Marinus Theron as nuwe moderator verkies
Ds Marinus Theron is Maandagmiddag verkies as nuwe voorsitter (moderator) van die Sinode van Wes-Kaapland op die eerste dag van die NG Kerk se grootste streeksinode se vierjaarlikse saamtrek.
Theron neem die leisels oor by ds Nelis Janse van Rensburg wat na twee termyne as voorsitter moet uittree. Theron is predikant by Stellenbosch-Wes en was dienende skriba van die sinode.
Voor die meer as 600 afgevaardigdes per geslote stembrief vir ’n nuwe voorsitter kon stem het Janse van Rensburg die vergadering herinner aan die konteks waarbinne hierdie 49ste streeksinodesitting van die Wes-Kaaplandse 228 gemeentes geskied. Hy het onder meer gesê dat hierdie ’n “slegte plek in die land se geskiedenis is. Baie beleef dit aan ons lyf … gebeure rondom korrupsie, loadshedding, moord en doodslag …
Binne hierdie konteks is die vraag soos verwoord deur Janse van Rensburg, “of ons as kerk ’n getuienis kan vind wat lewegewend is en ’n verskil maak”.
Gasspreker: Moeletsi Mbeki se 8 prioriteite

Hoekom is Suid-Afrika so ’n probleemryke staat? Dit was die vraag wat die politieke ekonoom mnr Moeletsi Mbeki moedig aangepak het in sy bydrae as tweede gasspreker (naas Thabo Makgoba) op Maandag met ’n bespreking van die opkoms en ondergang van nasionalisme die afgelope eeu. Hy het die stand van die swart middelklas bespreek, probeer sinmaak hoe Suid-Afrika die land met die hoogste moordsyfer geword het van enige land wat nie amptelik oorlog voer nie en agt fokusareas bespreek wat hy glo aandag moet geniet om die situasie te beredder. Hy het die rol en deelname van die kerk in hierdie proses beklemtoon.

Nog stemme: ‘Ek is geroep en ek hoort hier’
Besprekings by die sinode sal in sewe temas val, waaronder sosio-maatskaplike werklikheid en diversiteit. Tydens die verwelkoming op Dag Een was daar ’n “ritueel” wat “eenheid in verskeidenheid vier,” het ds Elmarié Dercksen, verantwoordelik vir die spiritualiteit van die sinode, aan Kerkbode verduidelik. Elf afgevaardigdes is gevra om iets van hulleself te sê, wat hulle verteenwoordig.
