespreek is. Meer as 109 besluite is geneem om die armoede onder Afrikaners te stuit.
Lees ook: ’n Vertelverhaal oor uitbranding by dominees
In die Suid-Afrika van 2022 is die NG Kerk se roeping groter as net Afrikaners en kan die roeping nooit weer eksklusief wees nie. Missionale kerkwees daag die kerk uit om op ’n groter speelveld teen armoede te speel. Die harde werklikheid is egter dat hulpbronne al minder word en dat moeilike keuses gemaak sal moet word. Daarom sal gemeentes van die NG Kerk soos in die verlede in die eerste plek met krimpende fondse na hulle eie lidmate moet omsien – nie omdat hulle wit of Afrikaans is nie, maar bloot omdat hulle lidmate van die NG Kerk is.
Daarby sal daar in ringe en sinodes hande gevat moet word en saamgewerk moet word om hierdie pandemie hok te slaan, want vir hierdie pandemie is daar nie ’n entstof nie.
Prof Johan van der Merwe doseer Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Universiteit van Pretoria.
Verbaas my altyd dat die NG Kerk gedurig
uitgesonder word vir kritiek..
Vat bietjie slag van die ander Afrikaanse Kerke aan.