Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ek het grootgeword en skoolgegaan in die ou Suid-Afrika, ’n era toe daar vele onbevraagtekende sekerhede was om jou lewe mee te rig. Die NG Kerk en jou NG ouers het jou geestelik gelei. Die eerste minister en die Nasionale Party het die land volgens die wil van God regeer. Of dít het ons geglo.

Dana Snyman | Die toekoms is nou elke volgende oomblik

Nog altyd het ek my verjaardag stillerig gevier, maar toe ek onlangs sestig word, nooi ek ’n klompie mense en ons braai en gesels tot laat in die nag.

Ek is nou amptelik bejaard. Ek kan afslag by die Spar kry, teen halfprys gaan fliek en in party winkels in ’n aparte, korter ry staan.

Eers was dit nogal ’n amusante gedagte, maar toe tref dit my: Oor ’n paar jaar gaan ek die verwarde oom wees met wie mense in verkleinwoordjies praat, die een wat stadig in sy bakkie in die verkeer aankarring, die een wat kort-kort in ’n gesprek opstaan en in die badkamer se rigting skuifel. Toe kom ’n skemerte oor my en ek gaan soek die foto wat Pa op my sesde verjaarsdag in ’n speelpark op Swakopmund van my geneem het.

Kyk, daardie seuntjie met die borselkop op die glyplank is ek.

Waar is al die jare heen?

My 40ste en 50ste verjaardag het my nie veel laat nadink oor my lewe nie, maar op 60 is dit asof ’n mens die behoefte het om rekenskap aan jouself oor jouself te gee. Het jy in jou beroep bereik wat jy wou? Is daar nog plekke wat jy graag wil sien en beleef?

En wat van jou binnelewe? Het jy van tóé tot nou geestelik ontwikkel?

’n Mens is nie ’n voltooide wese nie, dit weet ons. Jy is voortdurend aan die word. Soos John Updike dit stel: “Each day, we wake slightly altered, and the person we were yesterday is dead.” En dit is goed so. Ek wil nie weer daardie simpelrige 13-jarige seun sonder rugbytalent wees wat vir die Springbokke wou speel nie. Of die 22-jarige lat, wat Camels probeer rook het om hom selfvertroue te gee. Of die 41-jarige man wat knaend te veel drink en vroue misbruik. Of die 52-jarige wat wonder oor die bestaan van God.

LEES OOK: Hoe moet ek vir my demensielyer-lewensmaat sorg?

Ek het grootgeword en skoolgegaan in die ou Suid-Afrika, ’n era toe daar vele onbevraagtekende sekerhede was om jou lewe mee te rig. Die NG Kerk en jou NG ouers het jou geestelik gelei. Die eerste minister en die Nasionale Party het die land volgens die wil van God regeer. Of dít het ons geglo. Die weermag en die polisie het gesorg dat ons dorpe en stede veilig is. Die amptenary het hulle brood in die sweet van hulle aangesig verdien, korrupsie was daar bitter min.

Nou is dit anders in die land en in die kerk, maar om terug te gryp na daardie ou, geestelike sekerhede is vrugteloos – vir my, altans. Ek het nie meer dieselfde beeld van God as daardie seuntjie op die glyplank nie: ’n Kwaai ou man met ’n baard iewers bokant jou in die lug wat jou wil straf.

Tot te laat in my lewe het ek aan daardie godsbeeld vasgehou. Die beeld van ’n toornige God, wat ek knaend met hardvogtige gebede probeer paai het, die Een aan wie ek gedurig allerhande beloftes gemaak het as Hy tog net sal maak dat dit of dat met my gebeur of nie gebeur nie. ’n God vir wie ek pal bang was.

Weer Updike: “… a loud and evident God would be a bully, an insecure tyrant, an all-crushing datum instead of, as He is, a bottomless encouragement to our faltering and frightened being.”

LEES OOK: Ons kort dieper vrae oor wat normaal nou eintlik is

Hier in my 60ste jaar leer ek hoe om met onsekerheid saam te leef, nie ’n moedelose, desperate onsekerheid nie – ’n hoopvolle onsekerheid omdat jy besef ons ken nou ten dele en verstaan ten dele, eendag sal dit anders wees. God het vir my die Groot Misterie geword.

Ek wonder oor mense wat praat asof hulle presies weet wat God se bedoelinge is. Is sulke mense nie dikwels dié wat ander op een of ander manier wil straf nie – dikwels met ’n Bybelvers as regverdiging daarvoor? Hulle sekerhede maak hulle wreed.

Daardie behoefte om altyd reg oor een of ander kwessie of saak te wil wees, het ek ook in my. Die knaende stryd teen jou ego is ’n Dawid-Goliat-stryd en telkens wen Goliat.

