Ons sit om ’n tafel in Atteridgeville wes van Pretoria. Ek en nagraadse studente gesels met ’n biskop en priesters van Afrika Onafhanklike kerke oor prediking. Op ’n stadium maak die biskop sy keel skoon, kyk vir my en sê met groot erns: “Sermon preparation is dangerous.”
Nou ja, ek doseer onder andere preekkunde, so indien dit inderdaad die geval is, is my klasse ook gevaarlik. Hy gaan verder en neem die groter Pretoria as voorbeeld. Verduidelik dat julle in Pretoria-Oos – en “Oos” is hier simbolies vir alle predikers in tipiese hoofstroomkerke (NG, VG, Luthers, Anglikaans) – mos prediking hoofsaaklik in ’n studeerkamer voorberei. En dan doen julle dit byvoorbeeld op ’n Dinsdag- en Donderdagoggend. Hy skud sy kop: “That is very dangerous.”
Die “oosterlinge” in die kerksaal in Atteridgeville frons vir die biskop. Ons luister. Nee, hy is nie gekant daarteen dat ons baie erns met die teks maak nie; dat ons met eksegese tot op die been van ’n teks sny en hope tyd daaraan spandeer nie, dit is nie sy punt nie. Inteendeel, hy stuur self sy priesters vir teologiese opleiding. Sy punt, verduidelik hy, is dat preekvoorbereiding gevaarlik is, wanneer dit slegs tot sekere tye van die week beperk word. “If a priest of my church has to preach this Sunday, there may not be one moment in the course of the preceding week, that he is not preparing.”
Die biskop se “preaching preparation is dangerous” volg my al lankal soos ’n skaduwee. Maar ek besef al meer hy bedoel gewoon net hiermee dat predikers voltydse “luisteraars” moet wees voor hulle mag “praters” raak. Hy bedoel dat predikers die hele week lank na alles en almal moet luister – na die Bybeltekste, na die mense vir wie hulle gaan preek, na hoe nuusgebeure op voetsoolvlak in Atteridgeville ontvang word, na hulle eie lewe, na die Gees van God en tegelyk na die gees van ’n teks, na ’n land, ’n gemeente en lidmate en na hulle eie hart. Wanneer die biskop verder gaan en verduidelik dat predikers altyd “in the Spirit” moet wees, sluit dit vir hom histories-kritiese eksegese van Bybeltekste in om so ook in die “spirit” van die betrokke teks te kom.
Net verlede week sê ’n prediker van Khayelitsha vir my dat die teks waaroor hy moet preek hom as prediker eers in die voorafgaande week moet opeet, alvorens hy dit as prediking kan deel. Dit is deel van die biskop van Atteridgeville se luister. Dit gaan daaroor dat prediking in die oor van die prediker en met diep luister begin en eers na baie soorte luister in ’n mond eindig. Dit is waarom prediking ’n tydsame en moeisame proses is en ook een rede waarom teologiese opleiding tyd neem. Ook mense en kontekste vra vir eksegese. Uiteindelik gaan dit, soos Johan Cilliers dit so treffend verwoord met die titel van een van sy onlangse boeke, oor “timing grace”.
Indien preekvoorbereiding beperk word tot drie ure “voor Donderdagmiddag”, word hierdie heilige tydsberekening in die kansel nogal moeilik. Dit is hoekom ’n uitnodiging om te preek vir mense wat ek nie ken en mee saam leef, lag en huil nie, ’n uitdaging is. En dit is presies ook waarom die prediking van gemeentepredikante deel van die hartklop van die bediening is. Hulle weet baie goed “preekvoorbereiding is gevaarlik”, dit is waarom hulle preekvoorbereiding elke oomblik leef met die oog op die tydsberekening van die genade vir die mense met wie hulle saamleef. Hulle doen dit in die straat, in die siekeboeg, in die saailand, ja, selfs in die studeerkamer.
Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.