Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Brief: Moenie mediasie met arbitrasie verwar

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Johann Ernst van Centurion skryf: Dr Gustav Claassen probeer verduidelik waarom die ASM die Koinonia Sinode se versoek om mediasie namens 56 gemeentes geweier het, maar bak kluitjies.

Eerstens verwys hy na die Kerkorde as ’n kontrak. Ingevolge die kerkreg is ’n kerkorde juis nie ’n kontrak nie. Dit is die interne verbandsreg (jus constitum en jus constituendum) van die kerk. Die jus constituendum is die artikels van die kerkorde wat vir die regering van die kerk gebruik word, soos dit deur Christus vasgestel is en in die Bybel tot openbaring kom. Die jus constitum is nie van Skriftuurlike oorsprong nie, maar dit word aanvullend gebruik om orde te bewerkstellig. Dit berus weliswaar op onderlinge aanvaarding, maar dit maak nog nie van die kerkorde ’n kontrak nie. Die belydenisskrifte berus ook op onderlinge aanvaarding en tog kan die belydenisskrifte nooit as kontrakte aangemerk word nie.

LEES OOK | Brief: ‘Hoe gemaak as die ASM ons telkens terugverwys na verstopte kerkordelike kanale?’

Tweedens is dit onwaar dat die samestellende kerke met mekaar “gekontrakteer” het dat alle gesprekke en prosesse deur sinodes sal plaasvind. In die geval van appèl, beswaar, geskil en gravamen het lidmate, ampsdraers en mindere kerkvergaderinge direkte toegang tot die Algemene Sinode of sy gevolmagtigde ASM. Daarvoor maak Artikel 23.4 van die Kerkorde (jus constituendum) en die Riglyne vir die Beslegting van Kerklike Geskille (jus constitum) voorsiening. Volgens laasgenoemde kan ’n kerkvergadering, waar konflik onder sy aandag kom, persone benoem om die oplossing daarvan te begelei. Artikel 18 van die Kerkorde sluit die Algemene Sinode as kerkvergadering hierby in. Waar ’n geskil ontstaan het weens die Algemene Sinode se eie besluite en/of optredes, kan dit nie van lidmate, ampsdraers, kerkrade en ringe verwag word om hulle eers deur die kanaal van die sinode tot die Algemene Sinode te wend nie.

Die antwoord van die “Dagbestuur van die Algemene Sinode” (sic) aan Koinonia Sinode en die 56 gemeentes verstrek, is onkerkordelik en kom neer op die belemmering, verydeling en dwarsboming van gemagtigde kerklike optrede.

Derdens weet dr Claassen nie wat mediasie is nie. Hy sê mediasie is nie ’n proses wat deur die kerkorde voorgeskryf word nie, maar tog word op ses verskillende plekke in die Kerkorde van kerklike mediasie gepraat. Daarby word mediasie ook deur die Reglement vir die Beslegting van Kerklike Geskille ondervang. Hy praat oor regspersoonlikheid, terwyl dit om gesprek tussen lidmate, ampsdraers, gemeentes en kerkvergaderinge gaan. Hy verwar mediasie met arbitrasie.

Claassen sê voorts die Kairos Sinode het nie locus standi nie, maar die ASM en die Algemene Sinode het ook nie. Locus standi is nie ’n kerklike begrip nie, maar ’n term wat in die burgerlike reg gebruik word om verskyningsbevoegdheid in ’n hof te omskryf. In die kerk as geloofsgemeenskap word juis die toon van burgerlike regspleging vermy. Die ASM en die vergadering van die Algemene Sinode is slegs organe van die regspersoon. So kan die Koinonia Sinode ook as gemagtigde orgaan van die 56 gemeentes funksioneer.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top