Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Anja Huisamen wys van die beendere wat tydelik by die kerkkantoor van die NG Gemeente Swartland op Malmesbury gestoor word van sowat 52 mense wat onverwags tydens ’n bouproses op die kerkterrein ontdek is. Foto's: Heléne Meissenheimer tensy anders vermeld.

Bouwerk grawe raaisel maar ook hartseer in die Swartland oop

Een van die NG Kerk se oudste gemeentes moet ’n ongewone begrafnis beplan na bouers op ’n raaisel afkom, berig Heléne Meissenheimer.

Jy moet respek vir mense hê; lewend of dood … “You’ve got to have it,” sê Anja Huisamen terwyl sy versigtig en teer ’n kakebeen oplig.

Die kaak is deel van die ongewone vonds in die kerkkantoor van die NG Gemeente Swartland: Die beendere van sowat 52 mense wat tydens ’n bouproses op die kerkterrein ontdek is.

Die kerk se rekords dui aan dat 144 siele op die kerkterrein begrawe is. Daardie rekords sluit hierdie beendere uit en daar was nie grafmerkers (stene of gedenkplate) by die beendere nie.

Huisamen, ’n honneursstudent in argeologie, soek na antwoorde sedert die beendere in Desember 2022 ontdek is tydens opgrawings vir beplande bouwerk aan ’n nuwe kerksaal. Wat vir die meeste gemeentes ’n roetineprojek sou wees, het in hierdie geval plaaslike en nasionale mediabelangstelling ontlok: Wie was hierdie mense wat na raming meer as 100 jaar gelede hier begrawe is? Dit is ’n raaisel wat Huisamen reeds op ’n soektog tot by die NG Kerkargief op Stellenbosch en die Kaapse Argiefbewaarplek gelei het.

Denzil Holloway en Anja Huisamen staan voor bakstene vir die nuwe kerksaal, gepak agter die statige kerkgebou, wat al ’n paar keer herbou is sedert die hoeksteen in 1859 gelê is.
So lyk die toneel waar die beendere ontdek is. Foto: Verskaf

Lidmate hier het al ’n geruime tyd behoefte aan ’n saal reg langs hulle statige kerkgebou, verduidelik Denzil Holloway, die voorsitter van die kerkraad. Tans moet kinders ’n besige straat oorsteek na ’n lokaal agter die kerk wat by die ACVV gehuur word, want die kerkkantoor met kerksaal is glo te ver. ’n Impakstudie is volgens riglyne gedoen en ’n erfeniskundige is getaak om op die terrein te wees terwyl bouwerk voortgaan. Toe volg die ontdekking. Sedertien is die sensitiewe oorsigtaak grotendeels verrig deur Huisamen, wat op Malmesbury bly, tesame met die Kaapse argeoloog Jonathan Kaplan.

Hartseer en ongemaklik

Een van die gemeente se twee leraars, ds Jacobus Snyders, beskryf die afgelope tydperk as hartseer en ongemaklik. “Al glo ons as gelowiges die mense se siele is nie meer hier nie, het ’n mens tog respek dat dit mense se beendere is wat daar lê,” vertel hy aan Kerkbode.

Die kerkraad het intussen saam met Erfenis Wes-Kaap besluit om nie toetse op die beendere te doen om hulle identiteit vas te stel nie, sê Holloway, siende dit ’n langsame asook duur proses behels wat buite die vermoë van hierdie gemeente val. Saam met die bewaringsliggaam is besluit “dat die beste uitweg sal wees om so spoedig moontlik die herbegrafnis te reël,” voeg hy by.

Verder leidrade?

’n Verskeidenheid van items is ook gekry, naamlik kishandvatsels van yster of koper, knope van hout, been en glas asook kleipypstele, keramiekfragmente en selfs ’n goue tandgebit. Dit, saam met die feit dat die oorledenes ter ruste gelê is in doodskiste wat Oos-Wes georiënteerd is en met klere aan binne ’n kerkhof, dui daarop dat hulle op die histories Christelike manier begrawe is, verduidelik Huisamen.

’n Kishandvatsel …

Daar kan vele redes wees hoekom daar nie grafmerkers is nie, verduidelik Huisamen. Onder meer dat dit verwyder is deur mense, natuurrampe of bloot natuurlike verweer. Sy bly hoopvol om iewers ’n skriftelike aantekening te vind.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top