Byna ’n derde van die NG Kerk se lidmate is ouer as 60 jaar, volgens die jongste navorsing. Dit behoort ’n wesenlike implikasie vir bediening van die kerk tot gevolg te hê, skryf Kobus Schoeman.
NG lidmate ouer as 60 jaar trek al by meer as 257 000. As ’n persentasie van die totale lidmaattal styg dit van 27% in 2018 tot 32% in 2022. Hierdie verandering vra dat ouer lidmate ’n al hoe belangriker fokus van die bediening van die kerk en gemeentes moet word.
Hierdie groep lidmate verteenwoordig egter nie net ’n kategorie wat versorg moet word nie. Hulle kan ’n wesenlike bydrae tot die bediening van die kerk lewer. Die potensiaal van dié lidmate behoort nie onderskat te word nie en ouer lidmate kan ’n konkrete bydrae lewer tot die verwesenliking van die kerk se roeping. ’n Noodsaaklike vraag is of dit wel, veral op gemeentevlak, gebeur?
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
Minder maar genoeg
Dit is ’n vraag wat gereeld voor die sitting van die Algemene Sinode opduik: Het die kerk minder of meer lidmate? En vanjaar sal kwalik ’n uitsondering wees wanneer afgevaardigdes op 15 Oktober in Boksburg vir die 18de sitting van die Algemene Sinode aanmeld. Want getalle en mag word dikwels aan mekaar gekoppel. Die kerk se invloed word, volgens hierdie denke, minder in die samelewing as die getalle afneem.
Maar hoe lyk ’n ander perspektief? Die aantal lidmate is wel ’n kritiek belangrike bate en arbeidsmag vir die kerk. Ja, sonder twyfel. Maar wanneer die fokus lê by die benutting van die lidmate as ’n hulpbron en nie in die soeke na die mag van ’n “groot” kerk nie, dan sien ’n mens ’n ander prentjie. ’n Prentjie waar minder lidmate – wat diensbaar in die gemeente en gemeenskap is – wel genóég kan wees.
Wat sê die data?
- Die NG Kerk se totale lidmaattal verminder van 2014 tot 2018 met 14% van 1 012 215 tot 866 435.
- Daarna, van 2018 tot 2022 daal dit met 7% tot ’n beraamde totaal van 805 775 lidmate.
Die daling, in beide tydperke, kan aan verskeie faktore toegeskryf word soos die veroudering van die kerk se lidmaatsamestelling en die emigrasie van lidmate na die buiteland.
Daar is ook lidmate wat die kerk vir ander denominasies verlaat of lidmate wat doodgewoon kerklos word.
Die daling van 2018 tot 2022 is minder skerp as in die vorige periode en daarom kan die daling in 2018-2022 nie sonder meer aan bepaalde besluite van die Algemene Sinode van 2019 gekoppel word nie.
Die Covid-pandemie lewer waarskynlik ook in dié verband ’n bydrae, maar dit is moeilik bepaalbaar.
Tog konstante toevoeging
Hoe lyk dit as ’n mens infokus op die getalle? Die aantal dooplidmate, as ’n persentasie van die totale lidmaattal, bly oor die afgelope dekade konstant op ongeveer 23%.
Dit dui daarop dat daar ’n konstante toevoeging van jong lidmate is, al word die werklike getal minder weens die daling in die totale aantal lidmate.
Die bediening aan – en sáám met – dooplidmate bly daarom ’n belangrike fokus van die kerk en gemeentes.
’n Volgende gevolg van die daling in lidmate is dat gemeentes ook kleiner word.
- Gemeentes met minder as 300 lidmate (beskryf as familiegemeentes) styg van 29% in 2018 tot 36% in 2022.
- Pastorale gemeentes (301-700 lidmate) daal van 39% in 2018 tot 36% in 2022.
- Programgemeentes (701-1 500 lidmate) daal van 20% in 2018 tot 17% in 2022.
Die onderlinge verhoudinge, bediening en strategieë in kleiner gemeentes is fundamenteel anders as in groter gemeentes. ’n Familiegemeente funksioneer anders as ’n programgemeente en daarom is aanpassings in kleiner gemeentes se bedieningstyl en -strategie nodig.
Diensbaar in die gemeenskap
Lidmate van die kerk is op verskeie vlakke betrokke in die gemeente, maar ook buite die gemeente. Dit wil lyk asof individuele lidmate meer by gemeenskapsorganisasies en -aktiwiteite (soos markte, optogte, skoonmaakprojekte, konserte, ens.) betrokke is as gemeentes wat sulke organisasies of aktiwiteite as deel van hulle bediening ondersteun. Die gemeente-opname in 2022 dui aan dat 59% van die lidmate hierby betrokke teenoor 31% van gemeentes wat op dié wyse in die gemeenskap diensbaar is. Die data wys duidelik: Individuele lidmate lewer ’n noodsaaklike bydrae in hulle gemeenskappe.
- Prof Kobus Schoeman is die voorsitter van die Taakspan Navorsing van die Algemene Sinode.
- Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinode se sitting.

