Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Ons kan die res van die dag praat oor die meriete van Belhar en ons gaan bly saamstem daaroor,” het ds Marinus Theron (middel), die moderator, in ’n stadium tydens die anderhalfuurlange bespreking gesê in ’n poging om daarop te wys dat die gesprek nie gaan oor die woorde in die belydenisskrif nie, maar oor die ingewikkelde kerkregtelike gang daarvan. Foto: Le Roux Schoeman

Sinode van Wes-Kaapland: Afgevaardigdes wil kerkorde by Algemene Sinode wysig om pad vir Belhar te baan

In ’n sinodale streek waar die Belydenis van Belhar reeds “diep gewortel is”, het afgevaardigdes by die Sinode van Wes-Kaapland gestoei met kerkordelike en wetlike beperkings vir die verruiming van die bestaande belydenisgrondslag (Formuliere van Eenheid).

“Ons kan die res van die dag praat oor die meriete van Belhar en ons gaan bly saamstem daaroor,” het ds Marinus Theron, die moderator, in ’n stadium tydens die anderhalfuurlange bespreking gesê in ’n poging om daarop te wys dat die gesprek nie gaan oor die woorde in die belydenisskrif nie, maar oor die ingewikkelde kerkregtelike gang daarvan.

LEES OOK: Ds Charlotte se uitdaging aan NG Kerk oor diversiteit (Dag 4 van Wes-Kaapland sinode)

Die aktuarius, ds Charl Stander, het die aanloop tot bespreking van ’n mosie geraam deur ’n twaalfbladverslag deur te lees. Daarna het Theron gesprek vir deelname van die vloer oopgestel.

Die mosie wat uiteindelik ingestem is (sien onderaan die berig), kies ’n proses om die kerkorde te probeer verander en speel die bal na die Algemene Sinode, wat in Oktober ontmoet. Die voorgestelde verandering gaan oor artikel 44 van die Kerkorde, wat sommige, soos ds Marietjie Steyn van Groote Kerk, meen dit onmoontlik maak om te reformeer. Steyn en ander wou sien dat hierdie sinode ’n ander opsie (artikel 35) volg wat volgens die aktuarius “regsonseker” is. Ds Riaan de Villiers van die Groote Kerk en ander het die dringendheid in konteks gestel: “Ons het hier ’n belydenisskrif … ’n gedekoloniseerde belydenis, ’n geleentheid om te sê ons is ’n kerk in Afrika, ons erken die foute van die verlede … Ons wil ’n nuwe pad stap. As ons artikel 44 gaan aktiveer … dit is prosesse wat hoeveel jaar gaan vat … 50, 100, ek weet nie. Op die oomblik gee art 35 vir ons ruimte om dit te doen …”

Dr Llewellyn McMaster, uittredende moderator van die VGK en ds Marinus Theron (regs), moderator van Sinode van Wes-Kaapland.

Ds Helgaard Pretorius het risiko en kerkordelike probleme gekoppel aan art 35 erken. “Maar wat as ons binne die ruimte wat die kerkorde tans vir ons gee, die geloofstap neem?” wou hy weet. “Laat ons die kerkorde en die ruimte wat dit vir ons gee soos dit tans daar is gebruik om sigbaar te bely en Belhar deel te maak van ons belydenisgrondslag en dan die kerkordelike uitdagings wat daar is, te hanteer.”

Afgevaardiges by die sinodesitting wat van 8-12 Mei by Goudini Spa in die Boland plaasgevind het.

Ander afgevaardigdes met spreekbeurte het vrae en/of besware gehad rondom aspekte soos die “sonder dwang-beginsel” (dat belydenisse nie afgedwing kan word nie) asook die demokratiese element – dat stemming as ’t ware teologie voorsê.

In die laaste bydrae van die vloer, het ds Braam Coetzee vertel van die eenwording van die NG en VG gemeentes op Bredasdorp, waar hy woon. Hulle beleef dat eenheid “onder” begin. Dit begin nie by kerkordes nie. “Ek kom van ’n konserwatiewe gemeenskap in die Vrystaat, maar my hart het verander,” het hy vertel en bygevoeg hulle eenwording het gebeur ten spyte daarvan dat hulle NG kerkraad nie in 2018 die Belydenis van Belhar wou aanvaar nie. “Maar ons het vir mekaar gesê ons wil een wees en dit begin by ons hart.”

Die bespreking kom met nog vars in die geheue hoe besoekende kerkleiers die vorige dag herhaaldelik hulle waardering uitgespreek het vir alles wat hierdie streeksinode oor die afgelope jare doen vir kerkeenheid tussen gelowiges van verskillende rasse.

Soos dr Llewellyn McMaster, uittredende moderator van die VGK, dit gestel het, “daar is ’n stokkie om aan te gee”. Hierop het Theron as nuwe moderator namens die streeksinode se leierskap geantwoord dat hulle nie “die stokkie sal laat val nie”.

