Op 20 en 21 September vind ’n konferensie getiteld Wedersyds op Stellenbosch plaas wat spesifiek handel oor “intergenerasionele geloofsvorming”. In aanloop daartoe verduidelik Cas Wepener dat praktyke soos prediking, gebed en kleingroepe nie sommer net bestaan nie, hulle word voortdurend deur mense vorm gegee.
Vorm die dinge wat ek doen my? Of vorm ek die dinge wat ek doen? Is dit net een, is dit albei?
Indien ek byvoorbeeld bewustelik eet; aandag skenk aan die kleur en geur van die kos, aan die voedselketting, volhoubaarheid en die rol wat hoe en wat ek eet op die groter ekologiese en ekonomiese werklikheid waarbinne ek leef en kou uitoefen; met dankbaarheid elke hap neem en gereeld daaroor dink dat die feit dat daar iets op die bord voor my is om te eet nie vanselfsprekend in ons wêreld is nie; vorm hoe ek eet wie ek is en wie ek al kouende besig is om te word. Sou ek sonder enige waardering dit wat op my bord is as vanselfsprekend neem en onnadenkend verorber, vorm hoe ek eet óók wie ek besig is om te word, maar wel op ’n andersoortige wyse.
Wat geld vir kou, geld insgelyks vir al die praktyke wat ek uitvoer – werk, ontspan, tuinmaak, stap, herwin (of nie), met my hond speel (my kat stel geensins belang nie) en koop. En natuurlik tel godsdienstige praktyke ook onder die praktyke wat mense uitvoer. Die dinge wat Doppers doen, vorm Doppers. Wat Katolieke doen, Katolieke. En wat Moslems, Jode, Hindoes en Zoroastraniste doen, vorm Moslems, Jode, Hindoes en Zoroastraniste. Soos wat hierdie mense hulle godsdienstige praktyke uitvoer, vorm die praktyke hulle om al meer te word wie hulle is.
Reeds in die 3de eeu van die kerkgeskiedenis het Tertullianus, teoloog uit Noord-Afrika, opgemerk dat Christene gemaak en nie gebore word nie. Sy opmerking was met verwysing na ’n kerklike praktyk genaamd die kategumenaat wat ongeveer tot en met die 5de en 6de eeu in gebruik was. Die kategumenaat was ’n driejaarlange proses wat uit ’n kombinasie van liturgie en lering bestaan het; was verpligtend vir almal wat ’n lidmaat van die kerk wou word en het uitgeloop op die doop. Dit was mooi, maar dit was ook moeilik en hard en het diegene wat dit gedoen het op ’n diepgaande manier gevorm. Christene is inderdaad deur deelname aan hierdie praktyk gemaak.
LEES OOK: #AlgemeneSinode2023: Só lyk die agenda vir saamkoms van 15-20 Oktober
Dat die dinge wat ons doen ons vorm, is ’n feit. En heelwat teoloë en filosowe het in die laaste jare hieroor geskryf. Gerard Lukken praat van die etiese dimensie van Christelike rituele (dit wat in die ritueel gesimboliseer word verwys na ’n totale lewens- en wêreldbeskouing, en in soverre die ritueel daardie verwysingsraamwerk inskerp en mense daaraan deelneem, vorm dit die karakter van die deelnemers en kan dit mense se lewe en optrede beïnvloed). Jamie Smith skryf weer oor mense se begeertes, hoe ons begeertes ons rig en dat die praktyke wat ons as gevolg van daardie begeertes uitvoer ons in die rigting van daardie begeertes laat leef. En ’n hele rits teoloë het geskryf oor die waarde van die erediens om mense te help om elke Sondag opnuut in die regte rigting te kyk.
LEES OOK: Om te word wie ons is
Dit is alles mooi en ek glo dit is waar dat praktyke vormend is, maar dis glad nie so maklik om seker te maak dat praktyke mense op sinvolle en goeie wyses laat word wie hulle is nie. Saam met al die mooi goed wat oor die vormende waarde van praktyke gesê word, is dit ook nodig om op die Katolieke teoloog Nathan Mitchell se waarskuwing ag te slaan, naamlik dat ons graag praktyke (hy verwys spesifiek na die liturgie) self wil maak, eerder as om toe te laat dat praktyke ons maak. Dit is dus ook belangrik om daarop te let dat praktyke soos prediking en gebed en kleingroepe nie sommer net bestaan nie, hulle word voortdurend deur mense vorm gegee. Dit beteken dat ’n praktyk soos ’n preek, selfs al is dit met die beste bedoelings vorm en inhoud gegee, nie noodwendig net goed en mooi en sinvol vormend is nie. ’n Preek, selfs ’n gebed en ’n belydenis, word deur feilbare mense gemaak en uitgevoer en kan daarom selfs boos wees en sleg in hoe dit hoorders vorm. Swakgemaakte praktyke kan mense selfs misvorm.
Dit is natuurlik een rede waarom daar ’n veld soos Teologie bestaan. Was alle Christelike praktyke gewoon net goed vir ons, sou dit gewees het soos liggame wat nooit siek word en dus nooit enige mediese intervensie benodig nie. En dit sou die mediese professie dus oorbodig gemaak het. Soos ons egter die mediese wetenskap nodig het vir die gesondheid van ons liggame, so het ons (Praktiese) Teologie nodig om ons praktyke gesond te hou en ’n remedie en intervensie te bied wanneer dit nodig word.
LEES OOK: Narsisme: Mense van die leuen
In die gereformeerde tradisie word daar op ’n besondere wyse hieroor gedink, naamlik dat geen praktyk verhewe is bo kritiek nie. Inteendeel, alle gereformeerde praktyke moet eintlik voortdurend krities onder die loep geneem word, juis ook omrede Christene gemaak en nie gebore word nie (wel deur God se genade en God maak hiervoor ook van praktyke gebruik). Die Griekse woord krinein beteken onder meer om te deurlig, soos om ’n diamant teen die lig te hou sodat die kleur en karakter daarvan beter gesien en beoordeel kan word. En die kritiese lig wat ons voortdurend in die gereformeerde tradisie deur ons praktyke laat skyn, is die lig van die Skrif in afhanklikheid van God se Gees.
Op 20 en 21 September vind ’n konferensie getiteld Wedersyds op Stellenbosch plaas wat spesifiek handel oor “intergenerasionele geloofsvorming”. ’n Erediens waar alle generasies saam teenwoordig is, vorm die erediensgangers op ’n intergenerasionele wyse. ’n Monogenerasionele erediens vorm erediensgangers weer op ’n monogenerasionele wyse. Die dinge wat ons doen vorm ons, én ons vorm die dinge wat ons doen. Daarom kan praktyke waardevol wees om ons te laat word wie ons is, om ons te vorm … of om ons te misvorm. Dit is daarom belangrik dat die kritiese lig van die Woord en die Gees beïnvloed hoe ek kou, hoe ek koop, hoe ons eredienste inrig, selfs hoe ek my liefdelose kat behandel.
Vir die dieper delwers: Om te word wie ons is: Oor geloofsvorming in en deur gemeentes (Coenie Burger et al reds., 2023) word uitgegee deur Bybel-Media en handel oor geloofsvorming.
- Prof Cas Wepener doseer Praktiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.