Daar was al makliker preke om te lewer as die een wat ds Juanita Greyvenstein op haar eerste Sondag ná haar vakansie moes waarneem.
“Ons bevind onsself op ’n ander plek as baie ander gemeentes,” het sy langs ’n sypaadjie in die bedrywige Voortrekkerweg in Kaapstad aan die gemeente gesê. Voor haar het sowat 30 lidmate van Maitland Gemeenskapskerk gesit – sommige op hulle eie kampstoele, enkeles op hulle hurke en ander op stoele wat die vlamme vrygespring het. Want dié gemeente se 115-jarige kerkgebou is in die doodsnikke van 2018 in ’n brand verwoes.

“Dit is vir ons moeilik om voorspoed te sien as ons hierna kyk,” het die leraar aan kerkgangers gesê en oor haar regterskouer gewys in die rigting van die gebou wat van preekstoel tot orrel, van klavier tot galery verwoes is. “Maar dit is wat die mense van die Here kenmerk. Dat ons kan hoop vind, dat ons kan blydskap vind, dat ons kan dankbaar wees al sê ons omstandighede vir ons die teenoorgestelde,” het sy gesê.
Nes die vorige Sondagoggend, toe die brandreuk nog swaar op die perseel gehang en die dominee uitstedig met verlof was, het getroue kerkgangers dié Sondag weer op die plaveisel voor die gebou saamgetrek om lofliedere te sing en mekaar te bemoedig.

Die kloktoring en twee aangrensende vertrekke het behoue gebly, maar rook- en hitte-beskadiging is daarin sigbaar.
Emily Maarman, die koster, is die aand van die brand (29 Desember) deur ’n medelidmaat na die toneel ontbied: “Dit was net tonge vuur gewees,” het sy gesê. “Dit was verskriklik om te sien.” Dominees van nabygeleë gemeentes het na die toneel gehaas en ook ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinodale moderamen, het daardie eerste Sondag deur die puin kom loop. Janse van Rensburg het vertel dat die ou Kanselbybel op interessante wyse die ramp vrygespring het: Dit is vroeër weggestuur vir herstelwerk en het eers die oggend ná die brand opgedaag. “Die Woord is hier, die Gees is hier, die mense is hier, so hier is steeds ’n gemeente al is die gebou weg,” het hy gesê.
Ds Greyvenstein het lidmate op haar beurt kans gegee om stories te vertel oor wat hulle van die gebou onthou en daarna gebid: “Here, kom verras ons met u troos en liefde … Al het ons nie woorde nie, kom luister.”
- Indien jy die gemeente wil help, kontak ds Greyvenstein op 081 219 4750.
