Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

‘Dit is ’n voorreg om die lewe te bevraagteken deur die lens van stories,’ vertel Elmarié Dercksen oor haar debuutroman, Gawe van groen. Foto: Heléne Meissenheimer

KYK: Dominee se debuutroman vra vrae oor vrouwees in manswêreld


As ’n jong meisie in die Vrystaat het sy twee goed ontdek. Dat sy mal is oor stories, én dat twee stelle reëls geld vir seuns en meisies. Hiervan het sy niks gehou nie.

Soos dat seuns nie daarvan hou as jy ’n meisie is wat baie vrae vra in die Graad 11-katkisasieklas nie. Dan is jy te slim.

Dit is baie jare en leef later. Elmarié Dercksen het grootgeword, eers musiek studeer en toe teologie om ’n dominee te word. Dié werk, al is dit nie altyd maklik nie, geniet sy as ’n groot voorreg, vertel sy aan Kerkbode een winderige herfsoggend oor ’n koppie tee. Ons sit in die leefvertrek van die tweeverdiepinghuis waar sy, ds Thinus Britz, haar man en medeleraar by Bloubergstrand-gemeente en hulle saamgestelde gesin in Melkbosstrand bly.

Deur die groot eetkamervenster sien ’n mens die see. Elmarié sê dit lyk vandag so groen soos ertjiesop. Meeue dobber daarop soos wit papierbootjies.

Op die donkerhout eetkamertafel tussen ons lê ’n boek met op die voorblad ’n jong meisie wat oor haar kaal rug

loer na wat lyk soos plasse groen plante agter haar. Elmarié se debuutroman, Die gawe van groen, is vroeër vanjaar deur Lapa-uitgewers gepubliseer.

Lapa skryf op hulle webblad die boek “beeld op treffende manier ’n jong vrou se sielkundige ontwikkeling uit, tesame met ’n besef van haar ontwakende seksualiteit en die mag wat sy as vrou het in ’n wêreld wat deur mans regeer word”.

Elmarié het haar eie eerste storieboek geskryf. Dit het haar 18 maande gevat om 90 000 woorde in ’n roman vas te vang. Twee goed is die boek nie – dit is nie ’n kinderboek nie en ook nie ’n teologiese boek nie. Elmarie erken laggend sy was eers bekommerd wat haar ma van die boek gaan dink, want ja, daar is erotiese elemente in, maar “sy het gesê dit is nie so erg nie, dis baie stylvol en mooi”.

Geklee in ’n gemaklike donker hemp en lapbroek, kaalvoet en met haar geliefde Chinashop rescue hond, Sparkie, langs haar lyk Elmarié soos iemand wat gemaklik is in haar eie vel. Op haar linkerarm vang ’n lang tatoeëermerk mens se oog – “dis ’n kitaar in Picasso-styl,” verduidelik sy, simbolies van haar liefde vir musiek.

Die boek volg kort op haar meestersgraad oor die verband tussen gender en gesondheid. Oor dié studieveld sê sy “dit het my die woorde gegee vir die ding wat ek my hele lewe ervaar … oor die dubbele standaarde en die rol wat ook die kerk speel in die onderdrukking van vroue in Afrika”.

Lees ook: Oor liggame gepraat: Wie se stories en stemme word  (nie) gehoor?

Sy verduidelik dat sy mans en vroue sien as vasgevang in ’n patriargale sisteem, maar dit is niemand se skuld nie. Haar doel is om die “sisteem te ontmasker”.

In plaas van nog ’n akademiese tesis het sy besluit om ’n storie te skryf. Hierdiie boek is deel een en sy is reeds ’n ent weg met die opvolg wat in Augustus moet klaar wees.

Sy vertel dit is ’n boek wat uit haar hart kom en dit gaan oor die vrae wat sy in haar kop en hart het. “Daarin word ’n klomp vrae gevra oor liefde, seks … of liefde kan instaan vir selfbeskikking as jy nie ’n stem het nie? Wat as een vrou sou bestaan wat die vermoë sou hê om nie besit te word nie?”

Lees ook: Preekvoorbereiding: In die straat, siekeboeg, saailand, ja, selfs in die studeerkamer …

In die boek is daardie vrou Sati (beteken ‘tevrede’), die jong meisie met die gawe, wat op ’n epiese ossewatrek (ja, ossewa!) gaan vanaf die waterryke suide na die dorre binneland om daar met koning Ghatra van die Noorde te trou. Op pad raak sy verlief op die jong kaptein wat vir haar ongewone plantjies aandra en te perd vat om vir haar dinge soos die see en ’n kokerboomwoud te wys.

Dit is fantasie gemeng met herkenbare eg Suid-Afrikaanse elemente. Soos Lapa skryf ‘Die gawe van groen is ’n unieke skepping, wat elemente van historiese fiksie, avontuur, romanse en magiese realisme vermeng …”

Op die vraag of erotiek, dominee en die Bybel dan as ’t ware bedmaats kan wees, meen Elmarié die antwoord is ja. “Ek sien in my werk daar is ’n groot behoefte aan integrasie … God het ons as ’n hele mens gemaak. Liggaam, siel, hart, krag, verstand alles … en deur die eeue worstel gelowiges hoe om sinvol met hierdie goed om te gaan.

“Ek dink hierdie boek probeer daarvan deel wees … dit probeer ’n gesprek open tussen wat waar en eg en goed en Godgegewe is en hoe werk ons dit uit in ons lewe op ’n goeie manier …”


Regstelling: ’n Vorige weergawe van dié berig het verkeerdelik genoem dat Dercksen predikant is by Blouwaterbaai. Sy is predikant by die NG Kerk Bloubergstrand. – Red.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Kopiereg © Kerkbode 2025

Scroll to Top