Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Die eerste vyf jaar na ’n droogte is die moeilikste tyd om die boer op sy plaas te hou, want hy het nou nodig om sy kudde te bou en in so ’n toestand te kry dat hy hulle kan bemark," sê Berto Archer, veeboer van Namakwaland. Foto: Le Roux Schoeman

Droogte: ‘Die Here weet wie jy is, waar jy boer en waardeur jy gaan’


Wanneer ’n deurwinterde veeboer se keel toetrek oor skenkings van veevoer, dan kliek iets in ’n mens se eie binneste waarom landbougemeenskappe nie oornag sal herstel as ’n paar goeie reënbuie geval het te midde van ’n droogte nie, veral een gereken as van die ergstes wat die Noord-Kaap in jare getref het.

Berto Archer is die sesde geslag veeboer in sy familie om in verre Namakwaland tussen die kokerbome van die Kamiesberge te boer met skape en bokke. Hy ken van droogtes, maar hy raak emosioneel wanneer hy oor die huidige een praat wat hier nog ver van verby is.

“Hy het ons kuddes vernietig, ons grond, ons gemeenskap, ons kultuur, want ons kuier nie meer bymekaar nie … maar,” voeg hy dan by, sy stem skor en sy oë nat, “weet jy deur die droogte het ek geleer, gesien, die Here sorg elke dag. Wanneer ons met ’n veevoerskenking by ’n boer aankom en hy vra ‘wie gee dit?’, kon ons vir hom sê ‘die Here weet wie jy is, Hy wéét wie jy is, waar jy boer en Hy weet waardeur jy gaan …”

As jarelange voorsitter van hulle plaaslike landbouorganisasie, Agri Namakwaland, was Berto en sy vrou Sulene nou betrokke by droogtehulpprojekte in hierdie geweste van die Noord-Kaap. Daarom dat Kerkbode onlangs met hulle gaan gesels het op hulle plaas Pedroskloof om meer uit te vind hoe projekte soos RSG Red ’n Plaas, die skoenbokseprojek en vele ander vir mense in nood gehelp het.

Lees meer: NG Kerk Noord-Kaapland vat weer hande met RSG Red ’n Plaas

Reënbuie volg ons al die pad uit die Kaap tot ons aankoms sowat 500 km later op die Archers se gasteplaas. Voor dagbreek die volgende oggend is dit verby. In die helder son onder die blouste blou hemel is dit gou duidelik waarom Archer sê hier en in dele verder noord tot teen die Oranjerivier het dit nog nie genoeg gereën om die sowat agt tot nege jaar van droogte te breek nie.

Die veld is kaal gevreet. Foto: Heléne Meissenheimer

Die veld is kaal gevreet. Soos die bruingebrande 52-jarige boer dit stel terwyl hy kniel om die afgevrete bossies te wys, “die skaap het die sagte klippe al opgevreet”.

Hy wys ’n besproeiingsdam wat sy pa in 1971 gebou het. Dit kan 295 kiloliter water hou om lusern en ander gewasse te besproei wat vir veevoer gebruik word, maar die dam lê droog al vir nege jaar. Nie eens die twee wolkbreuke ’n paar maande terug, wat 23 km van sy grensdraad weggespoel het, het gehelp nie. Die modderbodem is ’n blokkiespatroon van diep krake, want die riviere wat dit moet voed, loop (nog steeds) nie.

Hy is een van by die 300 boere hier in Namakwaland wat bid vir goeie winterreëns sodat die veld kan begin herstel en die riviere weer kan loop.

Ons hoor by hom as boere swaarkry, dra dit ook oor na hulle gesinne en op ’n manier ook na die gemeenskap. Soos Berto verduidelik: “… om vir maande nie geld te hê om hulle (jou vee) kos te gee en te versorg nie … en oor maande (jou vee) te sien uitteer en doodgaan … het ’n verskriklike effek op ons psige en jy dra dit maar na jou gesin toe oor en op ’n manier ook na die gemeenskap”.

Berto Archer wys ’n besproeiingsdam wat sy pa in 1971 gebou het. Foto: Helene Meissenheimer
Ds Jannie van Schoor.

