Ek werk in die Kweekskoolgebou op Stellenbosch. Dit is ’n gebou met ’n ryk geskiedenis en besondere atmosfeer. Mooi van buite en van binne. Maar vergeet ’n boek in jou kantoor en gaan haal dit daar in die aand tydens beurtkrag. Jy soek vinnig jou selfoon en skakel die flitsliggie aan. Die houtvloer en -trap kraak. Die ou bebaarde ooms in portretrame agter glas loer vir jou. Jy sien hoe hulle frons. ’n Plek van sogenaamde Godgeleerdheid (soos Teologie dikwels in Nederland genoem word) lyk veel eerder na ’n plek van Godverlatenheid. Jy kry jou boek en laat spaander.
En dan, in een en dieselfde gebou gee jy die volgende dag klas. Jy vra vir die studente om as deel van ’n kreatiewe preekmaakoefening, ’n selfoonfoto in die Kweekskool te gaan neem. ’n Foto wat volgens hulle iets verbeeld van God se teenwoordigheid in en om ons gebou.
Een student kom terug met ’n foto van die houer met gratis sanitêre doekies in die vrouetoilette. ’n Ander een met ’n foto van ’n piepklein plantjie wat in ’n kraak in die trappe by die hoofingang groei. Nog een is doodeerlik en erken dat hy die versoek te uitdagend gevind het en geen foto geneem het nie. En die Duitse student, ver van sy familie en geliefdes in Beiere, wys vir ons ’n foto van sy klasmaats. Elke foto, of die afwesigheid van ’n foto, verteenwoordig ’n sekere manier van kyk na die Kweekskool, en deur die Kweekskool na die wêreld. ’n God wat uit die gate van hulle belewenis verskyn – ’n tekort (aan sanitêre doekies), krake in ’n trap, die nie-neem van ’n foto, die afwesigheid van familie.
Die Nederlandse digter Gerrit Achterberg skryf in sy gedig “Ballade van de gastfitter” oor ’n man wat in ’n hysbak ry en onder meer sê: “En God is het gat en stort zijn diepte op mij uit.”
God as gat. Leegte gevul met diepte. Niks is Iets. Vertrek word aankoms. Afwesigheid teenwoordigheid. ’n Sagte sprong. ’n Engel deur my kop.
LEES OOK | KYK: Ds Charlotte se uitdaging aan NG Kerk oor diversiteit (Dag 4 van Wes-Kaapland sinode)
Wanneer God as gat haar diepte oor my uitstort word die wêreld paradoksaal en so ook goddelik poreus. Die Kweekskool, my kantoor, my kar, kombuis, kamer, kerk. Niks of Iets? Afwesig of teenwoordig? Godverlate of goddelik gevul? Dit hang af hoe ek kyk.
Dit is twee kante van dieselfde munt. Dit is paradoks – skynbare teenstrydigheid.
Met Hemelvaart word paradoks ook Parakleet. In Johannes 16 lees ons dat Jesus vir sy dissipels sê: “Dit is voordelig vir julle dat Ek weggaan.” Hoekom? “As Ek nie weggaan nie, sal die Parakleet nie na julle kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle stuur.” So word weggaan aankoms en afwesigheid teenwoordigheid. In die woorde van die digter Jan Swanepoel: “Die ganse dag is ene God.” Paradoks word Parakleet. En Parakleet is onder meer Trooster en Voorspraak. Ook Souffleur, die een wat in die vleuels van ’n verhoog vir die akteurs fluister – wat hulle herinner.
Die digter George Louw, wat die afgelope week oorlede is, skryf: “Ons soek U, God, opnuut –/ soos ’n blom wat oopgaan/ in die somer,/ sodat ons oë nuut kan kyk.” En dit is met oop digterlike oë wat sy oom NP van Wyk Louw in die openingsreël van sy gedig “Ecce homo” skryf: “Omdat Hy my verlaat het,/ laat Hy my nooit alleen.”
Volgens sommige kritici van teologiese opleiding is Jesus nie in die Kweekskool te vinde nie. Ek stem heelhartig met hulle saam. En voeg by, goddank nie.
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.