Hierdie is 'n rubriek. Die opinies van skrywer weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Oom Jan, ’n afgetrede boer van Caledon en sy buurman, oom Koos, sit Maandagoggend op die plaashuis se stoep en koffie drink. Nadat hulle Saterdag se wedstryd, wat WP op Nuweland verloor het, onder ’n vergrootglas bekyk het, het hulle ’n klaaglied oor die swak koringprys begin sing. Toe draai die gesprek.
“Het jy van ds Pieter gehoor?” vra oom Jan, ’n getroue onderling.
“Nee, is daar fout met hom?” vra oom Koos, sy buurman, wat min onder die geklank van die Woord kom.
“Ja man, die man is nou vir drie maande afsiek geboek.”
“Hoe so?”
“Glo uitgebrand.”
“Ek het nog nooit daarvan gehoor nie, ou Janman.”
“Wat se siekte is dit?”
“Ek weet ook nie. Hier loop nou allerlei stories in die gemeente rond. Mense bespiegel wat die man makeer. Ou tant Gerda reken hy is oormoeg. Oom Johny meen dit is “nonsens.”
“Moeg? Ag nee, man. Hoe kan ’n dominee nou moeg raak? Hy doen mos nie harde handewerk soos ek en jy nie. Ons weet van moeg. Ds Pieter is in elk geval in die week onsigbaar en Sondae onverstaanbaar. Hy kan nie moeg wees nie.”
Lees ook: Die groot ‘D’ vra genadige medemense
“Ou ds Klasie, wat daar langs die kerk bly, reken ds Pieter is gestres.”
“’n Perkant gestres? Ag nee, man, nonsens. Waaroor kan hy nou stres. Hy het ’n lui, lekker, rustige job en lag die einde van die maand al die pad bank toe.”
“As daar nou mense is wat weet wat stres is dan is dit ’n boer in die Overberg wat tonne skuld het. Hulle hou baie dae die pad dop om te kyk of die ABSA-man nie kom plaas vat nie.”
“Ek hoor nou die dag in die kroeg ds Pieter kan nie lekker slaap nie en is depressief.”
“Hy is dan ’n man van God. ’n Gesalfde. Hoe kan hy depressief wees?”
Die volgende Sondagmiddag braai oom Jan en oom Koos saam. Nadat hulle die WP se wen oor die Blou Bulle met drie stywe doppe tien jaar oud KWV uit die Paarl gevier het, is hulle terug by ds Pieter en uitbranding. Albei was in die diens. ’n Kaapse leraar, met ’n M-graad in kliniese sielkunde, het die diens gelei. Hulle wou hoor wat hy oor ds Pieter en sy uitbranding te sê het.
Lees ook: Help! My man is ’n narsis
“Hoe het jy van die mannetjie se preek gehou, Koos?”
“Nie te sleg nie. Hy was darem meer verstaanbaar as ons doom.”
“Hy sê mos voortdurende stres lei tot uitbranding.”
“Ja, ek het hom so uitgeluister. Onthou jy hy het ook gesê baie dooms lei daaraan?”
“Ek het hom na die diens daarna uitgevra. Volgens hom werk leraars gedurig onder druk. Hulle vurke is swaar gelaai. Hulle moet almal besoek. Ook die siekes. Die dooies begrawe. Die verliefdes en verloofdes trou. By elke moontlike komitee van die outehuis tot die skool dien en vergaderings bywoon. En dan moet hy nog tussen alles deur na die Here luister – met stukkies tyd – en Sondag gaat sê: ‘So seg die Here Here’.”
“Klink na ’n tall order.”
“Ja, dit is wat die kopdoom nou vir my vertel het. Hy sê mense wat onder hoë druk werk kan met ’n rek vergelyk word. As jy die ding rek en rek, breek hy. Dieselfde geld vir mense wat lang ure onder hoë stres werk soos dokters en dominees. Hulle liggaam kan dit tot op ’n punt vat, maar dan gee alles in en gaan hulle, soos ’n kar sonder petrol, staan. Hulle kan nie meer vorentoe of agtertoe nie. Hulle is emosioneel en liggaamlik totaal en al uitgeput.”
“Dit klink na ’n groot probleem.”
“Dit is. Die kopperkant sê uitbranding gaan dikwels met depressie gepaard. Die slaap ontwyk jou. Jy bly moeg en het nie krag vir ’n dag se werk nie.”
“Wat sien hy as die oplossing, Jan? Hoe gaan ds Pieter die uitbranding afskud?”
“Die kopdokterdoom glo ds Pieter moet dadelik van sy verpligtinge bevry word en psigiatriese en sielkundige hulp kry. Dominee moet ook vir ten minste drie maande uit die gemeente wegkom.”
“Klink erg, buurman.”
“Die kopdoom het ook vir my gesê die gemeente het nou die geleentheid om ’n herder vir ds Pieter te wees en hom by te staan.”
“Ek het al van perkante gehoor wat goeie herders is, maar gemeentes wat ‘herders’ is. Aikona.”
“Koos, ons sal die raad van die kopdoom moet volg. Ons doom het rus en hulp nodig. Hy moet kans kry om te genees. Ek bring dan my siek skaap huis toe en versorg hulle hier in die garage totdat hulle gesond is.”
“Julle sal ook die doom se werk moet minder maak. Julle kan baie dinge by hom oorvat.”
“Jy is reg, Koos. Ons kan. Waarom moet hy alles alleen doen en ons almal sit agteroor. ’n Gemeente is mos soos ’n hanslam … kry nooit genoeg gesuip nie. Hulle tap arme ds Pieter.”
Na die Sondagmiddagete het oom Koos vertrek.
Uitbranding het betekenis gekry.
- Dr Kobus Smit is ’n emeritusleraar en fotograaf van Kleinbrakrivier.
- Dié teks is ná publikasie aangepas vir leesbaarheid. –Red.

Ek vermoed die uitbranding het meer te doen met te veel onsigbaarheid en ‘n gebroke verhoudingsgerigte bediening.
Woerts warts besoeke en gebrekkige vertroue en wedersydse ondersteuning bring predikante gewoonlik binne 2-3 jaar op hul knieë.
‘n Predikant en dokter en onderwyser wat nie kontak met mense en ondersteuning uit plaaslike bodem kry nie, kan nie oorleef as hulle uit die katedrale se torings en alleen vanaf die hoogtes van hul seepkiste probeer om ‘die weg’ te wys nie.