Tuisversorging van mense met demensie en selfs Alzheimer-demensie is aan ’t toeneem, volgens die skrywer van ’n nuwe boek oor oudword. “Die versorger neem gedurig saam met die geliefde afskeid van vaardighede, omstandighede en drome wat nie meer verwesenlik kan word nie,” skryf dr Petrus Moolman in sy boek Lééf!. Le Roux Schoeman doen verslag.
Watwou grys hare en plooie, weet jy wat ouderdom met jou tande, jou hart en jou sekslewe gaan maak? So vra die skrywers van ’n selfhelp-artikel deur die span by Mayo Clinic, die Amerikaanse gesondheidsorgreus.
Dit voel soms of die oop geheim van ons onafwendbare oudword en afsterf in ’n verloorstryd teen ontkenning (denial) gewikkel is. Asof die meeste van ons onsself, in terme van Bybelse karakters, eerder by lankdienende Henog skaar as by die Leviete in Numeri wat op 50 die amp moet neerlê. Jy mag dalk saamneurie wanneer Bob Dylan sing, “He not busy being born is busy dying”, maar hoeveel van ons deel dit werklik as lewensuitkyk? ’n Ganse subgenre van internet-soektogte en die artikels wat dit oplewer (of wat daaruit spruit), lees eerder soos inkantasies as “regte” vrae met vaste antwoorde …
Aging: What to expect?
What actually causes aging?
What are the 4 aging types?
What are 3 signs of aging?
So Google ons sterflinge ons fone voos op dit wat doodseker op ons wag – mits misdaad of ’n frats ons nie vroeër afmaai nie …
Dit is nie dat die Mayo-span se artikel (Aging: What to expect), en vele ander soortgelykes, nie waardevol en ingelig is nie. Dit is seker so ’n knap verweer soos 1 700 woorde teen die dood kan bied. (Mayo Clinic as organisasie sorg vir meer as 1,4 miljoen mense per jaar in die VSA en 140 ander lande). Die probleem lê elders. Ons is uiteindelik weerloos, uitgelewer en waarskynlik ten diepste net nie OK daarmee nie. Anders sou aanvaarding nie die moeisame aktiwiteit gewees het wat dit blyk te wees nie. En sou traumatiese dinge wat met ons en ons vriende en familie gebeur nie voortdurende skok en maande of jare se rousmart tot gevolg gehad het nie.
‘Maklike’ wenke soms bitter moeilik
So oudword is ingewikkeld om te aanvaar en wenke om wal te gooi teen vermybare nadele van die groter oudwordproses is kennelik moeiliker as wat dit klink. Eet vesel, hou op rook, praat met jou wederhelfte oor jou intiemste vrese, vergewe jou vyande, vlos jou tande, koester verhoudings met jou volwasse kinders … Hoekom sou hierdie goed nou maklik of selfs haalbaar wees indien jy op die spits van jou vermoëns daarmee gesukkel het? Of probeer het, maar misluk het. Of dalk nie eens probeer het nie …
Dit klink als onteenseglik wys en waar, maar in die domein van wenke is dit soos om te sê: As jy eendag ’n Springbokslot wil wees, raai ons jou aan om 2 m lank, erg atleties en balvaardig te wees.
Dit is boonop nie net ’n uitdaging wat hom hier anderkant in Huis Herfsblaar uitwoed nie. Daar is meer mense op 60 en ouer as onder 5 jaar en die proporsie van die wêreldbevolking wat ouer as 60 is, sal tussen 2015 en 2050 byna verdubbel (van 12% tot 22%), volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie. Ons praat meer spesfiek van 426 miljoen mense op 80 of ouer teen die jaar 2050. Teen daardie selfde datum sal sowat 150 miljoen mense leef met demensie, ’n toestand wat dikwels nie net die individu oorweldig nie, maar ook diegene wat hom/haar moet versorg.
