Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.

Slypskool 2023: Tree vir tree na saamwees en eensgesindheid

’n Verslag wat in Oktober vanjaar gaan dien by die sitting van die NG Kerk se Algemene Sinode laat haar nadink en droom oor die versoeningspad wat vir die kerk voorlê, skryf Karlie Liebenberg.

 

Die Algemene Sinode 2023 is om die draai (sien die volledige agenda en verslae hieronder. – Red.) en die kwessie oor rasseversoening is weereens op die tafel. Die Taakspan vir Rassisme, Versoening en Geregtigheid het die afgelope paar jaar ’n reeks ondersoekende gesprekke tussen mekaar asook met ander mense gevoer. Daar is verskeie werkswinkels aangebied en navorsing is gedoen om gemeentes, predikante en lidmate met die nodige vaardighede toe te rus om versoeningswerk met ’n goeie gesindheid te bevorder. ’n Bewustheid het ontstaan dat die NG Kerk ’n groter kapasiteit en vaardighede moet ontwikkel om sodoende mekaar en ander te verstaan en te vind, sodat die sensitiwiteit rondom historiese en voortgaande rassisme ’n ommeswaai kan beleef.

LEES OOK: Slypskool 2023: Geloof, gemeenskappe en geloofsgemeenskappe

Die Taakspan Navorsing het onlangs ’n vraelys aan predikante onder die ouderdom van 40 uitgestuur waar een van die volgende vrae was: Waarvoor sal jy jouself persoonlik beywer vir die toekoms van die NG Kerk in die volgende 20 jaar? Die bevindinge wys duidelik dat predikante inklusiwiteit, kerkeenheid, ras- en versoeningswerk as ’n prioriteit sien waaraan hulle die volgende paar jaar ernstig moet aandag gee. Versoening bly ’n uitdaging vir die kerk, hierdie is ’n voortdurende proses.

Versoening moet altyd hoop bring. ’n Voorbeeld hiervan is die ruimte wat tussen die VG Kerk Bredasdorp en die NG Kerk Bredasdorp geskep is om ’n struktuur van eenheid te skep en hoop te bring. Dit is ’n storie van hoop wanneer ons as gesamentlike gemeente (Bredasdorp Gemeente) saam nagmaal vier en die waarde van saamwees en eensgesindheid ontdek omdat versoening volgens die bekende Suid-Afrikaanse teoloog, John de Gruchy, die hart van ons Christelike geloof is.

LEES OOK: Slypskool 2023 | Lidmaattal: Die 60-plussers staan sterk in die kerk

Daar is vele mooi stories wat gebeur wat lidmate dankbaar en opgewonde maak. Stories van hoop is om te sien hoe twee mans van verskillende kulturele agtergronde en velkleure mekaar geduldig by die OTM help. Ons het mekaar nodig.

Die kerk moet meer ruimtes skep waar ’n moedelose samelewing nuwe perspektiewe kan kry deur middel van positiewe stories wat hoop bring. Deur hierdie stories te deel word gedagtes van versoening omgeskakel in dade. Die geheim is om op “doen” en “aksie” te fokus en nie net aktiviste te wees wat hieroor praat nie. Ons geloof moet hier oorgaan in aksie.

Dit is belangrik dat die NG Kerk aanhou om geestelike kapasiteit, teologiese kennis en vaardighede aan te wend om versoening op ’n volgende vlak te kry. Mag ons aanhou om stories van hoop rakende eensgesindheid te deel, sodat dit ’n rigtingwyser vir die samelewing en die kerk kan word. Die mens doen die moontlike, maar God spesialiseer in die onmoontlike.

 

  • Ds Karlie Liebenberg is predikant by Bredasdorp Gemeente (’n saamgevoegde gemeente van die NG Kerk Bredasdorp en die VG Kerk Bredasdorp).
  • Hierdie berig spruit voort uit die Slypskool vir Skrywers 2023. Dit is ’n jaarlikse kreatiewe leergeleentheid waar leraars en ander woordmense in die kerk se kommunikasie-ekosisteem die kans kry om in ’n rustige omgewing en met kundige begeleiding te skryf aan aktuele artikels. Die slypskool word aangebied in samewerking tussen Kerkbode en die Taakspan Navorsing. Vanjaar se tema was die inhoud van die agenda van die Algemene Sinodesitting.
AGENDA AS 2023 Elektronies (1)

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top