Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Baie van my stories gaan oor reise, en ek het gedink: Hoekom nie ’n geloofsreis nie? Ek het sestig geword. Geloof is vir my belangriker as ooit in my lewe.” | Grondpad geloof begin op Sondag 3 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Foto: Verskaf

Elders gesien: Nuwe reeks volg Dana Snyman vir ’n maand lank op geloofsreis deur die land 

“Dit is vir my asof die kerk op soveel maniere weer besig is om werklik kerk te word,” vertel Dana Snyman ná ’n omvattende verkenningsreis deur die land vir ’n nuwe televisiereeks wat Sondag 3 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin draai. 

“Lidmaatgetalle daal dalk, maar gemeentes is op soveel plekke wat ek besoek het, steeds intens betrokke by mense en probeer om gemeenskappe se gebrokenheid weer heel te maak,” sê Dana oor dié storieprojek wat kykNET as ’n “verkenningsreis met godsdiens, geloof en die Afrikaanse susterskerke” bestempel.

Dana Snyman gesels met dr Frederick Marais by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington tydens die vervaardiging van hierdie reeks. Foto: Le Roux Schoeman

In Grondpad geloof besoek Dana, gewilde skrywer asook Kerkbode-medewerker, plekke soos Ventersdorp, Merweville, Philippolis en Stellenbosch. Hy gesels met allerhande mense om sy eie vrae oor geloof te takel.

LEES OOK: Dana se Kerkbode-rubrieke 

“Dit was vir my nogal ’n emosionele ervaring om vir byna ’n maand deur die land te reis, van kerk na kerk, en met mense oor geloof en die kerk te praat,” sê Dana oor die reeks, wat begin in Mookgophong in Limpopo by die NG Kerk waar sy pa jare gelede ’n dominee was.

Op die toneel. Foto: Verskaf

Dana glo kykers gaan deur dié reis te volg genadiger wees teenoor diegene wat anders as hulle oor geloofsake dink en dat hierdie reeks veral oor hoop gaan, luidens ’n verklaring wat vandeesweek uitgereik is. 

As storieverteller het Dana die reeks aangepak oor dit vir hom nóg ’n manier was om ’n boeiende verhaal te vertel. “Baie van my stories gaan oor reise, en ek het gedink: Hoekom nie ’n geloofsreis nie? Ek het sestig geword. Geloof is vir my belangriker as ooit in my lewe.”


  • Bron: Persverklaring uitgereik deur kykNET
  • Het jy nuus? Kontak ons gerus per Whatsapp by 072 149 1969 of e-pos: kerkbode@tydskrifte.co.za.
  • Hierdie artikel is ’n mediavrystelling of storie wat aan Kerkbode gestuur is. Dit is geredigeer vir lengte, maar basies gepubliseer soos dit ontvang is. 

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top