  • Die Algemene Sinode het reeds bevind dat die Belhar Belydenis nie in stryd is met die Skrif en die formuliere van Eenheid nie.
  • Die Belydenis van Belhar het in September 1982 as konsepbelydenis beslag gekry tydens die sinode van die NG Sendingkerk. By die sinode van 1986 is dié belydenis as volwaardige belydenisskrif van die NGSK aanvaar en later ook van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA), volgens eCKE.

Hieronder is die besluit soos goedgekeur op 12 Mei.

 

Besluit 16 (A26, §1.13) [Goedgekeur]

Die moderamen stel daarom as volg voor, naamlik dat:

  1. Die Sinode ’n beskrywingspunt indien by die Algemene Sinode van 2023 met die oog op die wysiging van Artikel 44 van die Kerkorde;
  2. ’n Proses deur die Algemene Sinode begin word om Artikel 44 van die Kerkorde te wysig, sodat dit vir die deelnemende sinodes moontlik sal wees om op ’n kerkordelike wyse ander belydenisskrifte te aanvaar sonder om hulle of hulle gemeentes se posisie in die NG Kerk of in die Algemene Sinode te kompromitteer;
  3. Die Regskommissie van die Sinode van Wes-Kaapland versoek word om in oorleg met die moderatuur ’n konsepbeskrywingspunt voor te berei vir goedkeuring tydens ’n spesiale elektroniese vergadering van die moderamen, om by die Algemene Sinode van 2023 te dien, met die oog op die wysiging van Artikel 44 van die Kerkorde;
  4. Die Sinode besluit dat, sodra die Algemene Sinode dit kerkordelik moontlik maak dat haar deelnemende sinodes selfstandig nog belydenisskrifte kan aanvaar, die Moderamen ’n eendagsinode van die Sinode van Wes-Kaapland sal saamroep met die oog op ’n besluit om die Belydenis van Belhar te bely.

Kyk ook:

Video-beeld van die afgelope sinode

 

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

4 thoughts on “Sinode van Wes-Kaapland: Afgevaardigdes wil kerkorde by Algemene Sinode wysig om pad vir Belhar te baan”

  1. Johann Ernst

    Die Kaapse Kerk moet behoorlike kerkordelike adviesinwin voordat die sinode besluite neem wat nie uitvoerbaar is nie. Artikel 44 het met die wysiging van die bestaande belydenisse, die drie ekumeniese en drie gereformeerde belydenisse te doen. Dit het in die verlede gebeur toe neergedaal na die hel met ter helle neergedaal is gewysig is, ook opstanding van die vlees met opstanding van die liggaam. Artikel 1 het met die wysiging van die belydenisgrondslag te doen, en soos die hof gesê het ‘n verandering in kerklike identiteit. Die Artiikel 1 proses kon nie die artikel gewysig kry nie en so is dit nou. Die Kaapse Kerk sal uit algemene sinodale verband moet tree om te kry wat die sinode soek en die gemeentes sal mier instem. Laasgenoemde wil Nelis J van Renburg nie en hy het al in 2015 na ‘n kortpad gesoek. Die enigste ander uitwegis dat gemeentes met verlies aan naam en eiendomuit verband met die Kaapse Kerk tree en verband met die VGKSA opneem, maar met al die ou geld in die Kaapse Kerk sal die “wit kerk” weens bevoorregting nie daarvan afstand wil doen nie. Hulle sal liewer hulle brood aan albei kante gebotter wil hê en ander teen hulle sin in die proses met hulle wil saamneem. As Nelis J van Rensburg en diegene wat soos hy oor Belhar voel, Belhar wil bely, kan hulle vandag nog oorgaan na die VGKSA en in praktyk uitvoer wat hulle predik.

  2. Muller Oosthuizen

    WesKaap sal die geloofstappe móét neem. Die gereformeerde vaders sou nêrens gekom het indien hulle hul aan die behoudendes van hul tyd gesteur het nie.
    Eenheid in die groter NG Kerk is lankal reeds gekelder deur die ongereformeerdes.

  3. Het julle Wes Kaapse Sinode nie al genoeg moeilikheid en verdeeldheid gesaai met die besluite op die vorige Sinode tov selfde geslag verhoudings dat julle die kerk nog verder wil verdeel met hierdie voorstelle tov die aanvaarding van die Belhar belydenis nie. Weet julle hoeveel mense verlaat die kerk agv hierdie twak. Ek hoop dat die ander sinodes en afgevaardigdes deur hierdie plooi sal sien anders as by die vorige Algemene Sinode waar voorstelle op n onkerkregtelike wyse op die tafel behandel is terwyl beswaarskrifte wat behandel moes word nie behandel is nie en nie eers ter tafel geneem is nie. Miskien moet ons kerk eerder sy taak en roeping uitvoer en hom uitspreek oor die korrupsie, geweld ,en misdaad wat in ons land aan die gang is.

  4. Susan Myburgh

    Absolute tyd en energie mors en dit terwyl daar soveel honger mense in ons land is. die Belhar belydenis is deurgetrap. Gee aandag soos “the gift of the givers” daar waar dit regtig saak maak asseblief.

Comments are closed.

Scroll to Top