Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Albin Bowler van Bellville skryf: Ds Danie de Wet van Willowmore skryf onder meer: “Tans probeer die kerkleiding die kerk stuur om klakkeloos die ideologie van sosiale geregtigheid na te volg.” (Lees die brief HIER).
Ds Danie, gee asseblief enkele voorbeelde van sosiale geregtigheid (ek vermoed onbybelse aksies) wat die kerkleiding verwag dat predikante klakkeloos moet navolg.
Ds Danie skryf ook: “Maar ons taak bly steeds om volgens ons belydenisskrifte die Woord te volg en uit te leef.”
Moontlik het u dit onbewustelik swak gestel, want dit klink tans of die belydenisskrifte vir ons aanraai of moet wys hoe om die Woord te volg en uit te leef. Die Woord is superieur, die belydenisskrifte ondergeskik. Ek vermoed Calvyn sou baie ongelukkig wees met die huidige stelling.
Lees ook: Wie verdrink in al die golwe wat kerkstryd maak?
Die Reformasie se beginsel van semper reformanda est dui daarop dat ons voortdurend nuut moet dink hoe om die Woord te volg en uit te leef. Ons kan nie alles net so herhaal soos honderde jare gelede nie, want kontekste verander en nuwe toepassings moet gemaak word.
Ds Danie skryf ook: “My en jou taak is egter om die mense in ons sorg dissipels te maak – en die dissipels te help om ook dissipels maak.”
Ds Danie, verduidelik asseblief wat verstaan jy onder dissipelskap sodat gemeentelede die Woord sal volg, uitleef en andere ook dissipels sal maak, waaronder aksies wat die ASM en res van NG Kerk moontlik nalaat of oordoen.
