Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinode se sitting.

Slypskool 2023: Geloof, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe

’n Verslag wat by die Algemene Sinode van 2023 gaan dien herbevestig die waarde van intergodsdienstige verhoudings in Suid-Afrika, skryf Mias van Jaarsveld.

 

Gedurende die naweek van 26 Maart 2022 het Bredasdorp ’n hartverskeurende voorval beleef wat in ruil die waarde van eenheid en samewerking tussen gelowe bevestig het. ’n Diensleweringsprotes het ontaard in gewelddadige xenofobiese aanvalle wat veral die Malawiese en Zimbabwiese inwoners van die Zwelitsha-woongebied geteiken het. Te midde van die chaos en vernietiging het geloofsleiers van verskeie agtergronde, Christen en Moslem by name, hande gevat om skuiling, kos en bystand aan die geraaktes te bied. Hierdie voorval, hoewel tragies, verduidelik die krag van intergodsdienstige verhoudings om ’n meer inklusiewe en harmonieuse samelewing te bou.

LEES OOK: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk

By die NG Kerk se Algemene Sinode van 2023 word daar opnuut lig gewerp op die waarde van intergodsdienstige verhoudings. Reeds in 1986 het die Algemene Sinode gepleit vir “gesonde buurskap en goeie onderlinge verhoudinge tussen Christen- en Moslemgemeenskappe in ons land.” Die ATLAS-verslag wat by vanjaar se sinode gaan dien, herbevestig dit en moedig gemeentes aan om die gedeelde menswaardigheid van alle mense, ten spyte van hulle geloofsverskille, te erken.

In die verslag word dit duidelik gemaak dat hierdie verhoudings nie ten koste van evangelisasie mag plaasvind of dat dit die uniekheid van Christus in gedrang (mag) plaas nie. Godsdienste se openbare rol noodsaak egter samewerking.

Soos Dion Forster, professor aan die Universiteit Stellenbosch, in 2022 skryf: “Daar is meer kerke in Suid-Afrika as munisipaliteite, skole, klinieke, voedingskemas of takke van politieke partye, en Suid-Afrikaners plaas eerder hulle vertroue in godsdienstige gemeenskappe en -leiers, as in politieke en sakeleiers.”

Volgens die ATLAS-verslag strek die begrip van intergodsdienstige dialoog verder as teologie – dit strek tot die aanpak van die dringende sosiale kwessies waarmee Suid-Afrikaners daagliks gekonfronteer word. Armoede, misdaad, geslagsgebaseerde geweld, korrupsie, swak dienslewering, klimaatsverandering en ander sosiale probleme is kwessies wat alle Suid-Afrikaners, ongeag hulle geloof, raak. In ’n samelewing waar spanninge en konflikte onvermydelik is, kan intergodsdienstige verhoudings ’n belangrike rol speel om vreedsame samelewings en verdraagsaamheid te bevorder.

Met die Bredasdorp-voorval as voorbeeld, sien ’n mens dat die hele gemeenskap – ten spyte van hulle godsdiens – na vore getree het om skuiling aan die geraaktes te bied. Hierdie daad van medelye het godsdienstige verskille oorskry, en sulke verhoudings bevorder geregtigheid, vrede en die algemene welstand van die samelewing. Die rol van godsdienstige leiers strek ook verder as net hulle eredienste. Hulle is belangrike morele stemme wat gemeenskaplike uitdagings kan aanspreek en geloofsgemeenskappe se houdings en gedrag kan vorm en beïnvloed.

In haar onderhoud met Kerkbode-redakteur Le Roux Schoeman, het die joernalis en skrywer Ferial Haffajee, die verantwoordelikheid van godsdienstige gemeenskappe om ’n morele stem te wees beklemtoon – veral in kontekste waar korrupsie en onreg heers. Die meeste godsdienste waardeer gelykheid en geregtigheid, en volgens Haffajee het ons tans meer dinge in gemeen as dinge wat ons verdeel. Met die oog op die nasionale verkiesing wat volgende jaar plaasvind, byvoorbeeld, kan geloofsleiers ’n kardinale rol speel deur hulle geloofsgemeenskappe aan te moedig om te gaan stem.

[soundcloud url=”https://api.soundcloud.com/tracks/1599937593″ params=”color=#ff5500&auto_play=false&hide_related=false&show_comments=true&show_user=true&show_reposts=false&show_teaser=true&visual=true” width=”100%” height=”300″ iframe=”true” /]

 

 

Godsdienstige gemeenskappe besit die vermoë om hoop te inspireer en gesprekke te fasiliteer wat sentraal staan in gedeelde bekommernisse vir ’n volhoubare toekoms. In ’n wêreld gekenmerk deur konflik, kan godsdienste optree as morele stem en voorvegters van hoop en harmonie in Suid-Afrika. Hierdie beginsel belyn ook met die Wêreldraad van Kerke (WRK) se doelwit om intergodsdienstige verhoudings te bevorder: “Interreligieuse dialoog is ’n konkrete manier waarop ons ons roeping om God en ons naaste lief te hê, uitleef … Ons moet streef daarna om brûe van vertroue en respek met bure van ander gelowe te bou en solidariteit te ontwikkel. In ruil sal dit geregtigheid, vrede en welsyn vir die hele skepping bevorder.”


 

  • Dr Mias van Jaarsveld is redakteur by CLF op Wellington.
  • Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinode se sitting.

 

Bronne:

AS 2023. Agenda, ATLAS Vorderingsverslag: Opdrag oor intergodsdienstige verhoudings.

Foster, D 2022. “Prof Dion Forster champions justice, peace, and flourishing of humanity and rest of creation.” Stellenbosch University [online], 22 Augustus 2022. Soos gevind by: http://www.sun.ac.za/english/Lists/news/DispForm.aspx?ID=9401

Meissenheimer, H 2022. “Geloofsgroepe in Overberg span saam om ontheemdes te help.” Kerkbode [online], 5 Mei 2022. Soos gevind by:

https://kerkbode.christians.co.za/2022/05/05/geloofsgroepe-in-overberg-span-saam-om-ontheemdes-te-help/

Mlaba, K 2020. “1 in 5 South Africans are living in extreme poverty: UN Report.” Global Citizen [online], 23 December 2020. Soos gevind by:

https://www.globalcitizen.org/en/content/1-in-5-south-africans-living-extreme-poverty-un/?gclid=Cj0KCQjw_5unBhCMARIsACZyzS335T_CHh0erZENqj7EIhMB3Gq6UIy29MRO3zhcywFFaH5MS6F0I4waAiIQEALw_wcB

Paton, N 2022. “Interfaith community rallies as xenophobia spreads to Overberg town of Bredasdorp.” Daily Maverick [online], 06 April 2022. Soos gevind by:

https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2022-04-06-interfaith-community-rallies-as-xenophobia-spreads-to-overberg-town-of-bredasdorp/

StatsSA, 2022. “Experience of crime in SA increased over the 2021/22 period.” Soos gevind by:

https://www.statssa.gov.za/?p=15700

Steenekamp, C & Alexander, A 2022. The World Values Survey, South Africa. Stellenbosch: Centre for International and Comparative Politics. Soos gevind by: https://polsci.sun.ac.za/the-world-values-survey/

World Council of Churches. 2023. Interreligious Dialogue and Cooperation [online]. Soos gevind by:

https://www.oikoumene.org/what-we-do/interreligious-dialogue-and-cooperation

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top