Ds Maartje van der Westhuizen is ’n predikant by NG Elarduspark (Oostelike Sinode) en lid van die Algemene Sinode Moderamen (ASM). In aanloop tot die 18de sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode het Kerkbode haar gevra …
Kerkbode (KB): Is dit moontlik om ’n sinodesitting bietjie te demistifiseer en in eenvoudige terme te sê: Wat is die groot uitkomste waarop lesers wat dit van elders in die land via Kerkbode en ander media volg, moet let?
Maartje van der Westhuizen (MvdW): ’n Sinode is net gewone dominees en kerkraadslede wat bymekaarkom uit al die dele van Suid-Afrika en Namibië wat praat oor alles wat in die NG Kerk gebeur en oor belangrike kwessies van die dag.
Die oorhoofse tema van hierdie jaar se vergadering is: “Gaan voor ons uit, Here.” Ons begin Sondagaand deur saam te lees uit Eksodus 33:12-23 en gaan elke dag by verskillende aspekte van die teks stilstaan afhangende van ons dagtema.
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
Die dagtemas lyk soos volg: Maandag gesels ons oor wie God is, Dinsdag kyk ons na hoe die konteks van ons land lyk, Woensdag praat ons oor die kerk, Donderdag praat ons oor hoop en Vrydag sluit ons af met die tema: “Laat ander u teenwoordigheid by ons sien, Here.”
Ander sake waaroor ons praat is dinge soos hoe bedien ons ons jeug, hoe vertel ons vir ander mense van Jesus, hoe lei ons predikante op, hoe lyk ons verhoudings met ander kerke en wat sê die navorsing.
Ek hoop dat iets van die onderskeidingsproses van elke dag oor elke tema sal deursyfer tot by elke leser regoor die land.
In die video hierbo bied die dagbestuur van die Algemene Sinode agtergrondinligting tot die 18de sitting van dié vergadering wat van 15 tot 20 Oktober in Boksburg plaasvind. Hou Kerkbode dop vir beriggewing oor dié sinode by www.kerkbode.co.za of via die Kerkbode-toepassing by https://play.google.com/store/apps/details?id=za.co.christians.kerkbode | Video: Tegniese vervaardiging: Bybel-Media.
(KB) Is dit redelik om te sê daar is ’n doelbewuste (in terme van beplanning) skuif weg van debat-styl-sinodes wat oorheers word deur individuele, sterk bydraes, na ’n gespreksmatige benadering waar daar keer op keer in kleingroepverband oor goed gesels word en dan prosesmatig hoop om daardie inligting na die oppervlak te bring? Indien nie, hoe sou ’n mens beter kon beskryf hoe die vyf dae ontwerp / ingerig word?
MvdW: In 2004, in Hartenbos was die vergadering van die Algemene Sinode die eerste keer so ingerig dat mense om tafels gesit het, anders as in lang rye wat na die verhoog toe kyk. Hierdie nuwe inrigting van die lokaal het meer gesprek tussen die sinodegangers gestimuleer.
LEES OOK: Slypskool 2023: Tree vir tree na saamwees en eensgesindheid
Van daar af is die vergadering nog altyd so ingerig en in ons beplanning word daar baie tyd ingerig vir sinodegangers om saam om die tafels te gesels oor die verskillende agendepunte, maar ook om saam Bybel te lees en te bid. Dit maak dat die vergadering nie net deur ’n paar individue op die vloer gevoer word nie, maar daar is meer mense wat deelneem.
Dit is baie intimiderend om in so ’n vergadering by ’n mikrofoon te gaan praat en jou opinie te gee. Die meeste mense in die vergadering sien nie daarvoor kans nie. Met die tafelgesprekke kry almal ’n kans om te gesels en saam te onderskei oor verskillende sake op die agenda. Hierdie jaar is daar ook meer prosesse in plek gesit om die terugvoer van die tafels af na die groter vergadering toe te bring.

KB: Is daar aspekte van hierdie soort byeenkoms wat jy dink soms misverstaan word? Hoe sou jy wou konteks gee of, in verbruikerstaal, verwagtinge bestuur?
MvdW: ’n Mens moet in gedagte hou dat dit ’n baie groot vergadering is wat bestaan uit 370 afgevaardigdes vanuit die hele Suid-Afrika en Namibië. Hierdie mense kom uit verskillende kontekste en het verskillende verwagtinge van die vergadering afhangende van hulle eie raamwerk. Net die helfte is predikante en dan is daar nog verskille in geslag en ouderdom. Met so ’n klomp mense loop ’n mens altyd die risiko dat daar misverstande kan wees.
Die agenda en die Kerkorde word die riglyn van hoe die vergadering bestuur word. Ek weet baie streeksinodes doen ook baie moeite om hulle afgevaardigdes voor die sinode deur die agenda te vat en vrae te beantwoord soos nodig.
