Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dit bring hoop wanneer kerkleiers optree as bemiddelaars namens die gemeenskap in konfliksituasies soos die onlangse taxi-staking in Kaapstad vertel dr Llewellyn MacMaster wat hier ’n kers aansteek vir vrede saam met die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, tydens ’n intergeloofsdiens gehou in die St George’s katedraal in Kaapstad. Foto’s: Verskaf

‘Ons as geloofsleiers het nie ’n keuse nie’ – Llewellyn MacMaster oor sigbaar en hoorbaar wees as stem van die kerk

Dr Llewellyn MacMaster het saam met Kaapstad se burgemeester, vakbondleiers en ander geloofsleiers midde-in ’n ontwrigtende taxistaking ’n kers van hoop aangesteek. Hy vertel aan Heléne Meissenheimer hoekom sulke gebare só nodig is.

Op sosiale media, in koerante, oor die radio … Al meer hoor en sien ’n mens word gepraat oor “die stem van die kerk” wat meer hoorbaar en sigbaar moet word.

Ds Nelis Janse van Rensburg skryf in Mei vanjaar in Kerkbode “die kerk se profetiese stem moet nou helder en duidelik gehoor word in Suider-Afrika … Ons moet dit doen van ons kansels en ons moet daaroor praat in die media en ander forums …”

Lees meer: Nelis Janse van Rensburg: Ons sal moet deelneem aan plaaslike politieke debatte en strukture

By Kerkbode se onlangse slypskool vir skrywers sê die bekroonde joernalis en skrywer Ferial Haffajee die land het die stemme van kerkleiers nodig om ’n morele kompas te bied.

Luister: PODSENDING: Oor Zondo, korrupsie, kerke en ‘kindness’ … Ferial Haffajee gesels by Kerkbode se Slypskool vir Skrywers in Johannesburg

By navraag aan MacMaster stem dié kerkleier van die VGK saam maar hoor ’n mens by hom ook ’n versugting vir ’n meer verenigde stem uit kerkgeledere as hy sê “ons is dalk te versplinterd in wat ons doen”.

Hy verduidelik: “Ek dink nie daar word niks gedoen deur kerke en kerkleiers nie … maar ek dink as ons meer saam kan doen, meer sigbaar … oor grense werk, oor denominasionele grense, oor geloofsgrense, want ons gemeenskappe bestaan uit verskillende gelowe en verskillende geloofsgroepe en vorme … ons sal dit moet doen om ’n sterker stem te hê.”

Lees ook: Sondag op Philippolis: Die leemte wat Carin van Schalkwyk laat

Ons gesels op WhatsApp. Sy kar het gebreek en sy program is propvol. Hy is druk besig met voorbereiding vir die sitting van die VGK se Streeksinode Kaapland (sluit in, Wes-Kaap, Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap) waar hy einde September sal uittree as voorsitter van die moderatuur. ’n Rol wat hy vir vyf jaar in plaas van die gewone vier vervul het omdat die Covid-pandemie ook hierdie kerkgroep binne die familie van NG Kerke se jaarprogramme omver kom werp het.

Dié pandemie het in sy woorde “nog ’n laag trauma kom lê” in die meestal armer gemeenskappe waaruit die VGK se lidmaattalle kom. Soos ook sy gemeente, SA Gestig in Belhar, waar hy sedert 2009 gemeenteleraar is. Maar hy moet ’n veel wyer verantwoordelikheid dra want in hulle ring van 13 gemeentes is net drie gemeenteleraars, waarvan een ’n tentmaker is. So, ná 36 jaar in die bediening wink aftrede nie noodwendig vir hierdie pa en oupa van twee wat graag tyd saam met sy kleinkinders wil deurbring nie.

