Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

“Mense wil dalk nie altyd vír die kerk gee nie, maar hulle gee graag déúr die kerk,” vertel Eddie le Roux vir Jaco Strydom wat met hom gesels kort na sy aftrede by NG Witrivier. Foto: Verskaf

Jaco Strydom gesels met Eddie le Roux: Kyk terug met dankbaarheid en met nuwe passie vorentoe


“Abraham Lincoln se sêding is spesiaal vir my geskryf: ‘Ek hou nie van daardie ou nie, ek sal hom beter moet leer ken,’” sê Eddie le Roux toe ek hom vra of die mense in die kerk al die lewe vir hom moeilik gemaak het.

“Hierdie klink vreeslik edel, maar ek was nooit beperk of verhoed deur die sogenaamde ‘terrible mense’ van die kerk nie, ek kon my geestelik uitleef en die dinge doen wat ek self geestelik nodig gehad het om te doen,” sê hy.

Ons gesels die dag na hy afgetree het as predikant by NG Witrivier.

Die gemeente het die afgelope Sondag van hom en sy kollega Jurgens de Jager, van wie Eddie met die grootste lof praat, afskeid geneem. Hulle twee het besluit om dieselfde dag op pensioen te gaan, want hulle wou dit vir die gemeente so maklik as moontlik maak om iemand in hulle plek te beroep. Gelukkig is dr Jaco Putter steeds daar om dinge deur te sien.

Een van die mooi dinge wat vir Eddie uitstaan in sy tyd in die gemeente is die sterk band tussen die kollegas wat hy deurentyd beleef het. Hy vertel hoe hulle mekaar aangemoedig en versterk het en elkeen die geleentheid gehad het om hulle unieke gawes uit te leef.

’n Mens sou jou maklik kon verspreek en van die “Omgeegemeente” Witrivier praat. En met reg so, want as daar ’n kerk is met ’n reputasie van omgee vir die nood in die gemeenskap, is dit hierdie gemeente, die enigste NG Kerk op Witrivier.

Hulle het enorme kosprojekte, weeklikse aksies vir haweloses en ander mense in nood, meer as een huis vir jongmense in nood en ek het self al meer as een keer op vreemde plekke sendelinge ontmoet wat deur hulle uitgestuur is.

Iets wat my al gefassineer het op ’n besoek aan die NG Gemeente Witrivier, was hoe baie van die gemeente se werk in die gemeenskap deur bejaardes en tieners gedoen word.

As jy Eddie hieroor uitvra wys hy na die teks waar Jesus gesê het die oes is groot en die arbeiders min. “’n Mens is opgewonde oor ’n groot oes,” sê hy, “nou moet jy net mense kry om te help om dit in te bring.” En dit is juis hierdie mobilisering van mense om in eenheid betrokke te raak by die nood in die gemeenskap waarvoor Eddie ’n passie het.

Selfs mense buite die kerk het al hulle gemeente as voertuig gebruik wanneer hulle ’n spesifieke nood in die gemeenskap wou aanspreek.

“Mense wil dalk nie altyd vír die kerk gee nie, maar hulle gee graag déúr die kerk,” sê hy.

Eddie was tot en met sy aftrede die dominee in beheer van die jeug- en missionale bediening van die gemeente. Hy sê hy het ontdek dat jongmense ’n mentor soek wat hulle help om hulle eie bediening te ontdek, en dat wanneer dit gebeur, die ouderdom van die dominee vir hulle minder saakmaak as wat ’n mens sou dink.

“Ons het op ’n dag besef ons vermaak jongmense, maar hulle verander nie en ons fokus geskuif van ’n jeugbediening as ’n bediening áán jongmense, na ’n bediening sáám met jongmense.”

Eddie sê hy was nie onbewus van sy ouderdom en beperkings nie, hy het geweet wanneer hy in die agtergrond in moes beweeg sodat die jonger jeugleierspan die ding kon doen.

“Jy ken jou beperkings, weet wanneer jy daar moet wees en wanneer nie. Die sleutel is die span, ’n klomp jongvolwassenes wat die ding snap,” sê hy. Baie van hierdie leiers, was voorheen in sy belydenisklas of saam op kampe en uitreike van die gemeente.

Eddie se verhaal is ’n verhaal van hoe die Here mense gebruik. Hy vertel van kollegas, vriende en ’n klomp ander mense wat deur die jare ’n invloed gehad het op sy bediening. Een van hulle is Nico Swart, die jeugdominee voor hom wat destyds ’n klomp nuwe dinge geïnisieer het. Sonder dat hy dit besef het, het hy deure oopgemaak vir dinge wat later sou kom.

Hoe lyk die toekoms vir ’n dominee wat nog so jonk van gees is? vra ek.

Sy plan is om besig te bly deur musiek, sport en barmhartigheidswerk.

“Veral barmhartigheidswerk!” sê Eddie en vertel hoe hy vandag meer as ooit opgewonde raak as hy byvoorbeeld ’n boemelaar sien, hy sien eintlik uit om nader te gaan, sy storie te hoor en hom beter te leer ken.

As ’n mens aftree, kan jy terugkyk en ’n klomp dinge in perspektief sien. Eddie praat onophoudelik oor hoe dankbaar hy is vir die mense wat die Here oor sy pad gestuur het. Juis dit het alles die moeite werd gemaak.

Waar het alles begin? vra ek.

“Ek wou nooit ’n dominee word nie. As kind het ek nie van kerk gehou nie, ek het gedink dis vervelig. Dominees was die vreemdste mense, hulle grappe was altyd flou, hulle het snaaks aangetrek en as die dominee loop was ek op my gelukkigste. As iemand gesê het hulle wens die dominee wil huisbesoek doen, het ek gesê ek wens die dominee wil wegbly. Ek het nie van die kerk gehou nie, maar ek het van die Here gehou!”

Sy pad met die Here het destyds begin toe sy pa, wat ’n alkoholis was, radikaal tot bekering gekom het.

“Ek het aan my lyf gevoel wat die Here kan doen en dit word vandag steeds net al hoe meer waar vir my,” sê Eddie.

Ds Jaco Strydom is verbonde aan die NG Gemeente Villieria en die Echo-Jeugbediening.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.