Die reis na ‘Newelland’
Dr Petrus Moolman is die afgelope vier jaar betrokke by die NG Gemeente Overkruin in Pretoria waar hy as “gerontologiese pastor” werk. Hy meen ’n nalatenskap uit die vorige eeu is ’n “probleem”-ingesteldheid ten opsigte van ouerwordende mense. “Die gerontologiese denke (het) dramaties verander en (daar) word baie meer positief gedink en geskryf oor ons veroudering. Die ontwikkeling van die positiewe sielkunde het hierin ’n groot bydrae gemaak,” aldus Moolman (81).
“Ek is tans besig met ’n redelik omvattende publikasie oor die reis van die Alzheimer-demensie huweliksmaatversorger saam met ’n lewensmaat op reis na – wat ek noem – ‘Newelland’. Moolman het sy PhD in Pastorale Studies aan Noordwes-Universiteit in 2018 behaal en pas ’n boek getiteld Lééf! by Groep 7 Drukkers en Uitgewers gepubliseer. Hy brei uit: “Die vroeër denke oor veroudering het van die ouerwordende mens ’n objek van ‘bediening’ en hoofsaaklik versorging gemaak. Aftrede is daardeur gekenmerk dat ’n voorheen gesiene, aktiewe persoon beskou is as iemand wat ‘bedien’ moet word. Die talle bouprojekte van ouetehuise deur kerke en welsynsorganisasies in die jare sewentig en vroeër, staan in die teken daarvan.
“Sedertdien het ouetehuise ontwikkel tot noodsaaklike sorgeenhede vir persone wat in die terminale fase van veroudering gekom het, met veral toestande van verskillende demensietipes. Aftreeoorde met ’n nuwe filosofie het tot stand begin kom en ontwikkel steeds nuwe benaderings,” verduidelik Moolman.
Hy bepleit ’n holistiese benadering. “Die boek (Lééf!) beantwoord die vraag na die noodsaaklikkeid van vars denke oor seniorvolwassenebediening,” aldus Moolman. “Die dikwels byna eensydige ‘soteriologies-eskatologiese’ benadering, maak plek vir ’n bediening:
- Wat die hele mens in al ons fasette van bestaan raak (fisies, psigies-sosiaal én religieus) en bemagtig.
- Dit maak die seniorvolwassene ’n deelnemer en nie ’n objek van bediening nie.
- Seniorvolwassenebediening is ’n selfstandige bediening in die geloofsgemeenskap (soos jeugbediening) en word nie as onderafdeling van ’n ander bediening bestuur nie (behalwe natuurlik inrigtingsorg vir verswakte en terminale persone).
- Dit is toerustend en motiverend om die ouerwordende persoon te begelei om ons talle tipiese verouderingsverwante uitdagings voortgaande te kan bestuur.
- … om lewenslank, die reis betekenisvol te kan lééf – selfs in die sorgeenheid waar ons dan werklik objekte van versorging word.”

Demensie: Tuisversorging neem toe
Moolman se skryfstyl is formeel, saaklik, met so ’n ligte glimlag om die mond. ’n Mens sou dit (heel te verwagte) as pastoraal kon bestempel. Hy haal David Viscott op ’n kol aan: “The purpose of life is to discover your gift. The work of life is to develop it. The meaning of life is to give it away.” En hy maak ook ’n brëër punt oor inklusiewe teologie wanneer hy op bl 24 van sy boek Lééf! skryf oor ontoeganklikheid van eredienste vir gehoor-, sig- of fisieke gestremdhede.
Hy staan later stil by “die vrees vir demensie”. “Daar is min ouerwordende mense wat nie die vrees uitspreek dat ’n mens jou kognitiewe vermoë kan verloor in die later jare van jou lewe nie. Die vrees is ongelukkig nie ongegrond nie aangesien verskillende vorme van demensie hoofsaaklik in die later jare intree. Daar is verskeie aspekte ten opsigte van demensietoestande wat veroorsaak dat mense ongemak oor die moontlike vooruitsig op demensie ervaar.”