Meermale in die visier

Hy is al van sy studente-aktivisjare betrokke by gemeenskapskwessies, vertel die boorling van die Oos-Kaap vir Kerkbode. Tydens sy ses jaar teologiese studies by die Universiteit van Wes-Kaapland van 1981-1986 (dit was lank voor hulle teologiese fakulteit gesluit het) was hy as leier van die studenteraad meermale in die visier van die veiligheidspolisie oor sy betrokkenheid by gemeenskapspolitiek in die stryd teen apartheid. So het hy ten minste drie keer in aanhouding beland, sonder verhoor, en is ook gearresteer vir die onwettige bywoon van byeenkomste.

Dié ervaring, om “in die spervuur van die veranderinge, die transformasie en strewe na geregtigheid in ons land” te staan, het sy lewe lank by hom gebly vertel die teoloog en akademikus wat dikwels sigbaar ingryp by gemeenskapskwessies. 

Die jongste was tydens die gewelddadige taxistaking wat die Kaapse Metropool aan die begin van Augustus lamgelê het. Ten minste vyf mense het gesterf. Derduisende mense kon nie gaan werk nie, skole moes toemaak en hospitale het geworstel om pasiënte te hanteer met te min personeel.

So kry MacMaster in hierdie tyd ’n oproep om hom in te lig dat Cape Crisis Committee, die gemeenskapsgroep waarvan hy jare al deel is, ’n virtuele vergadering reël en hy moet dit lei. Byna 200 mense uit die gemeenskap, van burgerlike organisasies en vakbondlede tot geloofsleiers, woon hierdie vergadering op Maandagmiddag 7 Augustus by.

Die volgende dag kry hulle dit reg om ’n gespreksgeleentheid te kry met die leierskap van die taxivereniging, Santaco. Twee dae later, op Vrouedag, steek Santaco se Wes-Kaapse voorsitter, Mandla Hermanus en die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, ’n kers aan saam met aartsbiskop Thabo Makgoba en ander geloofsleiers tydens ’n intergeloofsdiens vir vrede gehou in die St George’s katedraal in Kaapstad. Hy vertel “dit was natuurlik ’n groot moment toe aartsbiskop sy hande op beide die koppe van die burgemeester en Santaco se leier gelê en vir hulle gebid en vir hulle geseën het”.

“Dit was ’n groot moment toe aartsbiskop sy hande op beide die koppe van die burgemeester en Santaco se leier gelê en vir hulle gebid en vir hulle geseën het.”

MacMaster glo hierdie geleentheid en die twee opvolgbyeenkomste in Gugulethu en Mitchells Plain, wat almal mediadekking gehad het, het mense hoop gegee. In sy woorde, “’n teken dat kerkleiers weer prominent is in ’n krisis”.

Dit is iets waarop hy hoop voortgebou kan word om heling te bring in hierdie gemeenskappe waar soveel verdeeldheid is, waar “rassisme sy slegte kop uitsteek, dikwels ook juis in krisisse”.

Hy voeg by hulle groep geloofsleiers het vir mekaar gesê die werk om mense uit verskillende gemeenskappe te kry om oor kleur- en geloofsgrense heen saam te werk moet aangaan. Hulle weet dit is ’n groot taak. ’n Massiewe taak. Soos Macmaster verduidelik, “ons weet dat hulle al baie teleurgestel is deur leiers en mense wat hulle voordoen as leiers” en bykomend hierby is die “lae en lae trauma in ons gemeenskappe, historiese intergenerational trauma, wat uitspeel in al hierdie maatskaplike euwels wat ons het, die gebrokenheid en stukkendheid wat ons sien …

“So, met dit alles in gedagte pak ons hierdie reis aan …”

Lees ook: Ook hoop vir eenheid met VGK groei waar kerkgebou uit puin herrys na brand se verwoesting

Hy meen as geloofsleier is om sigbaar en hoorbaar te wees al manier vorentoe: “Ek dink ons as geloofsleiers het geen ander keuse nie. Om in ’n samelewing, in ’n land wat bloei, wat stukkend is, wat verwond is, ware vrede te verkondig.

“Die sjaloom wat sê dit gaan nie net om die afwesigheid van geweld nie, maar dit gaan ook om mense die geleentheid te gun, die ruimtes te skep om tot hulle volle potensiaal te kan kom.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top