In gesprek met Elna Mouton: Maak die Bybel nog enigsins saak?

Marileen Steyn het met twee woorde na prof Elna Mouton gegaan: Skrif en spiritualiteit. Hierdie twee woorde was genoeg om hulle vir lank in gesprek vas te knoop. ’n Vraag kom in die proses op die tafel: Het die Bybel nog enigsins iets vir mense vandag te sê?

Jy het dit dalk al iewers gehoor: “Ek is spiritueel, maar nie godsdienstig nie.” Dit is die nuwe refrein van die dag wanneer dit by gesprekke oor godsdiens en geloof kom. ‘Spiritualiteit’ (wat dit ook al vir mense mag beteken) is à la mode. Godsdiens (en selfs geloof) is nie. Die Bybel, nog minder.

Net nou die dag kyk iemand my op en af toe hulle hoor dat ek verder in teologie studeer: “Ek kan nie glo dat ’n jong vrou soos jy nog daarin belang sal stel om jouself te laat oplei in iets so eng en argaïes nie.” Twee weke later glimlag ’n ander. “Is daar dan nog enigsins iets oor om van die Bybel te leer?” wonder hulle in alle erns.

Die ironie gaan sit iewers in my agterkop in ’n kookpot en prut. In ’n wêreld waar ons spiritualiteit so hoog ag, het die Bybel skynbaar vervaag na ’n antieke, lewelose, agtergeblewe dokument wat (vir sommige) nie eens meer die stof op ons bedkassies werd is nie.

’n Boek vol boeke

Wanneer ek prof Elna Mouton nader om oor die Skrif en spiritualiteit te gesels, kom haar antwoord: “My gunsteling onderwerp!” Mouton is ’n Nuwe-Testamentikus en was vir lank sinoniem met die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington. Wanneer sy oor die Bybel en spiritualiteit gesels, praat sy soos ’n fynproewer wat haar woorde mooi kies om die diepte van die tema waarbinne sy haarself bevind tot sy reg te laat kom.

En is dit nie diep nie?!

Mouton bespreek die kompleksiteite wat die Bybel se antieke kontekste en taal bied en die uitdaging wat dit vir postmoderne gelowiges inhou. Dit wat op eerste oogopslag soos een boek met een stem lyk, blyk ’n boek vol boeke en tekssoorte en skrywers en stemme en beelde van God te wees.

LEES OOK: Missionale dissipelskap: om mense vir die koninkryk te “wen”

“Maar nou is dit maklik,” sê Mouton, “om doodeenvoudig die Bybel eenkant toe te skuif, omdat dit darem net te veel moeite is om dit (in konteks) te verstaan.” Sy praat oor die kitskultuur wat vinnige antwoorde van die Bybel wil hê en die lang pad wat ons interaksie met die Bybel vra eerder vermy. “Daarom is die Bybel vir baie mense meer van ’n schlep as ’n inspirasie.”

Christelike spiritualiteit, wat Mouton verstaan as die totale omvang van ons lewe voor God, mekaar en die skepping, vra dat ons steeds die Bybel as gesaghebbend in ons lewe ag. Anders, meen sy, word ons bloot “moderne gelowiges wat dalk nog iewers met die Christelike geloof assosieer.”

Die vraag is of ons nog werklik die Bybel se gesag in ons lewe bely, beleef en beliggaam.

Rykdom en kompleksiteit

“Die Bybel het net gesag vir sover ons dit daaraan toeken,” aldus Mouton. Ek vra haar dadelik om uit te brei! Mouton maak dit duidelik dat die Bybel wel geïnspireer is, maar dat dit nog steeds vra dat ons die keuse uitoefen om toe te laat dat die Bybel ons ook inspireer.

Is ons nog oop daarvoor dat die Bybel ons perspektief, woordeskat en energie in ons lewe voor God gee? is Mouton se vraag.

LEES OOK: Queer hermeneutiek: Wie word geraak deur hoe ons dink?

“Elke geslag het die keuse om te besluit of ons die Bybel as gesagvol gaan aanvaar met al sy rykdom én kompleksiteite,” gaan Mouton verder. Sy waarsku dat Christene nie selektief kan raak in wat gesag dra of nie. Die uitdaging is eerder om die Bybel as geheel as gesaghebbend te aanvaar, maar om daardie gesag te kontekstualiseer as lewegewend vir mense van die 21ste eeu. Kontekstualisering “is nie ’n verkragting van die evangelie nie,” dring Mouton aan. Dit is eerder om die dinamiese aard van die Bybel te bely en te verreken. “Is ons oop om die evangelie elke keer in nuwe gestaltes te beleef en te verpak en te verduidelik?” kom die vraag.

Oor Skrifgebruik en Skrifverstaan, sê Mouton: “Vir geen oomblik is dit eenvoudig nie en enigiemand wat dit eenvoudig wil maak sal my anders kan oortuig nie.”

Mouton se uitnodiging is duidelik: Wanneer ek weer ’n besluit neem (hoe gering ook al), sal ek bereid wees om die God van die Bybel toe te laat om my uit te daag en in my besluitnemingsproses te lei en te inspireer? 

Terug by spiritualiteit. Mouton stel dat Christene uitgenooi word om te keer dat spiritualiteit nie net nóg ‘n modewoord word nie. “Mense in ons tyd is voos en uitgeskep, en roep om hulp wat sal blý. Die lewende Skeppergod van die Bybel nooi ons via hierdie tekste om te midde van pyn en paradoks, verlies en dood, met hart én verstand toe te laat dat ons vasgehou word … Mag hierdie geslag se interpretasie van die Bybel – mét en sonder woorde – dít vir mense help moontlik maak!”

  • Prop Marileen Steyn is vryskutnavorser en PhD-student aan Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie skrywe is deel van ’n reeks en word aangebied in samewerking en met ondersteuning van die Taakspan vir Teologiese Navorsing (Wes-Kaap).
Word 'n vriend van Kerkbode