Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In ’n fassinerende TED-talk argumenteer die bekende dierewetenskaplike Temple Grandin dat die wêreld alle soorte denke en ervarings benodig (“The world needs all kinds of minds,” 24 Februarie 2010). Dit sou juis haar andersoortige manier van kyk na probleme wees – in haar geval, die gedrag van diere – wat van haar ’n besonderse navorser in haar veld sou maak. Sy wys daarop dat heelwat mense op die outismespektrum nie ten spyte van ’n outismediagnose nie, maar juis as gevolg van outisme, baanbrekerswerk doen.
Outisme bied immers ’n ander manier om sowel die wêreld te ervaar as die wêreld te benader, argumenteer sy – en dit is juis daardie andersheid wat baie nodig is vir kreatiewe probleemoplossing en meer diverse maniere van sinmaak van die wêreld.
LEES OOK: ’n Suid-Afrikaanse blik op Israel en Palestina: ’n Pleidooi vir geregtigheid
Ook teoloë – veral disability teoloë – sou toenemend fokus op die deurleefde ervaring van neurodiverse persone (wat persone op die outismespektrum, strekkend vanaf laer na hoër funksionering, insluit). Vir teoloë wat hieroor skryf, is die ontwikkeling van ’n ‘teologie van outisme’ belangrik.
Ons sou kon dink aan Jennifer Anne Cox se Autism, humanity, and personhood (2017), wat outisme as ’n disability hanteer, en ’n belangrike vraag oor teologiese antropologie vra: Indien ons menswees koppel aan die kapasiteit vir en oriëntasie tot verhoudings, hoe dink ons oor persone op die outismespektrum? Anders gestel, as ons menswees relasioneel is – om na die beeld van God geskape te wees is om verhoudingsgerig en verhoudingsgedrewe te leef – beloop ons nie die gevaar om outistiese persone, wat baie keer min na geen belangstelling in of kapasiteit vir wederkerige verhoudings het, uit te sluit by ons definisies van menswees nie?
Neurodiverse uitdrukkings van liefde
Ons sou kon dink aan die Skotse teoloog John Swinton se werk, oor jare heen, oor geestesgesondheid (‘mental health’), wat meer onlangs op dementia (in ’n boek met die subtitel Living in the memories of God (2012)) en outisme (in ’n artikel met die titel “Reflections on autistic love” (2012)) sou fokus. Vir Swinton is die sleutelwoord liefde: neurotipiese uitdrukkings van liefde behoort ruimte te maak vir neurodiverse uitdrukkings van liefde, juis omdat sommige liefdesgebare en liefdestale wat ons as vanselfsprekend aanvaar – soos oogkontak, spontane aanraking, wederkerige gesprek – soms ontbreek by persone op die outismespektrum. Die kerk het hierin, volgens Swinton, ’n belangrike rol te speel om ’n liefde te beoefen wat nie eng beperk word tot neurotipiese uitdrukkings nie, maar wat doelbewus ook ruimte maak vir neurodiverse uitdrukkings.
Ons sou kon dink aan Claire Williams se outistiese bevrydingsteologie, wat sopas gepubliseer is met die titel Peculiar discipleship (2023), waarin sy ’n teologie vanuit neurodiversiteit ontwikkel. Elders (in ’n versameling oor traumateologieë, met die titel Bearing witness (2022)) beskryf Williams outisme as ‘a peculiar trauma’. Haar gebruikmaking van ‘peculiar’ – wat in Afrikaans vertaal word met ‘eienaardig’ – is doelbewus: dit wat as anders, dalk selfs eienaardig, beskou word omdat dit afwyk van die norm, die ‘normale’, is ’n geskenk. In haar oorweging van hoe teologie ’n bevrydende rol kan speel, ontwikkel sy die idee van ‘alongsiding’: om soos Rut – wat Naomi vergesel, en weier om haar sy te verlaat, selfs wanneer sy weggestuur word – ’n konstante teenwoordigheid te bly wees, al is dit ook in stilte.
Deurleefde ervaring lei na nuwe weë
Ons sou kon dink aan Ruth Dunster se The autism of Gxd (2022), waarin sy – as ’n persoon wat self op die outismespektrum is – poog om ’n ‘outismeteologie’ te ontwikkel. Vir haar, soos by disability teologieë meer breedweg (dink maar aan Nancy Eiesland se The disabled God (1994), byvoorbeeld), speel die kruisiging ’n belangrike rol. Christus aan die kruis is van God en mens verlate – alleen en afgesny van alle betekenisvolle verhoudings – en hierdie verlatenheid loop uit op stilte: die stilte van die dood, die stilte in die graf. Sy noem hierdie ‘mindfulness of separation’: net soos wat slegs die lydende God kan help (Dietrich Bonhoeffer), net so is dit slegs in die afwesigheid van God wat Godsteenwoordigheid betekenis verkry.
LEES OOK | Nadia Marais skryf: Die geskenk van die donker
So dikwels dink ons dat sulke nuwe perspektiewe en (moontlik) nuwe maniere van dink oordadig of onnodig is, of – erger nog – ’n gevaar sou kon inhou vir die evangelie en die teologie. Maar is dit nie eerder ’n voorreg om te leef in ’n tyd waarin mense vanuit hulle deurleefde ervarings – ook van pyn, en beperktheid, en verwarring, en misverstand, en alleenheid; alles diep menslike ervarings wat geeneen van ons ontsnap nie – nuwe weë vind vir teologiese nadenke nie?
Die alleenheid van Christus aan die kruis en in die graf staan immers aan die hart van die goeie nuus van die evangelie. “My God, my God, waarom het U my verlaat?” En dan? Stilte.
Godstilte eggo deur die kruisiging en die dood van Christus heen. Maar Godstilte eggo ook deur die opstanding, wat onmoontlik is sonder Godstilte aan die kruis, heen.
Geseënd is hulle met ‘a beautiful mind’.
- Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch en is ’n gekoppelde leraar aan die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen.
Dankie vir die skryf van hierdie roerende meditasie oor die betekenis van ‘n inklusiewe teologie van ervaring.