Ma kyk op haar horlosie en skud haar kop. “Wanneer kom oom Bartjie nou?” sê sy. “Hy’s al vier minute laat.”
Ons is al van vroeg af by die kerksaal, saam met tannie Hester en tannie Baba en die ander tannies van die ACVV. Oral staan koekblikke en Tupperware-bakke rond, en kartondose vol ou klere en persente.
Dan skommel ’n blou Thames-bus aamborstig by die hek in, met oom Bartjie agter die stuur in sy wit stofjas. Toe oom Bartjie ons sien, druk hy die bus se toeter.
“Hiertjougat!” roep tannie Pop, wat aan haar senuwees ly en maklik skrik.
LEES OOK: ‘Ons moet anders na die natuur begin kyk en besef alles is verbind aan mekaar’
Dit is amper Kersfees. Ons gaan Barkly-Wes toe. Ma het agt sjokoladekoeke gebak, tannie Hester het vir jêmtertjies en springmielieballe gesorg, tannie Sannie het ou klere ingesamel, tannie Baba het boekmerke gemaak met Bybelversies daarop … Hulle gaan vir die kinderhuiskinders persente vat.
Tannie Sannie het as kind polio gehad en stap met ’n kruk, maar een, twee, drie toe is sy by die bus se trappies op, tot op een van die regop bankies.
Voor ons ry sê Ma vir oom Bartjie om eers te wag en vra vir tannie Hester om eers vir die Here te vra om tog sy hand van veilige bewaring oor ons te hou. Oom Bartjie se bus is ’n ou bus wat blou dieselwolke maak, en Barkly lê meer as 30 myl ver onder Ghaap se berg.
Ons is net by die lokasie buite die dorp verby, toe sit tannie Sannie die eerste Halleluja-lied in: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …”
Oom Bartjie se bus wieg soos ’n skip op die see en Ma-hulle sing Halleluja’s en in my sak het ek ’n blokkie pienk-en-wit klapperys wat tannie Hester skelmpies vir my gegee het. Ma sal raas as ek dit nou eet, dis nog te vroeg vir lekkergoed.
LEES OOK: Die toekoms is nou elke volgende oomblik
Die kinderhuiskinders staan op die grasperk voor die kinderhuis en wag toe ons daar stilhou en tannie Sannie hard sê: “Ag, foei, kyk net die arme bloedjies.” Ma-hulle klim uit die bus en stap na die kinders toe en vat aan die kinders, maar dit lyk nie of die kinders mooi weet wat om te doen en te sê nie. Ek probeer dink hoe dit moet wees om nie ’n pa en ’n ma te hê nie, maar dit maak my bang om daaraan te dink.
Ma-hulle pak die sjokoladekoeke en goed op ’n lang tafel op die grasperk voor die kinderhuis uit, dan kap die hoof van die kinderhuis, ’n lang man in ’n safaripak, met ’n vurk se agterkant op die tafel, wag vir almal om stil te word, en bedank vir Ma-hulle vir tien minute lank omdat hulle gekom het om die kinderharte bly te maak. Daarna bedank tannie Hester op haar beurt die hoof van die kinderhuis vir tien minute vir wat húlle als vir die kinders doen.
Dan wil Ma-hulle gaan kyk hoe lyk dit binne-in die kinderhuis. Slaap die kinders warm? Eet hulle goed?
Tannie Baba stap met ’n dogtertjie aan die hand rond. “Waar’s pappa en mamma?” vra sy vir die dogtertjie. Die dogtertjie begin saggies praat en tannie Baba buk oor die dogtertjie en terwyl die dogtertjie nog so praat, begin tannie Baba huil. Sy haal haar sakdoekie uit haar horlosiestrêp en vee daarmee oor haar wange.
En toe tannie Pop hoor waaroor tannie Baba huil, begin tannie Pop ook huil.
LEES OOK: Die blik wat ’n bakkie bied
Tannie Sannie beduie met haar kruk na ’n ouer seun, en fluister: “Daai ene se pa het hom met siegrets gebrand.” En nóg tannies begin huil.
Die kinders gee vir Ma-hulle trane, nou deel Ma-hulle drukkies en tjoklitkoek en springmielieballe vir hulle uit. En elke kind kry ’n geskenkie, toegedraai in blinkpapier: ’n waslap, ’n koekie seep, ’n pakkie klapperys en een van tannie Baba se boekmerke.
Party van die kinders hardloop jillend agter die bus aan toe ons wegry en verdwyn in die dieselwolk agter ons. In die bus is dit stil. Dit voel of Ma-hulle die weeskinders se hartseer kom haal het en ons gaan nie daarmee teen die opdraend by Ulco uitkom nie. Die ou bus se bakwerk bibber en die enjin kla.
Dan vrek die enjin. Die bus loop nog ’n paar treë en gaan staan in die middel van die pad. “Nee, herder, wat nou?” vra tannie Baba.
Oom Bartjie kom regop agter die stuurwiel, lig die klap voorin die bus op waaronder die enjin is, en staar met ’n frons tussen die oë na die enjin. Skud sy kop. Peuter hier, peuter daar.
LEES OOK: Inklusiewe taal: ’n Praktiese manier om geregtigheid te help bevorder
“Ons is gelukkig, susters,” sê hy ná ’n ruk. “Dis net die battery se draad wat losgekom het.” Hy maak ’n klapgeluid met sy tong. “Maar ongelukkig sal julle hom vir ons aan die brand moet stoot, susters. Anders weet ek nie.”
Een na die ander staan Ma en die ander vroue op en stap by die bus se trappies af.
Tannie Hester wil nog vir tannie Sannie keer, maar tannie Sannie gaan staan agter die bus saam met die ander, kruk in die een hand.
En oom Bartjie druk sy kop by die bus se venster uit en tel: “Een! Twee! Drie!”
Die sakdoekies is nie meer in Ma-hulle se hande nie. Hulle lyf buig krom agter die bus en tannie Pop roep: “O, gaats, daar leer my kous!” En die bus beweeg nie. En oom Bartjie druk weer sy kop by die venster uit en sê: “Jammer, susters, dit was net ’n grap.”
Nie Ma of enige van die vroue is meer hartseer toe hulle terugklim in die bus nie. Die enjin vat weer en die ou bus begin weer wieg soos ’n skip op die see en nie ver nie, toe sit tannie Sannie weer daardie Halleluja in: “As Hy weer kom, as Hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels …” en ek druk my hand in my broeksak en eet die laaste krummels van daardie blokkie klapperys.
Dankie liewe Dana vir die saam ry in die bussie was soos altyd n ervaring. Mooi loop liefde onse Dana