Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die groot ‘D’ vra genadige medemense

IN DIE DONKER PUT. ’n Eerlike kyk na spanning, depressie en uitbranding en hoe om dit te herken en te hanteer.
Deur Johan Smith
Uitgegee deur CUM, 2015


Hierdie boek kan gerus maar op die boekrak van Kerkbode-lesers staanplek kry. Johan Smith beskryf die ongenaakbare uitwerking wat klinie­se depressie – of die groot “D” – op ’n persoon en sy/haar gesin kan hê en gee raad met die hantering van hier­die siekte. Kliniese depressie ontstaan deur “’n wan­balans van neurochemiese oordragstowwe in die brein” en kan deur trauma veroorsaak word. In ’n hoofstuk of drie gee Smith aandag aan uitbranding (dit is om te veel balle gelyktydig vir ’n onbepaalde tyd in die lug te hou), bekommernis en spanning, wat ook ’n teel­aarde vir depressie kan skep.

in_die_donker_putDie skrywer gebruik ses lewensverhale om die leser ’n kykie te gee na die pyn wat met depressie gepaardgaan, maar gelukkig ook in die oorwinning daarvan. Dit is geskryf vir volwassenes met depressie, vir ouers met kinders wat depressie het, en vir elke “genadige medemens” wat wens om diegene met depressie sinvol te ondersteun.

Die verhale van bekende kerkmense soos Henk en Ansie Gous en Rick en Kay Warren word ingesluit. Die vooroordeel van sommige gelowiges ten opsigte van depressie word ook uitgedaag. Kliniese depressie is ’n komplekse psigiatriese toestand en vir doeltreffende intervensie word medikasie en psigoterapie vereis. Chris­tene wat depressie het, behoort verder ook onbe­vange hul toevlug te kan neem tot ’n gemeente van medemense wat hulle met begrip en deernis bystaan. Nuttige “moets en moenies” vir hierdie belangrike taak van die kerk word in Smith se boek gevind.

’n Jammerte is dat die skrywer die boodskap van bemagtiging vir mense in die donker put subtiel in die voet skiet met die volgehoue kwistige gebruik van die etiket “depressielyer” (wat semanties ’n eksterne lokus van kontrole impliseer), selfs nadat hy dit direk stel: “Wees ’n depressievegter en nie ’n depressielyer nie” (bl 108). Persone met depressie moet aangemoedig word om ’n interne lokus van kontrole te ontwikkel en nie toe te laat dat hul menswees deur hierdie toestand gedefinieer word nie.

▶ Dr Hetta van Niekerk is ’n opvoedkundige sielkundige.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top