Die liefde wat ons kerk oor 10 jaar werklik anders sal laat lyk, is een waar gelowiges hulle hart en huis oopmaak soos wat ’n groep NG mense in haar eie lewe vir ds Charlotte Sibanyoni gedoen het.
Sibanyoni, die NG Kerk se eerste swart vrouedominee, is gevra om op die voorlaaste dag van die Wes-Kaapland sinode te praat oor diversiteit.
“Ons kompliseer diversiteit sodat ons dit nie prakties hoef toe te pas nie,” het sy gesê in ’n pleidooi vir sigbare diversiteit op kerkraad-, rings- en sinodale vlak van die NG Kerk.
“Ek dink as ons sê ons maak ons deur oop as ’n NG Kerk, is dit nie (’n geval van) kom in en sit agter en doen wat ons doen nie,” het Sibanyoni verduidelik. “Ek dink ook nie dit is ’n manier om te help – missionaal nie …Ons het dit reg gedoen vir jare … don’t get me wrong. Maar wat ons nou moet doen, is om mense (aan) ons tafels te kry met equal voices.”
Sibanyoni se uitdaging volg op ’n oggend waarin kerkleiers vanuit verskillende tradisionele bruin kerke pleidooie gerig het dat gelowiges in die NG Kerk nie ingetrek moet word in ’n “teruggrype na my groep” nie. Inteendeel, ons moet doelbewus aanhou om na mekaar uit te reik om goed saam te doen en saam te bid, het afgevaardigdes ook by dr Llewellyn MacMaster, uittredende moderator van die VGK Kaapland, gehoor.
Kyk ook: Belydenis, vergifnis en versoening op Genadendal
MacMaster het vertel hoe hy aangegryp is deur die saamreis van die afgelope paar jaar saam met ds Nelis Janse van Rensburg wat onlangs uitgetree het as moderator van die Wes-Kaapse streeksinode. Hulle het nie net op kerkvlak saamgewerk nie maar in mekaar se huise om braaivleisvure gekuier en so ontdek “sjoe, julle het dieselfde issues as ons, die gesigte lyk net anders”.


Die 29-jarige Sibanyoni, ’n medeleraar by NG Universiteitsoord in Pretoria, vertel haar gemeente is ’n plek waar mense instap en tuis voel al kom hulle uit verskillende taalgroepe en agtergronde. Sy vertel humoristies hoe die afkorting (NG Uni) in die diverse taal- en kultuuromgewing as “Nguni-kerk” gelees het en nou in omgangstaal so bekendstaan.
Lees ook: Jaco Strydom gesels met Charlotte Sibanyoni: ‘Bring verandering vanuit vrede, nie woede’
“Diversiteit lyk vir my as ons mense soos ’n Charlotte met ’n hart vir jongmense, vir kerk, vir hulle gemeenskap inneem en laat teologie swot,” vertel hierdie jong vrou wat as kind haar huiswerkerma net naweke gesien het terwyl sy van pleegsorg na kinderhuis geswerf het. Dit sal die diversiteit bring wat sy in die kerk wil sien … waar mense met mekaar op gelyke vlak ontmoet. Op domineevlak. Op die kerkraadsbanke.
Uit haar lewensverhaal het Sibanyoni vertel dat sy tans besig is met haar doktorsgraad in teologie danksy mense soos ’n ds Johan van Niekerk en ander wat destyds genoeg omgegee het om betrokke te wil raak by ’n “arm swart tiener” soos sy. Soos sy dit stel: “My lewe is ’n pad is vol genade van NG lidmate wat ingestap het …”
Die grootste vrees wat sy by Afrikaanse mense sien, is dat hulle bang is diversiteit gaan iets van hulle identiteit wegvat. Maar sy meen die vrees is onnodig by gelowiges. “Ons gaan saam ’n identiteit in Christus moet vind … en dit gaan niks van jou vat as mooi Afrikaanse mens of swart mens nie, dis my twee sente oor diversiteit, dankie,” sluit sy af voor ’n staande applous.