Daarom is Yehuda Amichai se gedig, “Doubts and Loves”, vir my so treffend:

 

From a place where we are right

Flowers will never grow

In the Spring

 

The place where we are right

is hard and trampled

like a yard

 

But doubts and loves

dig up the world

like a mole, a plough

And a whisper will be heard in the place

where the ruined

house once stood

 

Hierdie soort onsekerheid het niks met lamsakkigheid en beginselloosheid te doen nie. Dit beteken nie jy draai gedurig jou mantel om die wêreld te behaag nie. Sulke onsekerheid het alles te doen met die liefde, ’n radikale soort liefde, ’n moeilike liefde wat jou wil laat vriende soek waar ander vyande sien, wat jou aanspoor om oor allerhande grense heen jou in ander se skoene te probeer plaas. Is dit nie die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het nie?

Al draai dinge hoe skuins in die land, is dit steeds vir my al eerbare pad vorentoe.

Ek kyk weer na daardie seuntjie wat ek was op die glyplank. Hy was bang vir God, bang vir sy pa, bang vir sy juffrou, bang hy gaan dood en gaan hel toe.

LEES OOK: “Klakkelose ideologie van sosiale geregtigheid”?

Op sestig is ek verlos van sulke vrese en dankbaar daaroor. Dat my lyf gaan begin ingee en my naderende dood bly ’n ongemaklike gedagte.

Daar is nog plekke wat ek wil sien en ervaar, maar net om in die middag met my honde in die veld te stap, is ook vir my genoeg. Ek verwonder my aan hoe die laatmiddaglig die gras laat gloei, die berge in die verte, ’n penstreep teen die horison.

En kyk hoe is alles in die heelal aan mekaar verbind: klip, plant, dier, mens, ster.

Vir daardie seuntjie op die glyplank was die toekoms iewers ver. Vir my het die toekoms elke volgende oomblik geword, en alles is ’n geskenk en genade.

Hoe skrikwekkend heerlik is die aarde en die volheid daarvan nie.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

9 thoughts on “Dana Snyman | Die toekoms is nou elke volgende oomblik”

  1. Gail Opperman

    Dankie Dana…. ek is ook oor 60 en dink presies soos jy! Ek was ook bang vir alles en almal….vernaam vir God. Nou gesels ek elke dag met hom in my benoudheid en in my vreugde. Hy ken ons diepste wese, vrese en behoeftes. Ek gaan nie hel toe as ek sommer die f…. woord gebruik of bitter kwaad word vir dinge in die land, of mense vermy wat nie my siel voed nie! Baie geluk weereens!

  2. Dirk van Papendorp

    Dana kan die lewe so raak opsom; ek is naby die sestig maar ervaar ook al sy verwondering oor die misterie van God se Skepping wat elke dag ons openbaar word. God is groot!

  3. Daniel Bester

    Ek is die jaar ook 60 en kan identifiseer met alles wat Dana skryf. Dankie vir jou skryfwerk. Jy het ‘n stem gegee aan ons generasie

  4. Madele Burger

    Dankie Dana, dit is dan seker ‘n sestigding dat jy oor jou lewe nadink en veral dat die besef kom dat die ouderdom jou wel bekruip al wil jy dit ontken. En dan die besef dat die toekoms in ons kleinkinders se hande lê en ons elke geskenkdag net moet aangryp en voluit geniet. Want ek is nou ook amper sestig en dit is wat deur my kop ook gaan.

  5. ROBERT L BARRIE.

    Dana waar nou in 70’s en word goed kwaad Vir die Nat Broeders wat alles geregeer het; ons bejok het met Engelse; Swart en Rooi gevaar… ons grens toe gestuur het terwyl hulle kinders veilig was … en toe op einde net verdwyn het met die lekker pakkette wat hulle beding het MAAR weet dat die Here ons almal lief het en om gee voor en nie net hulle nie … soos hulle ons vertel het nie!

  6. dankie Dana vir n raak beskrywing.
    aan Jesus Christus al die eer vir die lewe wat ons gegun word.

  7. Gerrit Boonstra

    Dana, jy verpersoonlik die nuwe denke oor religie, die afskeid van ‘n godsbeeld (dus ook ‘n wêreldbeeld) wat uitgedien is. Maar genadiglik kies jy nie om God te verwerp nie (soossie die nuwe mode is onder kerklike ontnugterdes), maar soek en vind die driedimensionele god orals en altyd.
    Daarmee knoop ons “nuwe geslag” gelowiges n verhouding vas in die oortuiging dat die godheid liefde is, en gelowiges geroep is om.dit prakties in die wêreld te demonstreer (soos Neels Jackson ook in sy artikel mooi beskryf.)

  8. net so DANA fantasties raakgevat …ek dink ons almal dwaal met al daai gedagtes rond

Comments are closed.

Scroll to Top