Dit is waar, bevestig ds Jannie van Schoor die volgende oggend op Kamieskroon. Hy het in 2020 op Kamieskroon as nuwe NG leraar aangekom toe die droogte die gemeenskap al agt jaar in ’n wurggreep gehad het. Die impak daarvan op die mense het hom soos ’n 10-pond hamer geslaan. Soos hy dit stel: “Ek het gesien hoe krimp mense ineen, hoe begin hulle twyfel in hulle gebede, hulle geloof en die bestaan van God.”

Die kospakkies, skoenbokse en fondse wat danksy die NG Kerk Noord-Kaap se Droogtehulpprojek by hom uitgekom het om uit te deel, het egter ’n reuseverskil gemaak. Hy vertel: “Dat daar droogtehulp is wil ek die Here voor dankie sê …  (daardeur) het ons iets van die welwillendheid van mense van letterlik regoor die land beleef (en) gesien hoe mense van dankbaarheid gestraal het … dit het regtig vir mense uitkoms gebied.”

’n Dag later gesels ons met Suzette Gaybba van Zyl wat reeds vir agt jaar werk as sekretaresse vir Agri Namakwaland op Springbok, die landbouorganisasie geaffilieer met Agri Noordkaap, een van die vennote met RSG Red ’n Plaas. Deel van haar pligte was en is steeds om seker te maak dat hulp uitkom by mense wat dit nodig het. Ook vir haar is die uitdeel van droogtehulp by tye ’n emosionele belewenis. Sy vertel sy was dikwels in trane, maar dit het ook van haar ’n “ryper mens gemaak om ander se nood raak te sien … om in ’n gesigsuitdrukking en die manier waarop iemand na my toe aankom te sien hier is fout en ek hoef nie te vra wat dit is nie”.

Suzette Gaybba van Zyl is ook deeltyds koster by NG Gemeente Namakwaland op Springbok. Die gedenkplaat in die voorportaal lui 1919, die jaar wat die gemeente fondse vir die oprig van die kerkgebou ingesamel het, was “een der vreeselykste droogtes” . Foto: Helene Meissenheimer
Elton Vries hou sy vee aan die lewe met drie boorgate waaruit hy water met sonkrag na opgaardammetjies soos hierdie pomp. Foto: Le Roux Schoeman

Ons ry al wip-wip daardie middag saam met veeboer, Elton Vries, in ’n geleende bakkie oor sandpaaie verby kampies met skaapkarkasse, Martha se droë pan en rooi sandduine. Sy plaas, Amam, is so 60 km noord van Springbok met ’n Oranjerivier in vloed net 15 km noord daarvan, maar hier hou hy sy plaas aan die gang met ’n paar boorgate se brakwater.

Hy vertel dit was sy pa se droom om ’n plaas te kon besit, maar hy kon dit net sowat 10 jaar uitleef. Na sy pa se beroerte in 2016, moes hy wat Elton is sy werk by die myn los en kom boer. Die droogte het net begin wurg. Van ’n reeds karige reënval van sowat 130 mm per jaar het die genadewater in die jare daarna nog minder geraak – een jaar was dit minder as twee teelepels water.

Soos Elton sê, “die storie van my plaas is water”. Hy hou sy vee aan die lewe met sy boorgate waaruit hy water met sonkrag na opgaardammetjies pomp (als kontant opgerig). Dit raak soms bloedig warm. Die son het onlangs so geskroei dat ’n waterpyp gebars en 20 000 liter water, een dag se waterbehoefte vir sy skape, in die sand weggesak het.

Elton Vries by Waka, sy waghond wat sy bokke oppas. Foto: Le Roux Schoeman
Elton Vries by Ruben Cloete, sy voorslag plaasbestuurder. Foto: Helene Meissenheimer
Sulene Archer in haar restaurant op hul gasteplaas wat sy bedryf vir ’n bykomende inkomste. Foto: Helene Meissenheimer

Maar ’n mens hoor hom nooit kla nie. Hy moes ook soos Berto en die meeste veeboere tydens die droogte sy veekuddes kleiner maak. Elton werk ook weer vier dae per week by die sinkmyn op Aggeneys. Die inkomste uit sy plaas se veeverkope is tans te min om hom en sy raakvatvoorman Ruben Cloete te onderhou. Wanneer hy wel op sy plaas kom, is sy grootste plesier om tussen sy beeste, skape en bokke te kom, en om hallo te sê vir Waka, sy basterrifrug wat tussen die bokke bly om hulle op te pas.

