NG Kerkleiers en hulle eweknieë in die Morawiese Kerk van Suider-Afrika het op Erfenisdag hulle kerkgroepe verbind om saam met mekaar ’n pad van versoening te stap.
Die geleentheid het plaasgevind op die historiese Morawiese sendingdorpie Genadendal.
“Ons is toegewy tot herstel, maar ons sal alleen weet wat dit behels deur saam met julle op reis te gaan, julle te omarm en deur julle ingelig en gelei te word,” het ’n emosionele ds Nelis Janse van Rensburg gesê in ’n vol kerkgebou tydens ’n diens van altesaam sowat twee en half ure.
“Om julle gesigte vandag voor my te sien is soos om God se gesig te sien …” het Janse van Rensburg, geklee in ’n swart toga met wit das, van die kansel gesê. Hy het bygevoeg en benadruk hierdie saamreis na versoening gaan nie maklik wees nie, maar dit is moontlik indien gelowiges deur die liefde van Christus gedring word.
Hy het gesê: “God is liefde en sy liefde is ’n liefde vir alle mense.”
Deel van die samekoms was ’n gesamentlike liturgie waarin die kerkgroepe se verbintenis tot eenheid bevestig is, onder leiding van eerw Edwin Arrison van die South African Christian Leaders Initiative (SACLI). Dit is op SACLI se inisiatief dat die geleentheid gereël is en het deel gevorm van ’n ekumeniese “Pelgrimsreis van Genade”, met sowat 60 “pelgrims” uit onder meer die NG Kerk en die Morawiese Kerk wat deelgeneem het. (Sien kassie onder)



Voor Janse van Rensburg sy boodskap met ’n gebed afgesluit het, het eerw Martin Abrahams, president van die Morawiese Kerk van SA, langs Janse van Rensburg kom staan met sy hand op die skouer van die moderator van die NG Kerk se algemene sinode. Abrahams het tydens sy spreekbeurt gesê versoening kan nooit bereik word as daar nie vergifnis is nie.

Sprekers was dit eens dat hierdie versoeningswerk nie goedkoop mag wees nie. “Dit moet ware versoening wees wat lei na outentieke verhoudings tussen mense. Die belangrikste versoeningswerk is aan die kruis gedoen en daarom mag ons dit nie ligtelik opneem nie,” het Arrison gesê.
Vir die “Genalers”, soos inwoners van die dorpie naby Greyton na hulleself verwys, was dit ’n besonderse dag. Genadendal was die eerste sendingstasie van die Morawiese kerk in Suid-Afrika. “Die dag het vir my besondere betekenis want Genadendal … is waar onse oorsprong is en waar onse kerk begin is,” het eerw Godfrey Cunningham, die leraar van die plaaslike gemeente later verduidelik.
Tydens die diens is ook ’n huldeblyk gebring aan drie vroue vir die rol wat hulle gespeel het:
- Vehettge Tikkue (later bekend as Moeder Lena)
- Wilhelmine Stompjes
- Ilse Naudé, vrou van wyle dr Beyers Naudé
’n Gedenksteen om hierdie drie vroue se historiese bydraes, al drie met ’n verbintenis aan Genadendal, te herdenk, is na die diens in die tuin van die dorpsmuseum onthul. Dit is gedoen deur Liesel Naudé (dogter van wyle Ilse en dr Beyers Naudé), Lettice Joemath (vrou van die afgetrede Morawiese biskop Augustine Joemath) en Fredrika Talliard, oudste vroue-inwoner van Genadendal.
Pelgrimsreis van genade
Die dag by Genadendal vorm deel van ’n ekumeniese Pelgrimsreis van Genade wat SACLI gereël het vir 60 pelgrims uit onder meer die NG Kerk en die Morawiese Kerk. Die reis se haltes het ingesluit ’n diens Vrydag by die Groote Kerk in Kaapstad en het Sondag geëindig met ’n gesamentlike gebedsdiens by Kaap Agulhas.
Volgens een van die pelgrims, ds Nioma Venter, het hulle groep by Kaap Agulhas rondom ‘n rotsuitbeelding van Afrika gestaan terwyl mense uit verskillende lande belydenis doen oor die onreg en gruweldade wat weens kolonialisme asook xenofobie in Afrika gebeur het. “… die hele naweek was gemik daarop om die grondgebied voor te berei dat ons vir 54 dae vir die lande in Afrika bid vir genesing en die Here se guns,” verduidelik sy. By hierdie geleentheid is ’n SACLI gebedsinisiatief dan ook geloods, genoem 54 Dae van Gebed vir Afrika, waarvolgens alfabeties elke dag vir ’n land in Afrika gebid word.

- Die berig is aangepas na publikasie.
