Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Agter die saal kook ’n groot, pot bredie, vertel Dana Snyman in sy jongste rubriek hieronder. By Phetile is haar man Alpheus Zulu, en vroue wat grootliks vrywillig kom kook en opskep: Willemien Nsibande, Constance Msimangu, Anventina Manjiku en Isaura Sibe. Foto: Dana Snyman

Dana Snyman: In my 60ste jaar op aarde groet ek vir die eerste keer ’n evangelis met die hand


Op Beeld se brieweblad lees ek die woord raak: Evangelis. ’n Woord wat ek min hoor.

Die skrywer van die brief, ene Martie van Mbombela, vertel van Phethile Zulu, ’n evangelis en ’n paar helpers wat daagliks meer as 200 kinders op Elandshoek kos gee.

Elandshoek is nie ver van die bergdorp in Mpumalanga waar ek vir die laaste paar maande woon nie.

Die volgende oggend vat ek die pad bergaf. In die holte by die bakkie se rathefboom lê die bottel pepersproei wat ek onlangs gekoop het. Ek was nog nie op Elandshoek nie. Soms ry ek op die N4 daar verby en sien die huisies teen die skuinstes.

LEES OOK: Hoe klink die Goeie Nuus in ’n post-Christendom wêreld?

Dit is vir my ’n waardige, nederige posbeskrywing: Evangelis. Ek wil nie banaal wees nie, maar ek kan nie aan Jesus as ’n predikant dink nie. Jesus wás ook nie ’n predikant nie. Tog kan ek aan Jesus as ’n evangelis dink, ongeag wat die woordeboek sê. Vreemd.

In my kinderjare het ’n evangelis van tyd tot tyd by die pastorie aangekom om met Pa oor een of ander saak te kom praat. Dit was byna altyd ’n ouerige man, swart, en hy het aan die kombuisdeur geklop – die agterdeur. Nie een se naam het ek geken nie.

“Engel, die evangelis is hier!” hoor ek Ma nog die huis in roep.

En Pa wat dan uit sy studeerkamer kom, en hy en die evangelis wat mekaar groet: “Hallo, moruti.” Die twee het mekaar ge-moruti. Beide se stemme oorvriendelik.

Pa sou die evangelis na sy studeerkamer genooi het waar hulle dan gesels het. Ek dink so. Ek glo so. Of het hulle op die agterstoep staan en gesels? Ek glo ook Ma sou nie vir die evangelis koffie gebring het in die huishulp of tuinwerker se emalje-blikbeker wat in die kas onder die wasbak gebêre is nie.

LEES OOK: Nuwe reeks volg Dana Snyman vir ’n maand lank op geloofsreis deur die land 

Die fyner besonderhede van die verlede ontglip jou moontlik eerste. Is dit omdat ’n mens dit só verkies?

Die evangelis sou van die NG Kerk in Afrika gewees het, weet ek nou. In daardie tyd het ek dit nie geweet nie. Die NG Kerk in Afrika was tóé net ’n naam wat ek op party Sondae gehoor het wanneer Pa in die oggenddiens afkondig: “Die kollekte by die deure gaan vanmôre aan die NG Kerk in Afrika.” Dit het vir my na ’n kerk ver en woes geleë geklink.

In die eerste elf jaar van my lewe het ek in my gedagtes en denke nie werklik in Afrika gewoon nie. Afrika was donker Afrika, noord van die Limpopo.

Nou draai ek regs by die bordjie wat beduie: Elandshoek. Iemand sal vir my kan sê waar ek vir Phetile Zulu kan kry. Dadelik is ek op ’n stamperige grondpad. Oor ’n smal brug oor ’n stroom, verby ’n troppie bont beeste met wye horings, verby kleinerige huise van sementstene. ’n Gekrokte wasmasjien op ’n voorstoep.

LEES OOK: Brief: Help ons asseblief, want ons worstel om vir die vyand te bid, vra gemeente 

Party van Elandshoek se mense werk by die papierfabriek op Nkodwana of in die omliggende plantasies. Oral teen die berghange staan die boemkom- en dennebome.

Ek glo darem nie Phetile Zulu sal met ’n trapfiets ry nie. Die evangelis wat by Pa die pastorie kom besoek het, het gewoonlik met ’n fiets gery – ’n dikwiel-Hercules. En hy het ’n das en baadjie gedra. Langbroek. Ouerige skoene wat blink. Ek sien hom voor my teen die skuinste op die fiets uittrap met sulke silwer knippe om die enkels om te keer dat sy broek se pype nie in die fiets se ketting kom nie.

Op die hoek is ’n winkeltjie. Waar eens moontlik ’n rooi Coke-teken teen die muur sou gewees het, is nou ’n rooi Vodacom-teken.

Ek hou daar stil en gaan gesels met die man in die winkel. Hy weet van Phethile Zulu, die evangelis wat vir die kinders kos gee. Hy beduie vir my die pad na die kerk toe.

“But she’s a woman, not a man,” help die man my reg voor ek verder teen die skuins straat opry. Musiek wat hard en vol ou-ou ritmes uit ’n huis borrel.

Die kerk is nie groot nie, en toringloos. Buite, naby die voordeur, is ’n klouterplek van houtpale waarop ’n paar kinders speel. “How are you, how are you …?” roep hulle toe hulle my sien.

’n Vrou kom staan in die huis langs die kerkie se deur. Ek stap nader. Phetile Zulu. Nee, nee, sy gee nie om omdat ek so ongevraagd hier opdaag nie. In my 60 ste jaar op aarde groet ek vir die eerste keer ’n evangelis met die hand.

LEES OOK: Uit Cas Wepener se pen: Dr Korczak en die kinders

Sy gaan wys vir my die kerkie en ons gaan sit en sy vertel my hoe sy in Swaziland gebore is en grootgeword het en met hierdie man, Jesus, kennis gemaak het. Hoe sy later Suid-Afrika toe gekom en by die Back to the Bible Mission naby Barberton as ’n evangelis opgelei is. As jong vrou al het sy vir mense in hospitale gaan bid en by ’n taxistaanplek staan en preek.

Met behulp van ds Koos Kriel, ’n VGK-predikant van Nelspruit, het sy ’n VGK-gemeente hier in Elandshoek kom vestig. Eers het sy in ’n tent gepreek, maar onder meer die NG Alkmaar- en Westergloed-gemeente het gehelp om die kerk en die pastorie langsaan te bou. Johan Muller, ’n plaaslike argitek, het die kerkie ontwerp.

Buite is nou al ’n klomp kinders. In die kombuis agter die saal kook ’n groot, pot bredie. Hulle is afhanklik van skenkings vir die kos. Phetile wys na die drie sakke mieliemeel en ’n paar koolkoppe. Hulle voorrade lê al weer laag.

By haar is haar man Alpheus Zulu, en vroue wat grootliks vrywillig kom kook en opskep: Willemien Nsibande, Constance Msimangu, Anventina Manjiku en Isaura Sibe. Mense met name.

“How are you, how are you, howareyou?” roep die kinders toe ek wegry. Oral in Afrika, veral op afgeleë plekke, kry jy kinders wat dit soos ’n rympie uitroep wanneer hulle jou sien.

By die N4 draai ek links. Ek moet meer van die berg af kom.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.