“Ek is gebore op Welkom, op ’n dag toe dit gesneeu het, in Augustus, en vir ’n oomblik is ek omgeruil en vir die verkeerde ma gegee. My eerste moedersmelk was dus van ’n ‘mev Van Vuuren’ af en nie van Mev Bezuidenhout af nie; van daai dag af was ek reeds anders,” vertel Ronell Bezuidenhout.
In haar graad elf jaar was sy en haar pa in ’n motorfietsongeluk betrokke. Drie en veertig operasies het gevolg. “Ek moes vrede maak met die feit dat ek nie musiek sou studeer nie, ek nie geweet wat om te doen nie. Totdat ek na ’n onderhoud op die radio geluister het met prof Yolanda Dreyer, wat daai tyd ’n Hervormde dominee was. En voila, net daar het die pennie gedrop! Ek het dadelik vir my ouers vertel, en hulle reaksie was: ‘O, wonderlik, dis reg, dan sal jy teologie gaan studeer.’ So, dis Yolanda se skuld!” sê sy.
LEES OOK: Johan van der Merwe: Liefde wen … is dit nog so?

Aan die begin van haar teologiese studies het Ronell nie besef ’n vrou kan nie as ’n dominee in die NG Kerk bevestig word nie. Dinge in die kerk was aan die verander en teen die einde van haar studies was sy een van die heel eerste vroue wat in die NG Kerk bevestig is.
“Dit was uiters moeilik daai jare,” sê sy. “Daar was nog geen rolmodelle nie en aanvanklik het ek die heeltyd die gevoel gehad van ek pas nie in nie.” Sy onthou hoe ’n dosent vir haar gevra het of sy besef sy vat ’n man se plek.
PODSENDING: Luister hier na Jaco Strydom se gesprek met Ronell Bezuidenhout
Maar sy het ook ontdek anders-wees is nie noodwendig ’n slegte ding nie. “Elna Mouton het eenkeer een van die wonderlikste goed vir my gesê, sy het gesê jy moet altyd met jou een voet op die drumpel van die kerk staan, en met jou ander voet op die drumpel, die trappie, aan die buitekant”.
Deur die jare was sy in die bediening by verskeie NG gemeentes. Vandag woon Ronell Bezuidenhout op Groot-Brakrivier waar sy onlangs bevestig is in die Lutherse kerk. “Dit was ’n wonderlike mistiese ervaring hoe dit gebeur het,” vertel sy.
Ronell is ’n skrywer, ’n dominee en ’n kunstenaar (om ’n paar te noem), maar die woord wat haar waarskynlik die beste beskryf is: mistikus.
“Die hele lewe is eintlik ’n mistieke belewenis,” sê sy.
Daar is verskeie geloofsgewoontes waarop daar tradisioneel in die kerk gefokus word, maar sy het ontdek dat daar drie ander is wat ’n groot effek op ons geestelike groei kan hê (wat almal in Engels met ’n “S” begin): Silence, Solitude and Simplicity.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Rudi en Ivor oor die kerk en die land wat brand
Sy het besef dat as sy dít wou ervaar, sy heel eerste van van haar TV ontslae moes raak. “En toe moes ek myself dwing om te sê ek gaan elke besitting weggee. As ek wou weet wat dit beteken om in eenvoud te leef, moes letterlik alles wat ek van nou af besit in my motor pas. En hulle sê lank na jy jou goed weggegee het, moet jy dit wat in jou hart is weggee, titels en persona, ons idee dat ons so vreeslik belangrik is. Die soeke na eenvoud in ’n wêreld wat sê jy moet meer en meer hê en heeltyd harder praat, is vir my moeilik, maar dit is die pad waarop ek is,” sê Ronell.
Sy het deur die jare ’n lot boeke en kursusse geskryf, onder andere ’n boek oor die Woestynvaders en in haar vrye tyd skilder sy ikone. Haar digitale bediening het meer as 40 000 volgers wat haar platforms per maand besoek; met lesers in 81 lande.
“Dit verstom my, want ek dink nie ek skryf oor maklike onderwerpe nie,” sê sy. Die grootste en uitdagendste meditasiereeks wat sy nog geskryf het was ‘Visio Divina’, ’n Lydenstydreeks wat uit 40 ikone bestaan.
Ronell word dikwels genooi om reekse by gemeentes aan te bied. “Ek glo die kerk is die oefenruimte waar ons moet leer hoe om in die wêreld op te tree, en vir eeue lank, glo ek, probeer die kerk dit doen. Ek sien raak dat die kerk nie perfek is nie – en dank die Here daarvoor! – ons maak droog, en dan moet ons leer om te vergewe en weer te begin. En ek is dankbaar die kerk begin altyd weer. Soos Benediktus van Nursia geleer het: ‘Always we begin again’. Ons bly maar onvoltooid, en dan begin ons maar weer.”
Behalwe vir al die bogenoemde is Ronell ook geaffilieer by ’n organisasie wat mediasie vir howe doen in familiereg en egskeidingsonderhandelings. Sy sê sy sal graag na haar aftrede haarself voltyds daarop wil toespits.
LEES OOK: Jaco Strydom gesels met Eddie le Roux: Kyk terug met dankbaarheid en met nuwe passie vorentoe
“Maar intussen gaan ek eers Pole toe vir die LWF (Lutherse Wêreldfederasie) se byeenkoms in September 2023 en wil dan daarna ’n paar kloosters besoek om meer oor hulle ikonografie te leer. So, ek leer nou volstoom om Duits te praat,” sê sy.
Ek vra haar oor die uitdagings in Suid-Afrika vandag. Wat pla haar?
“Ons het professionele ‘moaners’ geword. Ek preek deesdae vir mense om openlike waardeerders te word, waar dinge reg werk. Soos die munisipaliteit van Mosselbaai wat werklik uit hulle pad gaan om ’n verskil te maak … deesdae bel ek die munisipaliteit om dankie te sê.”
Wat sien sy raak wat mooi is?
“Gewone alledaagse mense se gewone alledaagse goedheid! Ek dink nie ons besef hoe ver ons in SA met rasseverhoudinge gekom het, in ’n wêreld wat nog nie naastenby is waar ons is om mense as gelykes te aanvaar nie. Ek troetel ons diversiteit. Ek sal nooit in ’n land wil bly waar almal dieselfde lyk en klink nie.”
Waarom volg jy vir Jesus? vra ek die voor die hand liggende vraag.
“Omdat ek nêrens ’n ander waarheid kan vind wat met Jesus s’n ooreenstem nie. En omdat die spiritualiteit van genade vir my in Jesus die beste geïllustreer word,” sê Ronell Bezuidenhout.
Ds Jaco Strydom is verbonde aan die Echo-Jeuggemeenskappe en die NG Gemeente Villieria.
