Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

By sy nuwe woonplek is nie juis plek vir ’n tuin nie, maar hy het nou sonneblomme in ’n groot pot geplant. “Daardie plantjie met die sterk stingel gaan een van die dae ’n knop uitstoot wat ’n blom gaan word. Dit hoop ek. Dit glo ek. Dit weet ek,” skryf Dana Snyman.

Dana Snyman: ‘Ons moet anders na die natuur begin kyk en besef alles is verbind aan mekaar’


Die sonneblomme groei mooi. Vyf van die saadjies het stingeltjies bokant die grond uitgestoot, en toe kom die blaartjies. Een stingel is besig om ’n stam te word en staan al lekker hoog, met blare so groot soos ’n piering.

Die pakkie saad het ek vroeër vanjaar in Amsterdam in Nederland gekoop.

Dit is ’n droewige bekentenis om te maak, maar dit is die eerste keer dat ek iets plant. Self plant. Met hande wat vuil word van die grond. Self plant en natgooi. Iets wat kan groei en blom. In my sestigste jaar.

My vorige huis het ’n gevestigde tuin gehad, vol vetplante. Ek het die tuin natgehou en wanneer dit nodig was, het ek die oom van die tuindienste gebel om sy mense te bring om die gras te sny, die onkruid in die beddings uit te trek en die olyfboom se takke te tem terwyl ek in die huis voor my rekenaar sit en tik. Ek het die aarde verloor met te veel woorde.

Ek verbeel my ek onthou hoe ek as kind vir Pa help om dahliabolle te plant.

In ons motorhuis het ’n sekere tyd van die jaar ’n klompie dahliabolle gelê wat Pa van iewers af bestel het. En dit was nie sommer net vir in die grond druk en wag vir die eerste spriete om uit te kom nie. Die bolle is iewers tussen Augustus en November geplant wanneer dit al reën of nie gereën het nie en die maan sus of so was. Dahlias, het Pa ook geglo, moet middagson kry. Daardie geleefde kennis het ek verbeur, Pa is daarmee graf toe.

En wanneer die bolle geplant is, het Pa dit by die bepaalde dag op die kerkalmanak aangeteken: “Plant dahliabolle”. Asof dit ’n offer is wat hy bring.
Ma was ook lief vir tuinmaak. Gaan kuier ons by mense het sy dikwels met ’n steggie van die een of ander plant terug huis toe gegaan.

Dit was ’n soort ritueel. Ons almal sou al by die mense se hekkie staan, reg om te ry, dan sou Ma ’n plant in die mense se tuin opmerk en soontoe stap. Nie lank nie, dan gaan haal die tannie van die huis ’n snoeisker en knip vir Ma ’n steggie af. Of sy bring ’n klein grafie as dit ’n varing of ’n plant is wat uitgegrawe moet word.

Met die steggie toegedraai in ’n sneesdoekie in Ma se hande ry ons dan terug huis toe.

Maar by plante, struike, bome en tuinmaak het ek nie uitgekom nie. Te veel op die langpad. Twee mislukte huwelike. Duisend-en-tien adresse.

Op laerskool moes ons vir een of ander vak ’n boontjiepit tussen twee stukke watte in ’n piering laat ontkiem. Dit onthou ek nou. Hoe ek elke oggend angstig die watte oplig en dan, op ’n dag, kyk, daar is ’n fyn groen sprietjie besig om deur die boontjiepit se ronding te beur. En elke dag word daardie sprietjie ’n rapsie langer, op soek na grond om in te groei.

Daardie verwondering vir die natuur het ek verloor. Die paradys voor Adam begin name gee het. Nou, laat in my lewe, soek ek weer na iets daarvan.

Annie Dillard skryf aangrypend in haar boeke oor dáárdie soeke. Ook Barry Lopez. En nou die dag koop ek Karen Armstrong se nuwe boek Sacred nature: How we can recover our bond with the natural world. Dieselfde middag gaan sit ek daarmee op my stoepie en begin lees, tot die berge oorkant die vallei eers ’n dieper groen word, toe rooierig, en toe is dit donker en kom dryf ’n halfmaantjie in my honde se waterbak by die voordeur.
In die moderne tyd het ons wat Westers grootgeword het, geleer God is iewers in die hemel, verwyderd van die aarde, sy skepping. God regeer die aarde van ver af.

Ons het met analitiese oë na die wêreld leer kyk. Elke mens, voël, dier, plant en klip is iets apart van ons wat gemeet, geweeg, gedissekteer en onder ’n mikroskoop bekyk kan word. Die aarde is daar vir ons om te gebruik. Onbeperk.

Daardie manier van kyk het ’n skeiding gebring tussen ons en die natuur en gemaak dat ons die aarde begin misbruik. Daarom verander die klimaat oor die wêreld heen, oral met tragiese gevolge. Ons sien die vloede oor die TV, die droogtes, die brande.

Ons moet anders na die natuur begin kyk en besef alles is verbind aan mekaar, dan sal ons meer respek hê vir die aarde en die volheid daarvan.

“If we could see God clearly, it would not be God,” skryf Karen Armstrong. “But if we learn to contemplate nature correctly, we find that the tiniest particle of soil can yield a glimpse of the ineffable divine.”

Iets wat Uys Krige aangevoel het toe hy sy kort “Sonneblom”-gedig geskryf het:

Na die bron
van alles, die son
één beurende drang
één goue verlang!

Laatmiddag gaan sit ek gewoonlik op die bank op my stoepie. Soms verbeel ek my Pa en Ma sit by my. Hulle was lief daarvoor om laatmiddag op die stoep te sit. Net stil daar te sit en te kyk en te wees wat hulle diepste self wil hê hulle moet wees.

By my nuwe woonplek is nie juis plek vir ’n tuin nie, maar ek het nou die sonneblomme, wat ek in ’n groot pot geplant het. Daardie plantjie met die sterk stingel gaan een van die dae ’n knop uitstoot wat ’n blom gaan word. Dit hoop ek. Dit glo ek. Dit weet ek.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Dana Snyman: ‘Ons moet anders na die natuur begin kyk en besef alles is verbind aan mekaar’”

  1. Gerrit Boonstra

    Dana krap hier die kern oop van ons mislukking om Jesus te volg: die mens wat God en sy Self afgeskei het van die goddelike kosmiese skepping. Hierdie onvermoë on daagliks te leef in die diepe en breë besef dat die totale skepping, die mens, die natuur en God self onlosmaaklik en onvoorwaardelik verbind is in hierdie drie-eenheid. God bestaan in die mens, plant, dier en grond. Sy energie is die lewensbron van alle lewe. Ons noem daardie energie liefde. Om daardie eenheid wat liefde onderlê te versteur, beteken die ondergang en vernietiging van alles materieel, soos ons weet wat al voorheen op aarde gebeur het. Maar goddank kan ons nie die kosmiese spirituele dimensie vernietig nie. En materie verander in voorkoms, maar nie in essensie nie. Dit het Jesus se inkarnasie van die Skepper ons geleer deur sy opstanding en ewige her-lewing

Comments are closed.

Scroll to Top

Ondersteun Kerkbode se joernalistieke projek

Ons redaksionele invalshoek is “Meer lig as hitte”. Ons hou jou op hoogte van kerknuus en bied ’n platform vir verhelderende lesersdeelname.
Teken in op ons weeklikse elektroniese nuusbrief of ondersteun ons werk vir so min as R20 per maand

Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.