LEES OOK: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk
KB: Die NG Kerk is kennelik gepolariseerd rondom selfdegeslagverbintenisse en die 2019-besluit. Jy was in gesprekke met verteenwoordigers van, byvoorbeeld, dolerende gemeentes. Aan hoeveel sulke gesprekke het jy deelgeneem en wat het jy geleer in die proses?
MvdW: Ek het met streeksinodes, ringe, gemeentes en ander groepe gesprekke gevoer, maar uit my verskillende hoedanighede as moderatuurslid, sinodale diensraadslid en as ringsvoorsitter en daarom is dit moeilik om ’n presiese getal van gesprekke daaraan te koppel.
Uit al die gesprekke op verskillende vlakke het ek ongelooflik baie geleer. Ek wil egter die twee belangrikste lesse noem:
- Dit is belangrik om te onthou dat die mense met wie jy in ’n gesprek is, maak nie saak aan watter kant hulle van watter debat is nie, ook mense is. Hulle is mense wat lief is vir die Here en wat ernstig is oor hulle geloof in God. In baie van die gesprekke het ek beleef dat mense mekaar reduseer tot hulle standpunte oor die selfdegeslagdebat en dan vergeet dat die ander persoon ’n medegelowige is. Tog was daar ook soveel mooi oomblikke waar mense mekaar kon vind, saam bid, Bybel lees en waar verhoudings sterker geword het.
- Almal van ons wat aan hierdie moeilike gesprekke deelneem moet aanhou vashou aan die vrug van die Gees, waaroor Galasiërs 5:22-23 praat. Dát ons verskil is nie noodwendig die grootste uitdaging nie. Hoe ons met mekaar verskil kan ons grootste getuienis word.
KB: Gemeet in terme van stories waarop lesers by Kerkbode se webwerf kliek – ongeag hoeveel verskillende stories ons skryf en op die web laai – sien ’n mens oorweldigende belangstelling in die debat rondom die 2019-besluit. Hoe beïnvloed daardie groot belangstelling vanuit die breër kerk en samelewing die vergadering?
MvdW: Dit is ’n feit dat almal bewus is van die geweldige kompleksiteite en sensitiwiteit rondom hierdie totale gesprek. Dit was ook reeds so in 2019 en kom al ’n lang pad saam met die Algemene Sinodesittings. Ek is seker afgevaardiges is deeglik bewus hiervan en daarom is daar altyd ’n groot verantwoordelikheid om met wysheid en afhanklikheid aan enige gesprek deel te neem. Dit bly egter belangrik dat ons nie vergeet van al die ander belangrike sake wat op die Algemene Sinode se tafel is nie. Dit vertel die stories van wat in gemeentes aan die gang is, hoe die Here in en deur ons kerk werk – en ook wat die nood en behoefte in ons onderskeie lande is. Ek glo dat die pragtige stories wat Kerkbode tans gereeld publiseer oor lidmate en gemeentes se werk net soveel aandag kan trek.
LEES OOK: Slypskool 2023: Geloof, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe
KB: Daar sal by wyse van stemming ’n nuwe moderator verkies word, ná die twee termyne van ds Nelis Janse van Rensburg. Is dit tyd dat ’n vrou hierdie rol speel of in watter terme dink jy wanneer jy oor daardie rol dink?
MvdW: Wanneer dit kom by die verkiesing van nuwe leierskap is geslag en ouderdom nie so belangrik as die tipe leiers wat moet pas by wat die kerk nodig het nie. Dit is dus nodig om te onderskei waarheen die kerk op pad is en dan leiers te kies wat ons daarmee kan help.
Dit is dus die vergadering se verantwoordelikheid om met groot onderskeiding nuwe leierskap te kies.
KB: Daar is uiteenlopende verslae wat behandel sal word – amper meer vir kennisname. Maar waar in die agenda lê die kernbesluitnemingspunte, wanneer afgevaardigdes gaan moet inleun in die kompleksiteit van ’n verslag, na jou mening?
MvdW: Ek wil begin deur net te noem hoe die agenda van die Algemene Sinode saamgestel word. Die vorming van die agenda geskied vanuit die samestellende sinodes, die ASM en die permanente taakspanne van die Algemene Sinode. Elke vergadering word voorafgegaan deur ’n konsultasieproses met die streeksinodes om voorstelle en insette vir die vergadering te kry. Die ASM stel dan die agenda in ’n geloofsonderskeidende proses saam, na aanleiding van al hierdie insette en binne die raamwerk van Artikel 43.
In hierdie jaar se agenda en addendum wat saam meer as 800 bladsye is, word al die verslae saamgevat. Party verslae is vir besluitneming en ander net vir kennisname. Die vergadering bepaal egter hoe vinnig daar deur verslae gewerk word en waar daar stilgestaan word vir debat.
