Op talle plekke in die NG Kerk en wêreldwyd word evangelisasie druk bespreek. Een van die groot sake op die tafel is die vraag: Hoe lyk evangelisasie in ’n post-Christendom wêreld? “Post-Christendom” verwys na ’n werklikheid waarin die Christelike geloof en kerk nie meer dominant is nie, waar talle mense die kerk verlaat en waar samelewings al meer multi-godsdienstig word. Hoe verkondig ons die goeie nuus van Jesus in hierdie wêreld?
Die Departement van Praktiese Teologie en Sendingwetenskap van die teologiese fakulteit by die Universiteit van Pretoria het onder leiding van prof Hannes Knoetze op 6-8 Junie 2023 ’n konferensie oor evangelisasie aangebied. Onder die tema Critical discussion of evangelism in (Southern) Africa in 2023 het verskeie internasionale sprekers deelgeneem, maar ook ’n aantal sprekers van die NG Kerk.
Prof Brian Theu (Malawi) het die bespreking oor evangelisasie in die Afrika-konteks ingelei, waarna verskeie sprekers oorweging geskenk het aan die aard van evangelisasie in ’n post-Christendom konteks. Die aanpak van evangelisasie word herbedink sodat dit relevant bly in die veranderende werklikheid.
LEES OOK: Bouwerk grawe raaisel maar ook hartseer in die Swartland oop
Dr Gideon van der Watt het die tweede groot tema hanteer, naamlik die verhouding tussen evangelisasie en die diakonaat. Sy pleidooi was dat die aard van die diakonaat opnuut in die wese van God self teruggevind moet word. Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die afwesigheid van diakonaat in die kurrikulum van die huidige teologiese opleiding. In verdere gesprekke was dit duidelik dat ons nie in Suider-Afrika aan evangelisasie kan dink sonder om baie deeglik die konteks van armoede en erfenis van ongeregtigheid in berekening te bring nie.
’n Volgende groot tema op die tafel was die moontlikheid en uitdaging van intergodsdienstige gesprekvoering. Hierdie tema is ingelui deur prof George Osam-Batsa van Ghana. Konferensiegangers het sterk gevoel dat hierdie saak al dringender aandag moet kry in ’n post-Christendom wêreld waar lidmate se kontak met ander gelowe op ’n daaglikse basis plaasvind. Dit sal ook by die Oktober-vergadering van die Algemene Sinode op die tafel kom.
Prof Stefan Paas (Nederland) het die vierde groot tema van die konferensie ingelui met ’n bespreking oor evangelisasie en ons verstaan van verlossing in ’n post-Christendom gemeenskap. Nederland, waar hy dosent en kerkplanter is, is baie ver gesekulariseerd, en dit vra ’n eiesoortige aanpak. Voorbeelde wat hy noem, is gesprekvoering eerder as verkondiging, dat ’n kerk verantwoordelikheid vir die buurt neem eerder as net eie lidmate en podcasts oor ’n wye reeks onderwerpe.
LEES OOK: Nuwe reeks volg Dana Snyman vir ’n maand lank op geloofsreis deur die land
Verskeie predikante uit die NG Kerk het lesings aangebied wat vars insigte bied in nuwere teologiese ontwikkelinge asook praktykgerigte oorweginge binne gemeenteverband. Dr Lourens Bosman van die Algemene Sinodale Kantoor het leiding gegee oor die daarstelling van ’n gemeentelike kultuur om evangelisasie te bevorder. Hy het aksent geplaas op die noodsaak van geloofsgewoontes wat ’n egte leerervaring ontsluit. Dr Frikkie Coetzee van Lux Mundi, wat vroeër vanjaar in evangelistiek gepromoveer het, het benewens verskeie teologiese oorweginge aandag gegee aan outentieke praktyke om gemeentes vir evangelisasie te mobiliseer. Prof Johan van der Merwe en dr Arnold Smit het in ’n gesamentlike sessie ’n gevallestudie voorgehou deur ’n ontleding van die NG Gemeente Steynsrus te bespreek. Ds Leon Westhof van Elarduspark het begin deur te besin oor die aard en plek van die verlossings- en sondeleer. Hy neem posisie in teen verskeie soorte reduksies van die goeie nuus, onder andere dat dit verskraal word tot “goeie advies”. Hy lewer ’n pleidooi vir ’n narratiewe aanslag in evangelisasie met voorbeelde van hoe hulle dit reeds in hulle gemeente doen.
Hierdie konferensie sal DV in 2024 opgevolg word met aksente op verlossingsleer en diakonaat. Dit sal vorentoe nodig wees dat jong teoloë, met hulle sensitiwiteit vir geregtigheid en die nood in ons lande, saam kom praat oor hoe ons die Goeie Nuus uitdra en vergestalt (embody).
Ds Leon Westhof is leier van die Werkgroep vir Evangelisasie van die Algemene Sinode en dr Lourens Bosman ’n lid van die span.
