Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

ASM: ‘Bid vir politieke leiers, beskermingsdienste, regbank, fluitjieblasers en slagoffers van misdaad, korrupsie en geweld’

Die amptelike persverklaring wat hieronder ingesluit word, is nie 'n nuusberig deur Kerkbode nie. Die persverklaring word in sy geheel hier gepubliseer vir die rekord en ter wille van lidmate se vrye toegang tot amptelike inligting in die kerk.


Die Algemene Sinode Moderamen (ASM) het tydens sy vergadering van 28 Februarie tot 2 Maart opnuut besin oor ons roeping in ons lande en ons verbintenis aan die waardes van menswaardigheid, geregtigheid en ’n opregte omgee vir almal met wie ons hierdie tyd en konteks deel, luidens ’n voorstel deur dr Leon M Foot (sekondant: Ds Jan Lubbe).                       

Ons doen dit selfondersoekend, bewus van ons eie aandeel aan dit wat nie spreek van hierdie waardes nie en die impak daarvan op ons medemens. Ons is besorgd oor vervreemding en rassisme wat in ons samelewing voorkom. Ons kon egter ook nie swyg oor die volgende nie:

 

  • Die ASM het met ontsteltenis en ontnugtering kennis geneem van die onthullings oor korrupsie, wanadministrasie en staatskaping wat die afgelope tyd aan die lig gekom het. In sekere sin is dit bloot die jongste in ’n eindelose reeks soortgelyke sake van die wapenskandaal en Sarafina II, deur die Life Esidimeni tragedie tot by Eskom. In byna elke provinsie en munisipaliteit pluk burgers die wrange vrugte hiervan. Dit is veral die armes en kwesbares wat die swaarste  getref word. Ons verwys kortliks na enkele sake:

* die energiekrisis met toenemende beurtkrag wat inwoners se lewens, boerderye en besighede se sake ontwrig,

* die beweerde korrupsie en misdaad – tot op kabinetsvlak! – by Eskom, soos onlangs deur sy voormalige Hoof Uitvoerende Beampte mnr Andre De Ruyter onthul is,

* plaaslike regerings se gebrekkige dienslewering wat onder andere lei tot rou riool wat in die strate af spoel,

* infrastruktuur soos paaie, spoorlyne en openbare vervoer wat in duie stort met vernietigende gevolge vir die inwoners,

* die toegang tot skoon drinkwater en ander dienste wat nog nooit deur die regering voorsien is òf  lank nie meer vanselfsprekend is nie; waar gemeenskappe letterlik vir weke sonder water sit,

* die agteruitgang van ons internasionale fiskale posisie en aansien: eers is ons beleggingsgradering verlaag na rommelstatus en nou is ons op die Financial Action Task Force se sogenaamde grys lys van lande wat nie genoeg doen om geldwassery en die befondsing van terrorisme te bekamp nie – al was die regering reeds sedert 2019 bewus van die risiko,

* die regering se klaarblyklike alliansie met Rusland – te midde van die inval in Oekraïne – wat nie net ons handelsbande met die Weste in gevaar stel tot nadeel van al die land se inwoners nie, maar ons ook amptelik laat swyg oor die ernstige vergrype aan menselewens, waardigheid en skaars hulpbronne wat met hierdie oorlog gepaard gaan en ons eie verbintenis aan menseregte in gedrang bring,

* en dat al bogenoemde net verder bydra tot die verdieping van die gaping tussen ryk en arm in ons lande, en die gevoel van groeiende hopeloosheid in ons onderskeie gemeenskappe.

 

  • Dit is misdadig van leiers op alle vlakke van regering om openbare bronne te misbruik vir selfverryking. Dit is onaanvaarbaar dat sulke sake openbaar gemaak word sonder dat dit spoedeisend ondersoek en die betrokkenes voor die hof gedaag word.
  • Die ASM wys die regering op hoofstuk 10, par 195 (1) van die Grondwet wat bepaal dat openbare administrasie beheers moet word deur ’n hoë standaard van beroepsetiek en dat die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne bevorder moet word. Die ASM is nie oortuig dat dit gebeur nie.
  • Die ASM roep die owerheid op om sigself in die openbaar te verbind tot norme en waardes soos eerlikheid en geregtigheid wat ook in die waardes van die Grondwet van die land verwoord word, en om alle raadslede en amptenare wat hulle aan die vertrapping hiervan skuldig maak, te vervolg.
  • Die ASM verbind onsself opnuut tot geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid (Miga 6) in ons strewe na herstel en lewe in ons lande.
  • Die ASM doen daarom ook ’n beroep op lidmate van die NG Kerke om op geen wyse deel van hierdie vlaag van korrupsie en misdaad wat oor ons lande spoel, te wees nie, maar hul tewens te verbind tot die stryd daarteen.
  • Die ASM roep daarom alle gelowiges op om te bid vir die regering en alle politieke leiers; vir die beskermingsdienste, regbank en fluitjieblasers; vir die slagoffers van misdaad, korrupsie en geweld; en vir die volgende nasionale verkiesing wat in 2024 in Suid-Afrika gehou gaan word sodat daar ’n wending ten goede in ons gemeenskappe mag kom.

 

 

 

 

 


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.