KB: Watter aspek van jou eie deelname op hierdie vlak van leierskap in die NG Kerk daag jou uit en gee jou vreugde, onderskeidelik?
MvdW: Die ding wat my die meeste uitgedaag het, is die vals nuus wat versprei word deur individue, groepe en ook deur sosiale media. Baie lidmate en in baie gevalle dominees, glo alles wat hulle hoor en op sosiale media lees, sonder om die werklike besluite na te gaan of hulle feite te toets. Ongelukkig is hierdie vals nuus nie iets waaroor ’n mens beheer het nie. ’n Klomp van ons gesprekke was eintlik net om die feite op die tafel te kry.
Die vreugde is gelukkig by verre meer as die uitdagings. Dit is lekker om te sien hoe taakspanne saamwerk om ’n verskil te maak in die breë kerk. Netwerke word gevorm, verhoudings word gebou en daar is in verskillende ruimtes saam onderskei wat God se roeping vir ons kerk is. Een van die lekkerste goed is om te sien hoe gemeentes, ringe en sinodes hande vat om mekaar te help.
AGENDA AS 2023 Elektronies (1)
Dis jammer om te hoor van die fals nuus. Hopelike sal dit deel van die sinode se agenda wees om daarop in te gaan. Sodoende kan die bron van die valsheid vir eens en vir altyd vasgestel word om dit dan uit die Kerk uit te suiwer.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis is al van 1567 met ons. Duisende van ons Protestantse voorvaders het vir hul geloof – en hierdie belydenis gesterf.
Die aanhef begin met die stelling: “Die regsinnige Christelike belydenis van die Nederlandse kerke wat die hoofinhoud van die leer in verband met God en die ewige saligheid van siele insluit.”
Dit is juis dan interessant dat daar nou ‘n debat oor regsinnigheid en vrysinnigheid heers.
Vir my is veral artikel 29 insiggewend – gelees met die oë op die opbou na die Algemene Sinode in Oktober. Die artikel sluit af met die woorde: “Hierdie twee kerke kan maklik uitgeken en van mekaar onderskei word.”
Dit stel dat die Ware Kerk aan die volgende kenmerke uitgeken kan word:
“Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken. Hieraan kan ons met sekerheid die ware kerk uitken, en niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie.”
Dan kontrasteer dit die Valse Kerk as volg hiermee:
“Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.”
Artikel 29 herinner ons ook (Soos in 1 Johannes 1) dat: “Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.”
Mag ons onsself altyd herinner daaraan dat ons nie al die antwoorde het nie, en dat ons ook kan fouteer. Sal jy na jou broer se regstelling luister – of het jy reeds besluit jy wil hom nie eens aanhoor nie?
In n video gesprek met Dr. Bernice Serfontein, in kerkbode van 21/10/21, het ds M Serfontein reeds gesê dat die belang nie gaan óf ons verskil nie, maar hóé ons verskil. Hier herhaal sy dieselfde in ander woorde, ” Dát ons verskil is nie noodwendig die grootste uitslag nie, maar hóé ons verskil kan ons grootste getuienis wees.”
Ons sal mekaar nié in die AS vind as daar nie n duidelike onderskeid kan deurkom tussen n “verskil” en n “geskil” nie. Die sinodes van die afgelope jare het lankal verby verskille beweeg na geskille wat dispute, onenigheid, partyskappe en rusies ingehou het. Meer nog; hulle het na n fatale derde vlak beweeg waar Matt. 18 die weg aandui van geskille wat die Bybel so raak in kernwaarhede, dat die weg vorentoe nie net doodloop nie, maar maar ook uitmekaar uit kan gaan. Ds. van der Westhuizen probeer n eufemistiese benadering volg om met n omweg die moontlikheid van skeuring en partyskappe in die NG Kerk te omseil. In die komende sinode sal dit nie maar om verskille van menings gaan nie!
Landbouers in Matt. 21:33-44 het wingerdgrond gehuur wat hulle later as hulle eiendom wou annekseer. Doen die AS dit nie nou ook so met die bybel nie – asof dit húlle Geskrif is waaraan hulle kan verander soos hulle wil nie?
Die uiteinde sal wees dat die wingerd aan ander landbouers verhuur gaan word wat aan die Eienaar die opbrengs op die regte tyd sal lewer.
Hoe kan voorkom word dat besluite wat by die Algemene Sinode geneem word, lei tot verdere verdeeldheid in die NG-kerk?
Toets die besluite wat goedgekeur moet word aan die mate waarmee dit in ooreenstemming is met die onverdraaide Woord van God, en nie aan die hoeveelheid mense wat emosioneel gemanipuleer is om daarmee in te stem nie.