Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Nelis Janse van Rensburg: Ons sal moet deelneem aan plaaslike politieke debatte en strukture


Die kerk se profetiese stem moet nou helder en duidelik gehoor word in Suider-Afrika. Ons lande is immers in die moeilikheid, ekonomies, polities, maatskaplik en geestelik. Dit lyk of die regering sy morele kompas verloor het. Ons sal daarom ons plig versaak as ons nie nou vanuit die Woord van die Here sterk morele leiding bied en protes aanteken nie.

Ons het al voorheen in hierdie rubriek ons stem gevoeg by talle ander wat die regering kritiseer en verantwoordelik hou vir baie van die ellendes van ons land. Ons het al as lidkerk in die SA Raad van Kerke dringend beswaar gemaak en aksie geneem teen korrupsie in die regering en staatsdiens.

LEES OOK: Moenie swyg nie, maan Makgoba by Wes-Kaapland Sinode

Ons het al saam met kerkleiers in die strate geloop en protes aangeteken teen pres Zuma en sy regering wat wet-en-orde prysgegee en verruil het vir eie belang. Ons het al so ver gegaan om met politieke partye in gesprek te tree en hulle aangespreek oor hulle bydrae tot die toestand van geweld en swak dienslewering. Ons het al voorleggings by die parlement gedoen oor voorgestelde wysigings aan wetgewing, byvoorbeeld aan die Kieswet en die Pepuda (Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act 4 van 2000). Ons het al op forums ons uitgespreek teen diskriminasie teen mense wat in die naam van regstellende aksie geskied. Maar ons is nou op ’n punt waar ons in die woorde van die Belydenis van Belhar sê: Ons glo dat “die kerk as eiendom van God moet staan waar Hy staan, naamlik teen die ongeregtigheid en by die veronregtes; dat die kerk as volgelinge van Christus moet getuig teenoor alle magtiges en bevoorregtes wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.”

Die algemene verkiesing van 2024 is reeds besig om die politieke temperatuur in SA op te jaag. Die tyd vir politieke apatie is nou verby. In sy toespraak by die pasafgelope Sinode van Wes-Kaapland het die aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk, en die president van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, aartsbiskop Thabo Makgoba, gesê dat hulle al lankal bekommerd is oor die Afrikaanse geloofsgemeenskap se afsydigheid en gebrek aan deelname aan die politieke prosesse van ons land. Hy het ’n dringende oproep gedoen tot Afrikaanse gelowiges om weer voluit die verantwoordelikheid op te neem vir die herstel van ons land, ook op politieke gebied.

LEES OOK: Mbeki se 8 punte en 11 afgevaardigdes wys verskeidenheid by Wes-Kaapse sinodesitting 

Daar het ’n breë konsensus onder kerkleiers gegroei dat ons by ’n keerpunt in ons geskiedenis is. Daar is immers amper daagliks berigte van misplaaste besluite of onbeholpenheid aan die regering se kant. Dit is beslis nie die werk van die kerk om op elke politieke gebeurtenis te reageer nie. Maar die kerk kan ook nie langer swyg terwyl werkloosheid verwoesting veroorsaak nie, kinders nie skoolgereed is nie, en gesondheidsdienste op plekke ineenstort nie. Hoe bly ons stil oor die sorgwekkende deursettingskoers van Gr 1 tot 12 van die klas van 2022? Van die 1 177 089 Gr 1-leerders wat in 2011 ingeskryf het vir skool, het ongeveer 750 000 aangemeld vir die 2022 matriekeindeksamen. Honderde duisende het langs die pad uitgeval uit die stelsel. Kan ons langer swyg oor die redes vir lae verbruikers- en beleggersvertroue in Suid-Afrika? Hoe bly ’n kerk stil as die moord- en verkragtingsyfer lyk soos ons s’n? Hoe bly ons stil as die staatsbefondsing van die nie-regeringsektor se maatskaplike dienste net gestaak word, of net nie aangepas word om tred te hou met stygende kostes nie? Elke jaar is die regering se bydraes minder werd. Dit, terwyl ons die staat se verantwoordelikheid teenoor sy burgers help nakom. En hoe sterk moet ons protesteer as die regering nie sy eie beloftes nakom oor die maatreëls wat getref sal word met betrekking tot die Zondo-verslag nie? Wat sê ons oor die berigte van die kwaadwillige infiltrasie van die veiligheidsdienste? Hoeveel woorde moet ons gebruik om uit te roep teen ’n regering wat Rusland ondersteun terwyl dit ’n onwettige oorlog voer teen ’n soewereine land, duisende bejaardes en kinders sterf en ’n land beroof word van sy vryheid? Oor hierdie dinge móét ons nou praat, uitroep, protesteer, getuig, want die Woord van die Here praat profeties oor sistemiese en persoonlike verontregting, magsmisbruik en die vertrapping van die aansprake van die armes en gemarginaliseerdes. Ons moet dit doen van ons kansels en ons moet daaroor praat in die media en ander forums. Ons moet soos Christene daaroor praat, met waardigheid en respek, maar dringend en reguit.

LEES OOK: Cas Wepener: Skeppende soeke na taal oor God ‘sodat ons oë nuut kan kyk’

Oor ’n jaar van nou af is daar ’n algemene verkiesing. Die arm mense, en die kinders en die jongmense van ons land kan nie nog vyf jaar van swak regering bekostig nie. Ons, die lidmate van die NG Kerk, sal by die stembus ’n verskil moet maak. Ons sal mense in ons invloedsfeer moet help om te registreer. Lae stempersentasies bevoordeel meestal die regerende party. Ons sal moet deelneem aan plaaslike politieke debatte en strukture. Ons sal moet help waak oor die regverdigheid van die verkiesing. Ons sal dit alles moet doen terwyl ons ook help bou aan versoende verhoudings oor grense van ras en taal en ekonomie heen. Ons het mekaar nou nodiger as ooit. Ons sal dit biddend moet doen. Ons krag en hoop is immers te vind in die heerskappy van Christus wat oor alles en almal regeer. En die styl waarmee ons dinge doen is immers om dit in gelykvormigheid aan Christus, ons Koning en Here, te doen.

  • Ds Nelis Janse van Rensburg is predikant van die NG Gemeente Welgemoed en moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.