Moolman verwys dan onder meer na onkunde oor demensietoestande, by name Alzheimer-demensie, en die moontlike skadelike “praktyk van selfdiagnose” deur persone of hulle familie wat bekommerd is. (In teenstelling met professionele diagnose deur ’n kundige soos ’n neuroloog). “Professionele evaluering en diagnose het baie voordele,” skryf Moolman. “Dit beantwoord talle vrae wat in die gemoed van die persoon, sowel (as) die naasbestaandes ontstaan. Indien die aard van die demensietoestand vasgestel is, kan toepaslike medikasie en mediese behandeling gevolg word, wat vir die persoon self sowel as vir die familie en gesinsversorgers van onskatbare waarde is. Die medikasie wat aan persone met Alzheimer-demensie voorgeskryf word, kan nie die toestand genees nie, maar verhoog die lewenskwaliteit van die persoon in die proses van degenerasie.”
Moolman identifiseer (vir ’n kombinasie van redes) ’n stygende tendens in tuisversorging van persone met demensie “tot ’n redelike laat fase van die siekte wanneer byvoorbeeld Alzheimer-demensie ’n werklik mediese toestand word.”
Oor die verskynsel van “multigenerasie versorging” skryf Moolman: “Dit is egter so dat daar baie besondere uitdagings aan sulke gesinne gestel word. Dit is noodsaaklik dat daar werklik ’n gesindheid van toewyding aan die taak moet wees; dat gesinne bewus is van die eise wat dit aan hulle kan stel, veral met betrekking tot vakansies en tye van hulle noodsaaklike afwesigheid.” Hy lys ’n aantal kenmerke van multigenerasie versorgergesinne:
- Aanvaarding van die ouers en hulle omstandighede.
- Optimisme.
- Positiewe kommunikasiepatrone.
- Gehegtheid (connectedness).
- Spiritualiteit wat aanvaar en diensbaarheid bevorder.
- Sosiale ondersteuning en finansiële ondersteuning (laasgenoemde indien nodig).
Moolman wys daarop dat, hoewel die verswakkende toestand etlike jare kan duur, dit in rousmartpastoraat belangrik is dat huweliksmaats en familie die “terminale aard” van Alzheimer-demensie verstaan.
Om twee maal te rou
Die skrywer se pastorale invalshoek lei hom na die “gekompliseerde proses” wat die huwelikmaatversorger inwag. “Die agtergeblewe huweliksmaat beweeg letterlik deur twee rouprosesse. Die eerste proses vind oor ’n lang termyn plaas gedurende die versorgingsreis. Hulle ervaar die tipiese ‘fases’ van rousmart wat by die dood van ’n geliefde ervaar word … Opsommend is hierdie fases die bekende fases van ontkenning en isolasie, woede, onderhandeling, depressie en uiteindelike aanvaarding. In die geval van die eerste proses by die versorger, het die geliefde egter nog nie gesterf nie. Hulle leef, maar hulle lewe is ’n proses van verliese en degenerasie. Die versorger neem dus gedurig saam met die geliefde afskeid van vaardighede, omstandighede en drome wat nie meer verwesenlik kan word nie. In ’n sekere sin sou ’n mens kon sê die versorger “sterf” saam met die huweliksmaat met Alzheimer-demensie, maar hulle kom dit dikwels nie agter nie. Dit word ’n emosionele skok om na die dood te ontdek hoe klein hulle leefwêreld geword het en hoe hulle moet aanpas om weer die werklikheid in die oë te kan kyk.
“Wanneer die huweliksmaat sterf, tree die tweede fase van rousmart in – met presies dieselfde prosesse as die eerste.” Moolman vat saam: “Buitestanders verstaan nie die diepte van hierdie verlies nie, aangesien die huweliksmaatversorger hom of haarself in die proses verloor het en weer nuut moet ontdek.”
Meer oor die boek
Lééf! – ’n Vars kyk op seniorvolwassenebediening in die geloofsgemeenskap kan bekom word vanaf Groep 7 Drukkers en Uitgewers by: epos@groep7.co.za
Die prys is R60 per kopie vir een kopie – plus koerierkoste. R50 per kopie vir aankope van 10 en meer – plus koerierkoste. Kontak die skrywer per e-pos by moolman.petrus@gmail.com