Elton meen dit is omdat sy diere hom nodig het, dat hy die plaas hou. Dit én die hulp met veevoerskenkings wat hy gekry het via Agri Namakwaland waarvan hy ’n lid is. “Was dit nie vir my boerevereniging nie, dan sou dit baie harder gewees het … ek sou nooit die droogte alleen kon gestaan het nie.”

Oor hierdie paar dae hoor ons ook dat die betaal van hulle kinders se skool- en koshuisgelde vir baie boere ’n groot kommer was. Daarom, sê Berto, is hulle so dankbaar vir droogtehulpprojekte soos dié een van RSG Red ’n plaas wat in vennootskap met die NG Kerk Noord-Kaapland, hulle maatskaplike organisasies Caritas Gemeenskapsfokus en Diakonia asook die landbouorganisasie Agri Noordkaap aangebied is en miljoene rande vir hulpverlening ingebring het.

Hy vertel: “Ons kon met die genade van Bo en met die skenkings van mense en met die hulp van projekte soos RSG Red ’n Plaas vir boere op hulle plase hou en die volgende geslag kinders op skole en in koshuise gehou het.”

Elke Namakwalander met wie ons gepraat het, is dankbaar dat mense gegee het. Elke R10, elke skoenboks vol bederfprodukte vir boervroue en elke vrag veevoer en kospakkies het gehelp. Sulene vertel die skoenboksies wat met soveel sorg gepak is, het haar spesiaal laat voel, “dit was soos Goddelike seën van êrens af”.

Droogte se nadraai vat 5-10 jaar

Berto het einde verlede jaar uitgetree as voorsitter by Agri Namakwaland. Hy noem hy weet terwyl hy met Kerkbode praat is daar elders in die land ook hulp nodig weens ramptoestande na hoë reënval en vloede, maar hier in droë Namakwaland en ander dele van die Noord-Kaap is fondse vir veevoer en ook vir humanitêre hulp ook ’n kritiese nood.

Hy verduidelik: “Die eerste vyf jaar na ’n droogte is die moeilikste tyd om die boer op sy plaas te hou, want hy het nou nodig om sy kudde te bou en in so ’n toestand te kry dat hy hulle kan bemark. Anders as met vorige droogtes was daar tot dusver nie veel hulp van regeringskant nie en die koöperasies en banke gaan hulle pond vleis begin eis.

Foto: Helene Meissenheimer

“Droogte kom in siklusse. Ons is in jaar agt, ander in jaar nege, maar in die res van die land het dit begin reën. So vertrou ons gaan ons ook ons beurt kry … maar al reën dit vandag en volgende jaar, gaan dit 10-15 jaar vat om die effek van die droogte uit te wis.

“Dit is hoekom projekte soos hierdie RSG Red ’n Plaas Camino so belangrik is om boere op hulle plase te hou … elke bydrae help.”

Só help jy boere op plase hou: Besoek https://caritas.org.za/red-n-plaas/ om ’n donasie te maak.


Kerkbode se betrokkenheid by Red ’n Plaas

Kerkbode se oogmerk is om voortdurend vernuwend op te tree ten einde ’n betroubare nuus- en kommunikasiediens te bied wat lidmate en gemeenteleiers binne die NG Kerk op hoogte hou en toerus.

Dit sluit in die maak van video’s wat op boeiende wyse die “goeie stories” van die kerk en haar vennootorganisasies vertel. Video’s wat gratis en maklik toeganklik is vir ’n breë digitale gehoor.

Daarom dat Kerkbode met trots as mediavennoot betrokke is by 2023 RSG Red ’n Plaas Camino saam met NG Kerk Noord-Kaapland, Caritas Gemeenskapsfokus, Diakonia, Agri Noordkaap en Tankwa Camino.

Bybel-Media se videograaf, Robert Cable, neem vir Berto Archer af terwyl hy ’n windpomp nagaan. Foto: Helene Meissenheimer
No data was found

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.