Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2025

Brief: ‘Hoe gemaak as die ASM ons telkens terugverwys na verstopte kerkordelike kanale?’

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Ds Norma Rossouw van die Vaalrivier-gemeente skryf namens Koinonia Sinode: Hoe gemaak as kerkleiers hulle posisie in die kerk misbruik om vanaf ’n verhewe troontjie hulle eie ideologiese sienings te bevorder? Hulle doof hou vir die noodroep van meer as 100 NG gemeentes met ’n paar duisend lidmate wat die kerk wil terugroep tot gehoorsaamheid aan die Woord?

Hoe gemaak as kerkleiers kop in die sand steek terwyl hulle toekyk hoe die NG Kerk besig is om te brand?

Hoe gemaak as kerkleiers hulle ore toedruk en weier om te luister en te praat oor die vervalle toestand van die Algemene Sinode?

Hoe gemaak as die ASM drie maal die skriftelike versoeke vir ’n proses van onpartydige mediasie, botweg weier en steeds hulle aandeel in die kerkskeuring ontken?

LEES OOK: Wat NG Kerk sê oor die konsep Huwelikswetsontwerp van 2022

Hoe gemaak as die ASM-dagbestuur so selfvoldaan geword het dat hulle hulleself die reg toe-eien om die aanbod vir mediasie wat aan die volle ASM gerig was , summier te weier sonder om die hele ASM daaroor te laat stem?

Hoe gemaak as die ASM wat roem op hulle diversiteit, weier om in ’n mediasiegesprek te tree met die amptelike verteenwoordigers van 56 NG gemeentes? Was die luisterseisoen ’n paar jaar gelede, nie juis bedoel om beter na mekaar te leer luister nie?

Hoe gemaak as kerkleiers allerlei spronge maak om hulle plig tot gesprek te ontduik? Hulle vlug vir ’n eerlike mediasieproses agter die dekmantel dat die 56 gemeentes glo nie “locus standi” het om met die ASM te mag praat nie. Nêrens gebruik die Kerkorde hierdie regsterm nie en nêrens beperk kerkvergaderings hulle taakspanne met wie hulle mag praat en wie nie. Intussen spog die AS ook met hulle “ruim huis” waar almal welkom is. Van wanneer af is die ASM so belangrik dat hulle kan weier om met die amptelike afvaardiging van 56 NG gemeentes te praat?

Taakspanne poog toenemend om selfs buitegroepe, soos die LGBTQI+ bewegings, mediese dokters, wetenskaplikes, maatskaplike werkers, sielkundiges, lidmate van die VGK, ens te betrek. Almal geniet locus standi behalwe die 56 NG gemeentes wat met hulle in gesprek wil tree oor dwalinge in die NG Kerk.

Hoe gemaak as die ASM ons telkens terugverwys na verstopte kerkordelike kanale wat lankal benut én uitgeput is? Almal wat die binnekant van die kerk se sinodale strukture ken, weet dat dit óf blatante onkunde óf oneerlikheid is om te beweer dat die dolerende gemeentes nie reeds herhaaldelik dié kanale probeer het nie – net om hulle telkens teen ’n muur vas te loop. Miskien is die eerbare weg voordat die NG Kerk heeltemal disintegreer: Die ASM-dagbestuur moet vandag bedank sodat leiers aangewys kan word wat meer besorg is oor die belange van die ganse NG Kerk as oor hulle eie posisies, eer, belange en ideologieë. – Brief verkort. – Red.


Oor mediasie en die kerkorde:

Dr Gustav Claassen, die algemene sekretaris van die NG Kerk, reageer by navraag as volg op die versoek om mediasie: “Die kerkorde, die kontrak wat samestellende kerke met mekaar aangegaan en toegestem het, gee genoeg meganismes en prosesse om kerklike geskille te hanteer. Dit is in dié ooreenkoms soos uiteengesit in die verskillende artikels dat die gesprekke en prosesse deur sinodes of samestellende kerke sal plaasvind en nie los daarvan nie. Dit is nie wenslik dat die kerk sy eie reëls verbreek nie. Mediasie is nie ’n proses wat deur die kerkorde voorgeskryf word nie en is ’n proses tussen twee regspersone waarin ’n arbiter ook ’n rol speel. In die gesprek ter sprake het Koinonia nie locus standi nie en is dus nie ’n regspersoon nie. Die uitnodiging is altyd daar vir gesprek maar dan nav die riglyne soos ooreengekom en dit word in die kerkorde vervat.”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Versprei God se Woord
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top