Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Maitland Gemeenskapskerk het op Sondag 4 Junie hul 120ste bestaansjaar gevier, asook die inhuldiging van die gerestoureerde kerkgebou ná 'n verwoestende brand in Desember 2018. Foto's: Le Roux Schoeman / Kerkbode

Ook hoop vir eenheid met VGK groei waar kerkgebou uit puin herrys na brand se verwoesting

Interafhanklikheid eerder as onafhanklikheid. Opoffering eerder as sekerheid (sacrifice rather than security).

Dit is hoe Maitland Gemeenskapskerk hulle dramatiese storie van herrysing uit die as en eenheid oor grense volvoer, het ds Helgard Pretorius, leraar by NG Kerk Pinelands en skriba vir die Ring van Wynberg op Sondag 4 Junie getuig tydens die inwydingsdiens van ’n omvattend en kreatief gerestoureerde weergawe van die kerkgebou in Voortrekkerweg wat in Desember 2018 afgebrand het.

“Die gemeente se leuse (Ons hande en hart is oop vir alle mense), is nie net ’n leuse nie, hierdie mense leef dit uit, van dag tot dag tot dag,” het Pretorius gesê.

Hy het verskillende “vennote” (ander NG gemeentes asook die plaaslike VG gemeente en ander kerkverbande wat hier ten nouste saamwerk) bedank vir hulle ondersteuning en was vol lof vir “die dienende leier”, ds Juanita Greyvenstein, die leraar wat die heropbouproses deurgesien het.

Greyvenstein het intussen die gemeente verlaat het en is onlangs bevestig as leraar by Krugerwildtuin-gemeente in Skukuza, “daar tussen die Groot Vyf”, soos ’n spreker skertsend opgemerk het tydens die vele waardering wat uitgespreek is vir die rol wat sy in hierdie gemeente se lewe en ook herstel na die leed gespeel het.

Ds Helgard Pretorius, leraar by NG Kerk Pinelands en skriba vir die Ring van Wynberg.
Ds Juanita Greyvenstein, oudleraar by Maitland Gemeenskapskerk Sondag by die inhuldigingsdiens. Foto: Le Roux Schoeman
Ds Greyvenstein vroeër tydens ‘n rondwys van die nuwe gebou. Foto: Kerkbode
Ds Greyvenstein en Careen Petersen, diaken, het by ‘n vroeëre geleentheid vir Kerkbode die nuwe gebou gewys.

Greyvenstein was wel Sondag teenwoordig en het voor in die kerk gesit, langs geliefde staatmakerlidmate soos Careen Petersen wat swaar van haar afskeid geneem het.

Vanaf die galery bo die ruim kerksaal, agter klankdigte glas, het ’n groepie energieke jong seuns vergeefs in die rye stoele onder hulle gesoek na die “auntie” wie se 120ste verjaarsdag dit dan sou wees, tot ’n ouer lidmaat verduidelik het dat die Kaapse gemeente – naas die restourasie en nuwe innoverende geriewe soos ’n plek van veiligheid vir weerlose vroue asook deeltydse werkspasie vir kantoorsoekers – vanjaar hulle 120ste bestaansjaar vier. Die 120 klein kersies op ’n tafel voor in die gestroopte liturgiese ruimte was as ’t ware almal se verjaarsdag, het hy aan die nuuskierige jonges verduidelik.

Tekens van die vlamme se verwoesting, soos hierdie verbrande vensterraam, vertel steeds die gebou se storie.

Lidmate is uitgenooi om deel te neem aan hierdie veeldoelige vieringsgeleentheid wat op Facebook as “From Ashes to Glory” bemark is en die kersies is in die vorm van 120 aan die brand gesteek.

Naas teologies beduidende ruimte-aanwending in die nuwe gebou, is hier ook in Maitland ’n storie van eenwording: “Ons was bevoorreg om in hierdie ruimte deel te neem aan gesprekke tussen die VGK en Maitland Gemeenskapskerk, en ons ander vennote,” het Pretorius gesê. Die VG en NG gemeentes het reeds verbind aan mekaar om een te wees. “Hulle is nou op die pad om daar uit te kom,” volgens Pretorius. “So ’n eenheidspad is maar vol speed bumps en doodloopstrate en moeilike goed wat gebeur.”

Joan Cramond, hoofouderling van VGK Maitland. Foto: Le Roux Schoeman

Hy’t bygevoeg: “Die gesprekleiers was baie wys … Hulle het gesê, die probleme en die antwoorde wat julle sien, dis die tippie van die ysberg. Onder die water is daar ’n reuse-werklikheid waarmee julle moet reken. En dit is God se teenwoordigheid onder julle,” het Pretorius verduidelik oor die soort gesprekke wat vir vele gemeentes onverwagse en soms frustrerende uitdagings bied in ’n streeksinode waar tegniese hindernisse tot sigbare eenheid met die VGK met hernieude drif bespreek is by die afgelope sinodesitting. “En ons het na God se stem geluister, deur mekaar se stemme.”

Joan Cramond, hoofouderling van VGK Maitland, het die eenheidsgesprekke as huweliksberading beskryf. “Nou gaan die troue plaasvind!” Oor die spoggerige nuwe gebou was Cramond, ’n oudverpleegster wat in operasiesale by Groote Schuur gewerk het, veral opgewonde. “Dit is skoon, dit is wyd, so jy kan genees word!”


Uit die argief: Só het Kerkbode in Januarie 2019 oor die brand by die kerkgebou berig (Foto’s en video: Le Roux Schoeman).

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

1 thought on “Ook hoop vir eenheid met VGK groei waar kerkgebou uit puin herrys na brand se verwoesting”

  1. Annette Hansen

    Dit was ‘n wonderlike ondervinding om die inwyding by te woon. Net nadat die diens begin sing almal “Bind us together, Lord” en almal staan op om mekaar te groet. Spontane sang terwyl kollekte opgeneem is. Opregte boodskappe van die predikante wat betrokke is.

Comments are closed.

Scroll to Top